Biomediese Navorsingsinstituut
Meer oor die BMNI
Afrika dra die swaarste aan die globale siektelas, en 'n aantal ernstige epidemies oorvleuel met mekaar oor ons kontinent heen. Die Universiteit Stellenbosch (US) se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW) is een van die voorstes onder sodanige fakulteite in Suid-Afrika, en het gevolglik 'n ontsaglike verantwoordelikheid om leiding te neem in die strewe na 'n gesonde lewenswyse en welstand vir almal.
Wanneer die FGGW se nuwe Biomediese Navorsingsinstituut (BMNI) klaar is, sal dit 'n volledig geïntegreerde, toekomsgerigte en uitmuntend ingerigte navorsingskompleks daarstel wat die bestes in die wêreld ewenaar en op verskeie maniere oortref.
Die BMNI sal op die Universiteit se Tygerberg-kampus, in die noordelike voorstede van Kaapstad, geleë wees. Werksaamhede sal daarop fokus om die genetiese en biomolekulêre grondslag van siekte te begryp, en uitdruklik op Afrika ingestel wees. Die Instituut sal op dieselfde vlak as die mees gevorderde en gesofistikeerde fasiliteite vir biomediese navorsing ter wêreld wees. Die nuwe fasiliteit sal dit moontlik maak om bestaande navorsingsbedrywighede onmiddellik uit te brei sowel as om navorsings- en onderrigkapasiteit op gebiede soos bio-informatika, genomika, anatomie, chirurgie en neurologie te vergroot.