Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Universiteit Stellenbosch se Impak op die Ekonomie

Die impak op die ekonomie van die Stellenbosch-streek deur die Universiteit Stellenbosch (US) word geskat op R5,6 miljard* in 2018.​

ʼn Onlangse studie deur die Buro vir Ekonomiese Ondersoek (BEO) aan die US het die omvang van die US se beduidende impak op die ekonomie van die Stellenbosch-streek bereken.

Van die bevindinge is:  

  • Die US se impak op die ekonomie is R5 644* miljoen oftewel 20% van die plaaslike ekonomie
  • Hiertoe dra studente 61% by, personeel 23%, krediteurbetalings (14%) en diverse betalings 2,5%
  • Meer as 15% van die produksie (of uitset) en meer as 18% van die bruto toegevoegde waarde in die plaaslike ekonomie, word gestimuleer deur die teenwoordigheid van die instelling.
  • Die US se spandering op krediteure in die plaaslike ekonomie beloop R352,38* miljoen
  • Die teenwoordigheid van die US genereer ook R1 108 miljoen in arbeidsvergoeding (wat neerkom op die skep van meer as 21% van die formele werkgeleenthede en 8,7% van die informele geleenthede).
  • Die US onderhou ook 13 406 werksgeleenthede (of voltydse werksekwivalente) in die plaaslike ekonomie
  • In wese kan dus bykans een vyfde van die ekonomiese aktiwiteit in die streek na die aktiwiteite van die Universiteit en sy mense teruggevoer word.


Die doel van die studie was om ʼn geloofwaardige evaluering en meting van die ekonomiese bydrae van die Universiteit tot die ekonomie van die Stellenbosse Munisipale gebied te gee.

Hoewel dit nie in geldelike terme gekwantifiseer kan word nie, kan die US ook as 'n ankerinstelling beskryf word, wat addisionele voordele vir die streek inhou. Voorbeelde hiervan is die navorsingsentrum STIAS, die Universiteit se tegnologie-oordragmaatskappy Innovus, Maties Sport en die US Woordfees. Die waarde van sulke instellings kan nie voldoende in die korttermyn-ekonomiese terme uitgedruk word nie. Hul waarde versprei veel verder in die breër gemeenskap en beïnvloed die aard van die omgewing en mense se lewens.

Daar is ook aansienlike ontasbare voordele om ʼn universiteit teenwoordig te hê, soos die bevordering van afwentel-maatskappye asook ander kulturele en sosio-ekonomiese voordele. Oor die algemeen strek die ekonomiese voordele van ʼn universiteit wyer as die primêre rol van kennissentrum en dryfveer van innovasie binne ʼn streek.

“Dit is duidelik dat dit uiters voordelig is om ʼn instelling soos die US in Stellenbosch te hê, dat dit verder strek as net die direkte ekonomiese voordele en die Stellenbosse gemeenskap aansienlik ophef en verbeter. Nie net is die Universiteit arbeidsintensief nie in die sin dat dit meer welvaart as sy relatiewe grootte skep nie, maar dit dien as katalisator om beleggers, entrepreneurs en sakeleiers te lok, terwyl dit ook aktief bydra tot Stellenbosch as Kundigheidsgebied. Wat egter net so belangrik is, is dat die studie toon dat die Universiteit inderdaad die soort universiteit is waarna die US streef: Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit wat wêreldwyd as inklusief en innoverend erken word, waar ons kennis in diens van die samelewing bevorder. "
Prof Stan du Plessis, Bedryfshoof

* Die navorsing is, is in 2017 gedoen en die werklike waardes van 2016 is gebruik. Om die randwaardes vir 2018 te bepaal, is 2017 se verbruikersprysindeks (VPI) tesame met BEO se beraamde VPI vir 2018 gebruik.



SU_Regional_Economic_Impact_infographic.jpg



Plaaslike Ekonomiese Impak - getalle


SU_Regional_Economic_Impact_infographic_detail.jpg