Parkering

Die Universiteit Stellenbosch bied parkering op universiteitsgronde aan personeel, studente en besoekers binne die konteks van die US se Parkeerbestuurstelsel. Hierdie stelsel maak voorsiening vir gedifferensieerde parkering ten einde die beperkte parkering optimaal te kan benut op sentraalkampus.

LW. Registrasie van ’n motorvoertuig en die betaling van ’n parkeertarief waarborg nie ’n parkeerplek nie, maar verseker slegs die reg tot toegang tot die betrokke soort parkeerplek op ’n “eerste kom, eerste gehelp” basis.


Bepalings en voorwaardes (US Parkeerreëls en -regulasies)

1. Indien studente of personeel met ’n privaat motorvoertuig of ’n universiteitsvoertuig op Universiteitsgronde wil parkeer, moet sodanige voertuig elektronies by die aangewese Universiteitsafdeling geregistreer wees.
2. Indien noodsaaklik vir bedryfsredes, soos tydens onderhoud of bouprojekte of geleenthede soos Woordfees, mag toegang tot sekere parkeerareas of gedeeltes van parkeerareas op kort kennisgewing beperk word. In gepaste gevalle sal die nodige alternatiewe reëlings getref word.
3. Tydens die elektroniese aansoek, of skriftelike aansoek (waar van toepassing):
  3.1 Bevestig die aansoeker dat hy/sy persoonlik aansoek gedoen het om toegang tot parkering op die gronde van Universiteit Stellenbosch.
  3.2 Gee die aansoeker toestemming dat die parkeertarief wat ooreenstem met die soort parkering wat aan hom/haar toegeken is,
    3.2.1 Vir personeel maandeliks van sy/haar salaris verhaal mag word.
    3.2.2 Vir studente via hul studenterekening verhaal mag word.
    3.2.3 Per kaart inbetaal sal word by die US kassiere, slegs indien elektroniese verhaling nie moontlik is nie.
  3.3 Onderneem die aansoeker om die reëls van toepassing op Universiteitsparkering, soos uiteengesit in die Bepalings en Voorwaardes, te gehoorsaam.
  3.4 Aanvaar die aansoeker dat, ten einde die optimale benutting van parkering te bevorder, sal daar vir sekere soorte parkeerplekke meer per area geallokeer word as wat daar parkeerplekke beskikbaar is. Vir daardie soort parkering geld die beginsel van “eerste kom, eerste gehelp”. Dit beteken dat registrasie van ’n motorvoertuig en die betaling van die parkeertarief nie noodwendig ’n parkeerplek waarborg nie. Sien Soorte parkering vir meer inligting hieromtrent.
  3.5 Aanvaar die aansoeker dat hoewel hy/sy addisionele parkeerskyfies mag ontvang, dit slegs ’n reëling is om die identifisering van voertuie moontlik te maak en nie die aansoeker magtig om meer as een voertuig gelyktydig op universiteitsgronde te parkeer nie.
  3.6 Aanvaar die aansoeker dat ’n gebrek aan parkering hom/haar nie magtig om parkeerreëls en -regulasies te oortree nie en dat ‘n aansoeker se oortredingsrekord in aanmerking geneem sal word wanneer hy/sy om toegang tot parkeerplek aansoek doen.
  3.7 Aanvaar die aansoeker verantwoordelikheid vir die betaling van enige boetes wat gehef mag word weens sy/haar oortreding van hierdie reëls.
  3.8 Aanvaar die aansoeker dat die valbome en ander maatreëls wat getref word, getref word vir toegangsbeheer alleenlik, en nie vir sekuriteit nie, en dat, hoewel die US Kampussekuriteitspersoneel het, dit nie veiligheid waarborg nie.
  3.9 Aanvaar die aansoeker dat voertuie op eie risiko op Universiteitsgronde geparkeer word en dat die Universiteit nie aanspreeklik gehou kan word vir enige skade aan of diefstal van ’n voertuig, of enige verlies wat vloei uit die skade of diefstal, terwyl dit op Universiteitsgronde geparkeer is nie. Die enigste uitsondering is waar die skade of verlies direk veroorsaak is deur onveilige of defektiewe toerusting of eiendom wat deur die US voorsien is. Met ander woorde, slegs eise wat binne Artikel 61 van die Wet op Verbruikersbeskerming (Wet 68 van 2008) val, kan ingestel word.
4. ’n Parkeerskyfie word uitgereik vir elke suksesvolle aansoek. Hierdie skyfie:
  4.1 Moet ten alle tye op die motorvoertuig se voorruit vertoon word as bewys van die ooreenkoms tussen die US en die skyfiehouer.
  4.2 Is slegs geldig vir die jaar wat op die skyfie aangedui word.
  4.3 Gee die skyfiehouer slegs toegang tot die soort parkeerplek (gereserveerd, nie-gereserveerd, algemeen, gestremd) en spesifieke parkeerarea(s) waartoe die skyfiehouer gemagtig is.
  4.4 As jy nie jou parkeerskyfie binne ‘n maand ontvang na ’n parkeerplek aan jou toegewys is nie, is dit jou verantwoordelikheid om dit met jou kampus se Parkeerkoördineerder op te volg.
5. Boetes sal gehef word vir enige ongemagtigde parkering. Ongemagtigde parkering behels onder meer:
  5.1 Parkering op universiteitsgronde van enige voertuig wat nie vir toegang geregistreer is en die korrekte parkeerskyfie vertoon nie.
  5.2 Parkering op enige parkeerplek waarvoor die parkeerskyfiehouer nie geregistreer is nie.
  5.3 Parkering wat enige nasionale of plaaslike verkeerswette of -regulasies oortree, bv. parkering op ’n rooi streep, of parkering wat toegang tot ’n brandkraan versper, ens.
6. Indien ’n skyfiehouer herhaaldelik oortree, mag sy/haar toegang tot universiteitsparkering tydelik of permanent opgeskort word, benewens enige ander strawwe of boetes wat deur ’n gemagtigde owerheid uitgereik mag word.
7. Tydens die registrasie van universiteitsvoertuie vir toegang tot parkering op universiteitsgronde:
  7.1 Bevestig die aansoeker dat hy/sy gemagtig is om namens die betrokke afdeling die voertuig of voertuie te registreer vir toegang tot parkering op die gronde van die Universiteit Stellenbosch.
  7.2 Onderneem die aansoeker dat die bestuurder(s) van die voertuig of voertuie die reëls van toepassing op Universiteitsparkering, soos uiteengesit in die Bepalings en Voorwaardes sal gehoorsaam.
  7.3 Aanvaar die aansoeker namens die betrokke afdeling verantwoordelikheid vir die betaling van enige boetes wat gehef mag word weens oortreding van hierdie reëls deur enige van hul bestuurders.