​​​​Welkom by die US.jpg

SU_Slogan_horizontal_gold_RGB-01.jpg​​

Die Universiteit Stellenbosch (US) is ten volle verbonde tot die strewe na kennis, navorsing en innovasie in diens van die samelewing. Ons bied ’n sentrum vir leer en ontwikkeling wat van wêreldgehalte en globaal relevant is, maar is terselfdertyd ten volle toegewy aan die opheffing en transformasie van ons plaaslike gemeenskappe. Ons word in alles wat ons doen, gelei deur sleutelwaardes en eienskappe, in staat gestel deur uitmuntende personeel en studente, gesonde bedryfstelsels en ’n diep begrip van ons doelstelling. Die US is die tuiste van ’n akademiese gemeenskap van ongeveer 32 500 studente, insluitende meer as 3 700 buitelandse studente uit 104 lande. Die US het 4 658 permanente en vastetermyn-kontrakpersoneellede, met inbegrip van 1 393 akademici.

Ons tien fakulteite (AgriWetenskappe, Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, Ingenieurswese, Krygskunde, Lettere en Sosiale Wetenskappe, Natuurwetenskappe, Opvoedkunde, Regsgeleerdheid en Teologie), asook die Skool vir Klimaatstudie, die Skool vir Datawetenskap en Rekenaardenke en die Stellenbosch Bestuurskool is oor vyf kampusse in die Wes-Kaap in Suid-Afrika versprei. Volgens amptelike syfers wat die Departement Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO) in 2022 vrygestel het, is die US een van Suid-Afrika se top-drie navorsingsintensiewe universiteite per capita én ten opsigte van die instelling se algehele navorsingsuitsette.

 Die US spog nou met altesame 20 A-gegradeerde navorsers – die meeste nog – nadat die instelling nege nuwe A-graderings in 2021 ontvang het.​

​Ons is die tuiste van 44 navorsingsleerstoele, waarvan 23 deel uitmaak van die DWI-NNS SARChI-program en 21 te danke is aan skenkings en bedryfsfinansiering. Navorsingsleerstoele lewer ’n belangrike bydrae tot die US se navorsingsuitsette, impak en inkomste as ’n florerende navorsingsintensiewe instelling.

 Die aantal postdoktorale genote by die US het van 154 in 2012 toegeneem tot meer as 340 geregistreerde postdoktorale navorsingsgenote in 2022. ​ ​

Akademiese uitnemendheid en innovasie


Learning Centre.jpg

Die US is een van Suid-Afrika se beste tersiêre instellings gemeet aan navorsingsuitsette, studente-slaagsyfers en geëvalueerde wetenskaplikes, en geniet internasionaal erkenning as 'n uitnemende akademiese instelling. Die instelling spog met die hoogste geweegde navorsingsuitset per voltydse akademiese personeellid in die land​ en die tweedegrootste aantal wetenskaplikes in Suid-Afrika wat deur die Nasionale Navorsingstigting (NNS - National Research Foundation) geëvalueer is. 

Volgens die Times Higher Educations-wêreldranglys vir universiteit is die US een van die top-300 universiteite in die wêreld, terwyl dit in 24ste plek op die 2022 Times Higher Educations-ranglys vir ontluikende ekonomieë is. Die instelling is ook onder die keur van die wêreld se instellings in 20 van die 54 vakke wat deel uitmaak van die Quacquarelli Symonds (QS)-wêreldranglys vir universiteite per vak vir 2023. Die US verskyn ook op die CWTS Leiden-ranglys vir 2022 – ’n maatstaf wat die wetenskaplike prestasie van 1 318 groot universiteite wêreldwyd meet. 

Met 18 navorsingsleerstoele van die NNS se
South African Research Chairs Initiative (SARChi)  word die universiteit as 'n leier beskou in onder meer biomediese tuberkulose, wynbiotegnologie, veekundige wetenskappe en wiskundige biowetenskappe. Nog 'n SARChi-leerstoel is gesamentlik aan die US en die Universiteit van Venda toegeken op die terrein van indringerbiologie. Dit is een van die US se talle Suid-Afrikaanse en internasionale vennootskappe, en as voorkeur-navorsingsgenoot is die US deel van talle internasionale akademiese netwerke.​​​

Fakulteite en Kampusse ​


SU Campus.jpg

​Die hoofkampus op die skilderagtige universiteitsdorp, Stellenbosch, in die hart van die Wes-Kaapse wynlande, is 'n groot trekpleister vir studente. Stellenbosch is ongeveer 50 kilometer vanaf Kaapstad en ongeveer 30 km van die Kaapstad Internasionale Lughawe.

Agt fakulteite is op die hoofkampus, met die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus teenaan die provinsiale hosptiaal, en die Fakulteit Krygskunde – enigste van sy soort in Suid-Afrika en een van net twee in Afrika – by die Suid-Afrikaanse Weermag se Militêre Akademie op Saldanha.  Die Universiteit Stellenbosch Bestuurskool (USB) en ander nagraadse bestuurs- en beplanningsprogramme van die Fakulteit  Ekonomiese en Bestuurswetenskappe word op die Bellvillepark-kampus gehuisves.

​​Die vyfde US-kampus, op Worcester, is in 2012 in gebruik geneem met die opening van die Ukwanda Landelike Kliniese Skool van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe. Studente in Geneeskunde en verwante gesondheidswetenskappe kry die geleentheid om hulle kliniese opleiding op 'n plattelandse platform te voltooi.  Dit is nog 'n voorbeeld van die US se baanbrekerswerk op die terrein van akademiese innovasie. Die kampus huisves ook elke jaar 'n nuwe groep skoolverlaters wat deelneem aan die Universiteit Stellenbosch se  Wetenskap- en Wiskunde-oorbruggingsprogram (SciMathUS). Die program bied vir studente van opvoedkundig-benadeelde gemeenskappe die geleentheid om toegang tot hoër onderwys te verkry.


Polsende studentegemeenskappe


MatiesShopVictoria-116 (1).jpg

Die US is  bekend as 'n  residensiële kampus met 'n aktiewe koshuislewe en daarom is koshuis-inwoning baie gewild onder studente. Omdat die vraag na koshuisinwoning die aanbod ver oorskry, en ook in ooreenstemming met nuwe leerbehoeftes, is die US besig om sy Stellenbosch-kampus in 'n geïntegreerde leer- en leefruimte te omskep. Koshuise en privaatwyke word in klusters gegroepeer, elkeen met sy eie klusterdorpie waar koshuisinwoners en dagstudente kan leer, vergader en kuier. Met die oprigting van nuwe geboue en ook waar bestaande geboue heringerig word, word studentgesentreerde fasiliteite geskep waar studente groepwerk kan doen, kan studeer en toegang kan kry tot die Universiteit se elektroniese netwerke.

Die US se gegradueerdes is  gesog  in die werkplek, maar sy oogmerk is ook om betrokke lands​burgers en verantwoordelike leiers op te lei, wat bereid is om hul kundigheid en vaardighede tot diens van die samelewing te stel. Daarom word studente aangemoedig om deur middel van MAD² (Maak Ander Lewens Makliker viA Liefdadigheid), en Matiegemeenskapsdiens, asook diensleer en gemeenskapsinteraksie binne hulle vakrigtings betrokke te raak. MFM 92.6, die Universiteit se gemeenskapsradiostasie, 'n groot verskeidenheid studente-verenigings en sportkodes, die Studenteraad, huiskomitees en die Frederik Van Zyl Slabbert Instituut vir Studenteleierskaps-ontwikkeling  bied verdere geleenthede vir persoonlike verryking.