Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Intydse aanlyn tolking lei tot inklusiewe en betrokke leer
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 28/09/2021

*Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid skep, bied die Afdeling Leer- en Onderrigverryking op 30 September 'n Taaldagkonferensie aan. As deel van hierdie viering van meertaligheid, vestig ons die aandag op van die projekte wat die Universiteit Stellenbosch Taalsentrum onderneem. 

Weens die impak van COVID-19 op die hoër onderwys, en met die implementering van aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (ARTLA) by die Universiteit Stellenbosch (US), is 'n verskeidenheid akademiese steuninstrumente vir US-personeel en -studente bekend gestel. Een so 'n instrument is intydse aanlyn tolking, 'n inisiatief van die US Taalsentrum om die Universiteitsgemeenskap van toegewyde taalsteun te voorsien. 

Die inisiatief, wat deel uitmaak van die aanbod van die Taalsentrum se Tolkdiens, voorsien intydse aanlyn tolking van lesings in Afrikaans, Engels, Xhosa en Suid-Afrikaanse Gebaretaal via die MS Teams-platform. Die Tolkdiens het teen die middel van September, die einde van die derde kwartaal, reeds 822 lesings vir die akademiese jaar 2021 getolk. Modules wat tans met hierdie soort tolking ondersteun word, is in die fakulteite Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, en Ingenieurswese. 

“Intydse aanlyn tolking hou etlike voordele in, onder meer dat studente uit alle taalomgewings toegang ontvang tot dieselfde kursusmateriaal, op dieselfde tyd, in hulle voorkeurtaal," sê Juanli Theron, hoof van die Tolkdiens. “Lesings word ook met dosente se toestemming opgeneem, wat beteken studente het aan die einde van die lesing toegang tot 'n opname van alle taalopsies." 

Positiewe ervaring 

Theron sê dosente wat hulle by die intydse aanlyn tolkingsgemeenskap aangesluit het, is oor die algemeen baie positief oor die ervaring. “Verandering is altyd moeilik, en ons moet ook in gedagte hou dat dosente sedert die begin van 2020 met soveel verskillende veranderinge en uitdagings te doen gekry het. Die bekendstelling van intydse aanlyn tolking was net nóg iets nuuts om te hanteer. Maar ons vind die dosente wat hierdie onderrigmetode begin gebruik het, is baie positief oor die resultate." 

Party dosente was aanvanklik huiwerig om van die intydse aanlyn tolkingsdiens gebruik te maak, want hulle het gedink dit sou hulle reeds aansienlike werklas net nog swaarder maak, sê sy. Maar ná 'n demonstrasie het hulle gou besef dat dit 'n gestroomlynde proses is. “Al wat hulle hoef te doen, is om twee of drie parallelle sessies vir hulle lesing te reël, en te sorg dat die tolke na al die sessies genooi word," verduidelik Theron. “Tolke woon dan die Engelse sessie by om na die lesing te luister, en gebruik een van die alternatiewe taalsessies om 'n Afrikaanse of Xhosatolking te voorsien. Die studente kan dan kies watter sessie hulle wil bywoon. Tolke vertoon ook die skerm van die Engelse sessie, so Afrikaanse en Xhosastudente sien presies dieselfde as Engelse studente, hoewel hulle na 'n ander stem luister." 

Verskeie voordele 

Prof Pierre Erasmus, 'n dosent in die Departement Ondernemingsbestuur, het in twee van sy derdejaarmodules in Finansiële Bestuur van intydse tolking gebruik gemaak. “Dit was van onskatbare waarde," sê hy. “Weens die beperkings op lokaalkapasiteit, kon nie ál die studente wat vir my modules geregistreer is – sowat 350 per module – fisies klas bywoon nie. Ons moes dus die lesing regstreeks aanlyn uitsaai terwyl dit aangebied word, en dit ook opneem vir daardie studente wat nie die klas fisies kon bywoon óf die uitsending kon volg nie. Aangesien hierdie modules gewoonlik in parallelmedium aangebied word – tegelyk vir 'n Engelse en Afrikaanse groep – het ons ten minste twee dosente nodig gehad om vir die twee groepe klas te gee. 

“Maar my kollega wat gewoonlik vir die een groep klas gee, was in die eerste semester met kraamverlof, so ons het nie die vermoë gehad om twee gelyklopende lesings in Afrikaans en Engels aan te bied nie. Aangesien intydse aanlyn tolking my in staat gestel het om sowel die Afrikaanse as Engelse studente tegelyk te bereik, het dít die tyd wat ek daaraan sou moes bestee om elke lesing 'n tweede keer aan te bied drasties verminder," sê Erasmus.

Hy voeg by: “Die grootste voordeel vir my was dat ek slegs een lesing kon aanbied, en alle studente het toegang gehad tot dieselfde lesing, op dieselfde tyd. As ek lesings vir die Afrikaanse groep sou moes herhaal, sou studente in die een taalgroep die klasbesprekings en vrae in die ander groep misgeloop het. So, buiten die tydsbesparing, het dit ook gesorg dat alle studente dieselfde ervaring en behandeling ontvang."

“'n Bykomende voordeel vir studente was om toegang tot sowel 'n Afrikaanse as Engelse opname van elke lesing te hê, waarna hulle kon kyk wanneer hulle ook al wou," verduidelik Erasmus verder. “Van ons Afrikaanse studente woon die Engelse klasse by en kies om hulle assesserings in Engels af te lê. Hierdie studente kon dus nou na 'n Afrikaanse én Engelse weergawe luister en tussen die twee oorslaan as hulle dalk gesukkel het om 'n konsep te verstaan." 

Bykomende meertalige steun 

Toe die pandemie en die algehele inperking in 2020 dringende en byna onmiddellike veranderinge vereis het om studente te bereik, het die Tolkdiens boonop oudiovertalings (podsendings) van lesingmateriaal – hetsy PowerPoint-skyfies of SUNLearn-inhoud – in Afrikaans en Engels bekend gestel. Hulle het ook podsendings in Xhosa voorsien waar daar 'n pedagogiese behoefte was. Meer as 1 250 podsendingsvertalings is sedertdien vervaardig. 

Dr Sharon Malan, leier van die Verlengde Graadprogram in die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het van hierdie diens gebruik gemaak om die PowerPoint-aantekeninge van haar module in Afrikaans te laat vertaal, en om Afrikaanse oorklankings (of podsendingsvertalings) te vervaardig. “Dit het my tyd gespaar, en my studente kan nou vryelik gebruik maak van die lesingmateriaal wat in sowel Engels as Afrikaans beskikbaar is, na gelang van wat hulle nodig het," sê sy. 

“Podsendingsvertalings was baie gewild in 2020, juis omdat dit so nuttig was – dosente was dankbaar vir die geleentheid om meertalige lesings vir hulle studente te kon aanbied sonder dat hulle enige ekstra moeite hoef te doen," verduidelik Theron. “Hulle het ons bloot met hulle oudio-opnames en lesingmateriaal gekontak, en ons sou dan oor 'n leweringsdatum ooreenkom. Oudiovertalings word meestal oor WeTransfer versend. Hierdie dataligte podsendings het in die tyd van noodafstandsonderrig, -leer en -assessering (ERTLA) 'n kernrol vervul, deels as 'n beleidsbestuursoplossing, maar ook as 'n waardevolle pedagogiese hulpbron vir aanlyn leer." 

Sy sluit af: “Met die verskuiwing na ARTLA vanjaar is lesingopnames steeds 'n belangrike deel van studente se gedifferensieerde leerervaring. Gehalteversekering is dus nou selfs noodsaakliker, en daarom sluit ons samewerkingspogings om die gehalte van vertaalde podsendings na te gaan nou nog méér dosente en vakgebiede in."