​​​​​​​

Taal by die Universiteit Stellenbosch

By die Universiteit Stellenbosch (US) omarm ons die diversiteit van ons samelewing en die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit gevestig is. Deur die implementering van ons Taalbeleid (2016) skep die Universiteit Stellenbosch geleenthede vir die bevordering van meertaligheid in akademiese en sosiale ruimtes om billike toegang tot ’n universiteitsopleiding te vergroot; om ’n inklusiewe kampuskultuur te kweek; en om studentesukses te ondersteun.

Ons verbintenis tot meertaligheid sluit alle tale in, met ’n fokus op die drie oorheersende tale wat in die Wes-Kaap gebruik word. Ons studente ontwikkel die eienskappe van ’n gegradueerde deur blootstelling aan meertaligheid en respek vir mekaar se kulturele erfenis en taal in ons daaglikse interaksies op ons kampusse. Hierdie eienskappe omvorm hulle in betrokke burgers met die vaardighede en ingesteldhede om medeskeppers van samehorige en verdraagsame gemeenskappe in ons diverse samelewing te wees.

Ons is vol vertroue dat studente van die Universiteit Stellenbosch wyer keuses, breër toegang en ’n beter toekoms danksy ons benadering tot taal het.

Taalbeleidshersiening > 2016 Taalbeleid >

Artikels oor taal by die US

Vat hande oor taal
31 Augustus 2021
Mening - Wie vind dan regtig baat?
30 Junie 2021
Kan ons asseblief konsekwent wees oor taal?
28 Junie 2021
Menseregtekommissie: US-personeel en studente getuig
17 Junie 2021
Geen opdrag om Afrikaans by die US te verbied nie, bevind Deloitte
14 June 2021
Groter toegang en ʼn beter toekoms danksy US-benadering tot taal, sê rektor ​
10 Mei 2021

Mediaverklarings en -antwoorde

Gereelde vrae: Taal by die Universiteit Stellenbosch

Die doel van die US se Taalbeleid is om uitvoering te gee aan artikel 29(2) van die Grondwet wat betref taalgebruik in die Universiteit se akademiese, administratiewe, professionele en sosiale omgewings. Die Taalbeleid beoog om billike toegang tot die US vir alle studente en personeellede uit te brei, pedagogies verantwoordbare onderrig en leer te fasiliteer, en meertaligheid te bevorder. Aangesien ons kampusse in die Wes-Kaap geleë is, verbind ons onsself tot meertaligheid deur die provinsie se drie amptelike tale – Afrikaans, Engels en Xhosa – te gebruik.

Die Taalbeleid (2016) van die US word in 2021 hersien as deel van die vyfjaarhersieningsiklus wat die beleid self voorskryf. Die huidige beleid is in 2017 geïmplementeer. Artikel 10 van die beleid bepaal dat dit “vyf jaar ná die implementeringsdatum” verval en dus “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar” hersien moet word.

Die hersieningsproses is in Oktober 2020 van stapel gestuur deur ’n taakspan saam te roep en ’n tydlyn op grond van die Universiteitsalmanak vir 2021 voor te stel. Die Raad het die tydlyn en projekplan op 1 Desember 2020 goedgekeur. Die bedoeling is om op 2 Desember vanjaar ’n finale konsep van die Taalbeleid (2021) vir goedkeuring aan die Raad voor te lê. (Klik hier vir verdere inligting oor die proses.)

Die hersiening maak deel uit van ’n proaktiewe vyfjaarhersieningsiklus wat in Oktober 2020 begin het.

Die US se Statuut (2019) skryf voor dat die Raad die taalbeleid van die instelling moet bepaal, met die instemming van die Senaat, en ooreenkomstig artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys 101 van 1997, soos gewysig.

Meertaligheid is belangrik vir die US. Ons het meertaligheid gekies omdat ons, as ’n instelling, die diversiteit van ons samelewing – onder meer ons taaldiversiteit – sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit is, na waarde skat. Die US glo sy studente het meer keuses, groter toegang en ’n beter toekoms danksy hierdie benadering.

Afrikaans in die besonder het oor dekades heen ’n akademiese repertoire opgebou, waartoe die US beduidend bygedra het én aanhou bydra. Die benutting en uitbreiding van die akademiese potensiaal van Afrikaans is ’n manier om ’n groot en diverse gemeenskap in Suid-Afrika te bemagtig, en die US bly daartoe verbind. Die US bly dus toegewy aan die gebruik van Afrikaans saam met Engels as onderrigtale teen die agtergrond van inklusiwiteit en meertaligheid.

Die Universiteit gaan voort om die gebruik van Afrikaans te bevorder. Die Ton en Anet Vosloo-leerstoel in Afrikaanse Taalpraktyk is byvoorbeeld in 2020 tot stand gebring. Dié leerstoel in die Departement Afrikaans en Nederlands is ’n kundigheidsentrum vir die wetenskaplike studie van vertaling, tolking en redigering. Die navorsingsfokus van Afrikaanse taalpraktyk help bou Afrikaans as wetenskapstaal uit.

Die US bied ook aansienlike bystand aan die Woordfees, een van die grootste Afrikaanse feeste in die land, sowel as aan die Woordeboek van die Afrikaanse Taal (WAT).

Ja. Sowel Afrikaans as Engels is leer-en-onderrigtale aan die US. Die US ondersteun die akademiese gebruik van hierdie tale deur ’n kombinasie van gefasiliteerde leergeleenthede vir studente, wat lesings, tutoriale en praktiese sessies insluit, sowel as leersteun wat met behulp van tegnologie gefasiliteer word. Elke fakulteit stel jaarliks ’n Taalimplementeringsplan op wat die taalopsies vir elke module aandui.

Nee. Die gebruik van Afrikaans en ander Suid-Afrikaanse tale in die US se koshuise en sosiale omgewings is sedert 5 Maart 2021 in die nuus, toe bewerings van ’n ‘slegs Engels’-beleid in sekere koshuise aan die lig gekom het. Die Universiteit het die aantygings ondersoek en ook ’n onafhanklike ondersoek deur Deloitte aangevra.

Deloitte het tot die gevolgtrekking gekom dat Afrikaans geensins in US-koshuise belet of verbied word nie. Daar is nie ’n slegs Engels-beleid in koshuise nie, en studente behoort nie verbied te word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Die Universiteit sal dit nie goedkeur nie, want dit is strydig met ons Taalbeleid, visie en waardes.

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) ondersoek ook die saak. Vir die jongste nuus in dié verband, klik hier.

Ja. Die US het reeds in sy terugvoer op die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) se Konseptaalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings van 2018 aangedui dat hy sterk ten gunste is van die siening dat Afrikaans inheems is. Ons het ook die saak onder Universiteite Suid-Afrika (USAf) se aandag gebring omdat alle universiteite die implikasies van die nuwe raamwerk sal moet in ag neem.

Die US bly verbind tot Afrikaans as inheemse taal as deel van inklusiewe meertaligheid. Die Raad het by sy vergadering op 21 Junie 2021 die volgende mosie oor inheemse tale aanvaar: “Die US het met besorgdheid kennis geneem van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se klassifikasie in die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinrigtings (2020). Die US steun die siening dat Afrikaans en die Khoe- en Santale inheemse tale is. Die Raad het die US se bestuur versoek om die nodige stappe te doen om met die DHOO in gesprek te tree om die kwessie aan te spreek.”

Nee. Die US bly toegewy aan die gebruik van Afrikaans saam met Engels as onderrigtale teen die agtergrond van inklusiwiteit en meertaligheid.

Voorgraadse studente wat nie vlot is in Engels nie, kan kies om Afrikaanse klasse by te woon in modules wat in parallelmedium aangebied word. Studente het ook verskeie taalondersteuningsmeganismes tot hulle beskikking, onder meer dié van die US Taalsentrum. Akademiese geletterdheid en taalondersteuning is boonop in die modules van sekere programme ingebou, en dosente doen werklik moeite om studente so ver moontlik te help.

Daarbenewens het die onderrigmodel heelwat verander. Die US volg ’n leergerigte benadering tot onderrig. So ’n benadering beskou leer as ’n vennootskap, en studente as medeskeppers van kennis en leeromgewings. Met ’n leergerigte benadering werk onderrigaktiwiteite kennisbou in die hand, en word studente by hulle eie leer betrek. In plaas daarvan dat inligting bloot in een rigting oorgedra word, word lesings al hoe meer gebruik vir die ontwikkeling van insig in, en vir die toepassing van, kennis deur middel van gesprek, wat in meer as een taal kan geskied. Lesings word ook aangevul met tutoriale en ander leergeleenthede, waarvoor studente dikwels hulle voorkeurtaal gebruik.

Vraestelle vir toetse, eksamens en ander summatiewe assesserings in voorgraadse modules is in sowel Afrikaans as Engels beskikbaar. Studente kan alle assesserings in Afrikaans of Engels beantwoord en ook alle skriftelike werk in enige van die twee tale indien.

In nagraadse leer en onderrig, wat finalejaarmodules op NKR-vlak 8 insluit, kan enige taal gebruik word, met dien verstande dat alle betrokke studente vaardig genoeg is in daardie taal.

’n Vergelyking tussen die 2021-voorgraadse verspreiding van studente se huistaal en dié van 2017, toon ’n toename van twee persent in beide Engels en ander amptelike landstale van Suid-Afrika, maar Afrikaans het egter met vyf persent afgeneem. Die 2021-verspreiding is soos volg: 48,7% (47,8% in 2017) dui Engels aan as hul huistaal; 37,4% (42,4% in 2017) Afrikaans en 6,8% (4,9% in 2017) ander amptelike landstale, met die oorblywende 7,1% (4,9% in 2017) wat ’n internasionale taal as hul huistaal aangedui het.

Engels as voorkeurtaal vir voorgraadse studente vir leer en onderrig het van 68,2% in 2017 tot 80,8% in 2021 gestyg. In 2021 het amper 100% van alle voorgraadse studente met ’n huistaal anders as Afrikaans, asook 49,5% voorgraadse studente met Afrikaans as huistaal, Engels as hul voorkeurtaal vir leer en onderrig verkies.

In 2021 het amper 100% van alle swart en Indiër-/Asiër-studente, asook 80,7% bruin en 73,8% wit voorgraadse studente, Engels as hul taal van leer en onderrig verkies.

In 2017 het sowat ’n kwart van alle voorgraadse studente en nuweling-eerstejaarstudente met Afrikaans as huistaal Engels as hul voorkeurtaal vir leer en onderrig verkies. Teen 2021 het hierdie verhouding tot amper die helfte in albei gevalle vergroot – 49,5% vir voorgraadse studente en 46,1% vir nuweling-eerstejaars.

Vanjaar (2021) het die Fakulteit AgriWetenskappe, Opvoeding en Teologie die grootste persentasie studente gehad wat Afrikaans as voorkeurtaal vir leer en onderrig verkies: tussen 35% en 39%. Altesame 26,2% van die voorgraadse studente in die Fakulteit Ingenieurswese verkies Afrikaans. In die oorblywende fakulteite verkies minder as 20% van die voorgraadse studente Afrikaans as hul voorkeurtaal vir leer en onderrig.

As ’n ontluikende formele akademiese taal, ontvang Xhosa besondere aandag met die oog daarop om dit geleidelik in uitgesoekte dissiplinêre domeine bekend te stel. Hierdie domeine word na gelang van studentebehoeftes geprioritiseer deur middel van ’n goed beplande en stelselmatige proses.

Die US se Departement Afrikatale het uitgebreide ervaring in gevorderde taal- en taalkundige onderrig en navorsing. Hulle akademiese rol en leierskap sal voortaan ten volle benut word. Xhosa word reeds in sekere programme gebruik om doeltreffende leer en onderrig te fasiliteer, veral waar dit dalk belangrik is vir loopbaandoeleindes. Die US is daartoe verbind om die gebruik van Xhosa uit te brei so ver dit redelikerwys uitvoerbaar is. Voorbeelde van bestaande inisiatiewe in dié verband sluit in kortkursusse oor basiese Xhosa-kommunikasievaardighede vir personeellede en studente, loopbaanspesifieke kommunikasie in Xhosa, dissiplinespesifieke terminologielyste (sowel gedruk as mobiele toepassings) en taalgidse.

Die US se mediese studente ontvang byvoorbeeld onderrig in beroepsgerigte kommunikasie in Afrikaans en Xhosa. Die Fakulteit Opvoedkunde het soortgelyke modules. Die Fakulteit Teologie bied ’n module in Xhosa aan, wat in Afrikaans en Engels getolk word. Daar word ook uitstekende werk gedoen in die Verlengde Graadprogram in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, waar Xhosa- (en ander) tolking gebruik word as een van die Fakulteit se inisiatiewe om meertaligheid te bevorder.

Daarbenewens vertaal die Taalsentrum podsendings in Xhosa.

Indien die aangeleentheid met implementering deur ’n fakulteit verband hou, kan klagtes ooreenkomstig die betrokke fakulteit se appèl-/ klagteprosedure ingedien word. By gebrek aan so ’n prosedure moet klagtes ingedien word by (in hierdie voorkeurorde) die betrokke personeellid, die departementele voorsitter of departementshoof, of die dekaan. Klagtes wat nie bevredigend op fakulteitsvlak opgelos word nie en met akademiese omgewings verband hou, kan via die Akademiese Belangeraad vir Studente na die Akademiese Beplanningskomitee (ABK) verwys word. Indien die ABK dit nie kan oplos nie, sal die ABK die aangeleentheid tesame met ’n aanbeveling na die Senaat verwys.

Indien die klagte met implementering deur ’n steundienste-omgewing verband hou, kan dit by die hiërargie van lynbestuurders in daardie omgewing ingedien word, of, in geval van die groter Universiteit, by die Rektoraat via die dagbestuur van die Studenteraad.

Wat implementering in studenteleefomgewings betref, kan klagtes by die huiskomitee of die inwonende hoof ingedien word. Indien die koshuis of privaatstudentewyk nie ’n klagte bevredigend kan oplos nie, kan die student dit na die senior direkteur van Studentesake verwys.

Indien die gebruik van die klagteprosedures hierbo nie gepas is nie, kan klagtes by die US Ombud ingedien word, wat die saak in oorleg met die betrokke US-omgewings sal besleg.

Indien die aangeleentheid met implementering deur ’n fakulteit verband hou, kan klagtes ingedien word by (in hierdie voorkeurorde) die betrokke departementele voorsitter of departementshoof, of die dekaan.

As dit met implementering deur ’n steundienste-omgewing verband hou, kan klagtes by die hiërargie van lynbestuurders in daardie omgewing ingedien word, of, in geval van die groter Universiteit, by die Rektoraat via die Viserektor: Leer en Onderrig.

Indien die gebruik van die klagteprosedures hierbo nie gepas is nie, kan klagtes by die US Ombud ingedien word, wat die saak in oorleg met die betrokke US-omgewings sal besleg.

Omvattende moniterings-, verslagdoenings- en oorsigmeganismes is in plek en fakulteite en professionele en administratiewe steundienste (PASD) verskaf gereelde terugvoer aan die Senaat en Raad. Verskeie opnames onder studente en personeel het almal ’n groot waardering vir en tevredenheid met die implementering van die Taalbeleid getoon. Dit beteken nie alles was altyd perfek nie. Uitdagings wat na vore gekom het, is aangespreek. Die huidige hersiening van die Taalbeleid bied ook ’n geleentheid om verdere verbeterings aan te bring.

Die US se belegging in meertaligheid is aansienlik, met R45 miljoen wat vir die implementering van die huidige meertalige Taalbeleid in 2021 begroot is. Dit sluit nie die geld in wat fakulteite en administratiewe en steundienste-omgewings aan bykomende taalondersteuning spandeer nie. Hierdie direkte belegging maak 0,7% van die US se totale geïntegreerde begroting uit.

’n Bykomende sowat R90 miljoen (professionele en administratiewe steundienste, asook akademiese personeel) word by die institusionele koste van meertaligheid gevoeg in die vorm van implisiete personeelverwante kostes (bv vir die vertaling van lesingmateriaal, eksamenvraestelle, verslae, aanbiedings, e-posse, ens).

Die diskresionêre gedeelte van die US se hoofbegroting – dit is geld wat nie verbind is tot die diens van verpligte uitgawes (bv salarisse) nie en wat op ’n jaarlikse grondslag toegeken word – beloop R318,5 miljoen. Die taalimplementeringsbegroting vir 2021 maak 14% van die totale diskresionêre fonds in die hoofbegroting uit.

Indien die US ’n eentalige Engelse universiteit was, sou hierdie onkostes nie nodig gewees het nie. Meertaligheid is ’n duur keuse met besliste uitdagings en gekompliseerdhede, maar dit is ’n doelbewuste keuse met spesifieke institusionele doelwitte en uitkomste.

​​​​