Alumni
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Meer Oor

​​​Uitreik en kennismaking

Die Universiteit skakel tans met meer as 120 000 alumni en vriende wat oor die hele wêreld versprei is. Ons bied gereelde geleenthede aan – plaaslik en oorsee – waar alumni die geleentheid kry om op hoogte van die jongste nuus en ontwikkelinge in hul fakulteite te kom, terwyl hulle hul bande met die instelling verstewig.Geleenthede neem die vorm van netwerkonthale, geldinsamelings en stimulerende paneelbesprekings aan – elke geleentheid ʼn vertoonvenster van die uitnemendheid waarmee die naam Universiteit Stellenbosch al sinoniem geword het. Ons verleen ook steun aan fakulteits- en klasreünies sodat ou vriende en klasmaats hul bande kan hervat. Hierdie reünies sluit ook dié van koshuise en verenigings in. 

Kommunikasie

Daar is verskillende maniere hoe ons met jou kan kommunikeer. Sosiale netwerke is ʼn baie goeie manier om in kontak te bly – jy kan sit en gesels met iemand selfs al is hulle aan die anderkant van die wêreld. Behou die bande met jou intellektuele tuiste – raak aan die gesels op een van ons sosiale netwerke! Vir die jongste nuus en publikasies, besoek ons nuusblad.

Bestuur van vrywilliger​​s

Ons beplan om ons vrywilligerprogram in 2012 uit te brei – so hou hierdie spasie dop!

Ons eerste vrywilligersprogram, Ons Alumni Kring Stellenbosch (oftewel OAKS) is in Augustus vanjaar bekendgestel en is daarop gemik om onlangse alumni (diegene wat sedert 2000 graadgevang het) met die visie, werk en universiteitsgemeenskap te verbind om voortgesette alumni-deelname en -betrokkenheid aan te moedig.

Die OAKS-komitee bestaan uit ʼn voorsitter, ondervoorsitter en ʼn maksimum van 15 lede wat hul tyd opoffer en nou met die alumni-span saamwerk om onlangse graduandi betrokke te kry en om ʼn kultuur van gee te vestig. Hulle dien ook as ambassadeurs van die Universiteit, woon geleenthede in verskeie streke by en moedig filantropiese ondersteuning onder alumni aan. 

Vroeë studenteskakeling​​

Ons is besig om ons bande met huidige studente te versterk deur nou saam met die Studenteraad, koshuise, verenigings, ens te werk. Tevrede studente word tevrede alumni! Ons sal ook binnekort ons eerste Klasskenkingsprogram vir finalejaarstudente in 2012 uitrol waar studente aangemoedig word om ʼn kultuur van gee reeds tydens hul studiejare aan te kweek.  

Alumniskenkings​

Die Alumniskenkingsprogram is daarop gemik om gereelde/jaarlikse skenkings van alumni, personeel en vriende van die Universiteit te vergroot. Die program se fokus is om die aantal alumni wat gee, sowel as die bedrae wat geskenk word, aansienlik te verhoog. Beroepe gebaseer op alumni se affiniteite en lojaliteit binne die Universiteitsgemeenskap, word binne spesifieke groepe gerig.

Elke skenking maak ʼn verskil! Ons het tans 1049 skenkers, waarvan slegs 0, 8% hiervan is alumni. As 2000 alumni elkeen R100 per maand skenk sal die Universiteit R2,4 miljoen ontvang – genoeg om vir 80 studente volledige beurse toe te staan.

Vir meer inligting oor hoe jy betrokke kan word, kontak die Alumni-kantoor.​