Choir
Welkom by Universiteit Stellenbosch

'n Ryke verlede

​​​​​​​​​​​​Vandag word die Stellenbosch Universiteitskoor internasionaal gevier en gereken. Die koor se oorsprong is egter net so nederig soos dié van die meeste kore in Suid-Afrika.

’n Groep sangliefhebbers, onder leiding van William Morris, het die koor in 1936 gestig.​

​​​

​​Die koor het egter gou ’n instelling geword en het onder leiding van prof. Gawie Cillié landswyd blootstelling gekry danksy gereelde radio-uitsendings en konserttoere. Die koor se ledetal het in hierdie tydperk gewissel tussen 150 en 200.  


Prof. Philip McLachlan, wat in 1956 leiding van die koor ​oorgeneem het, het die koor se ledetal tot 60 studente beperk weens die uitdagende standaard van die repertorium.​ Die lof wat die koor ingeoes het met uitvoerings in Wes-Duitsland, België en Portugal, tydens deelname aan ’n fees vir universiteitskore, getuig van die hoë gehalte. In 1976 het die koor Suid-Afrika verteenwoordig by die twaalfde kongres van die International Society of Music Education in Switserland en ’n aantal konserte in Engeland, Frankryk, België en Wes-Duitsland aangebied.


Pr​of. Johan de Villiers het in 1977 die vierde dirigent van die Universiteitskoor geword. Onder sy leiding het die koor gereeld oorsee getoer. Die koor is in 1983 uitgenooi om aan die European Week-konsertreeks in Passau deel te neem. In dieselfde jaar is die koor aangewys as algehele wenners van die SAUK-TV Koorkompetisie. 


Acáma Fick het in 1985 die dirigent van Stellenbosch se Universiteitskoor geword. In 1991 is ’n Europese toer met konserte in Luzern, Bonn, Parys, Antwerpen, Den Haag, St. Alban en Londen onderneem. Die volgende jaar is ’n CD van die oorsese toer vrygestel –  ’n eerste vir ’n Suid-Afrikaanse universiteitskoor. 

Sonja van der Walt het in 1993 leiding van die koor oorgeneem en hoofsaaklik op a cappella-werke begin fokus. Konserte is landswyd gegee, maar veral in die Wes-Kaap. Die koor is in hierdie tyd ook gereeld oor die radio gehoor. In Julie 1996 is nog ’n toer na Europa onderneem. Konserte is gehou in Wene, Salzburg, München en Praag, waarna die koor deelgeneem het aan ’n internasionale koorfees in Tabor in die Tjseggiese Republiek. Nuwe CD’s is in 1996, 1998 en 2000 vrygestel.​ Die ATKV Liertoekenning vir Beste groep is in 1999 aan die koor toegeken vir hulle vertolking van twee verwerkings deur Niel Pauw. In 1999 is die Universiteitskoor deur die Universiteitsraad ontbind. Ná hewige reaksie van koorlede, oud-koorlede, studente en die publiek, het die raad die besluit tydelik opgeskort. Druk van, onder andere, die media en invloedryke donateurs het die raad gedwing om sy besluit tydens ‘n noodvergadering te herroep. Aan die einde van 2000 is ’n nuwe konstitusie van die koor aan die raad voorgelê.


André van der Merwe het in 2003 die sewende dirigent van die Universiteitskoor geword. Onder sy leiding groei die koor se aansien verder en verower die koor talle nasionale en internasionale pryse. Die US Koor beklee reeds die afgelope ses jaar die nommereenposisie op Interkultur se wêreldranglys van ’n 1 000 amateurkantore.