Biomedical Research Institute
Welkom by Universiteit Stellenbosch

​​Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI)​


MEDIAHULPBRONNE

 


​BMNI-BEKENDSTELLING – MEDIAVERKLARING – KONSEP 3 – 12 APRIL

Hipermoderne Instituut vir Biomediese Navorsing ʼn 'spelbreker' vir gesondheidsorg in Afrika

Die bekendstelling van sy nuwe, hipermoderne Instituut vir Biomediese Navorsing (BMNI)​ plaas die Universiteit Stellenbosch (US) aan die voorpunt van biomediese wetenskappe op die vasteland van Afrika.

Die BMNI-navorsingskompleks is gelykstaande aan die beste ter wêreld en het, wat sy voorpunt-fasiliteite en uitgebreide navorsingskapasiteit betref, nie sy gelyke op die vasteland van Afrika of in die hele Suidelike Halfrond nie.

Die BMNI, wat op die US se Tygerberg-kampus in Kaapstad geleë is, word oor die loop van die volgende week ingewy.

“Die totstandbrenging van die BMNI versinnebeeld die US se visie om Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd erkenning geniet vir ons uitnemendheid in innovasie om kennis in diens van die samelewing te bevorder," sê prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier.

Die fasiliteit huisves meer as 500 biomediese navorsers en studente, wat van die wêreld se mees vooraanstaande wetenskaplikes op die gebied van bio-informatika, tuberkulose, neurowetenskap en urologie insluit. Die voorpunt-navorsing by die fasiliteit het ʼn bepaalde Afrika-fokus en het ten doel om die genetiese en biomolekulêre basis van siektes te verstaan wat Suid-Afrika en die res van die vasteland van Afrika raak.

“Wetenskaplikes van die BMNI doen navorsing wat tot ontdekkings lei om die diagnose, voorkoming en behandeling te verbeter van siektes wat mense in Suid-Afrika en die res van Afrika raak," sê prof Nico Gey van Pittius, Visedekaan: Navorsing en Internasionalisering van die US se Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe (FGGW), waar die BMNI geleë is.

Die konstruksie van hierdie fasiliteit ter waarde van R1,2 miljard (sowat US$ 66 miljoen) het in 2018 begin en is in 2023 afgehandel – dít ondanks groot uitdagings weens die Covid-19-pandemie. ʼn Toekomsgerigte benadering is met die beplanning en ontwerp van hierdie kompleks met sy vele fasette gevolg en die resultaat is ʼn hoëprestasie-navorsingshub wat modulêr, funksioneel en volhoubaar is.

Die BMNI spog met etlike hipermoderne laboratoriums, met inbegrip van die grootste vlak 3-bioveiligheidslaboratorium (BSL-3) en ten volle geoutomatiseerde biobewaarplek in Afrika, lesing- en konferensieteaters wat met die jongste oudiovisuele tegnologie toegerus is, asook groot, moderne disseksiesale wat ontwerp is om blootstelling aan formaldehied tot die minimum te beperk. Die BMNI het ook ʼn vierster-gradering van die Groen Geboueraad van Suid-Afrika ontvang.

“Die navorsing wat in die BMNI gedoen word, bou voort op die US se verbintenis tot navorsing wat ʼn impak het en wat die natuurlike omgewing, gesondheid, menslike veiligheid, asook sisteme en tegnologieë vir die toekoms in ag neem. Die uitdaging om plaaslik relevant en globaal mededingend te wees lê ten grondslag van ons wetenskaplike strewes," sê prof Sibusiso Moyo, Adjunk-visekanselier: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies van die US.

Die enorme waarde van die BMNI is selfs voor die voltooiing daarvan in 2023 erken en hoëprofiel-besoekers soos die president van Suid-Afrika, Cyril Ramaphosa, asook die Direkteur-generaal van die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO), dr Tedros Adhanom Ghebreyesus, het die fasiliteit in 2022 besoek. Die fasiliteit se potensiaal is verder bevestig toe die US se Sentrum vir Epidemiese Reaksie en Innovasie (Seri), wat in die BMNI geleë is, deur die WGO as ʼn vennoot van die eerste Tegnologie-oordraghub vir Covid bRNS-entstowwe gekies is.

“Die belegging in die BMNI sal betekenisvolle menslike kapasiteitsontwikkeling moontlik maak deur die opleiding van sommige van die vasteland se beste studente en deur hulle aan uitgebreide nasionale en internasionale navorsingsnetwerke bloot te stel, wat ʼn volgende generasie suksesvolle wetenskaplikes sal oplewer," sê prof Elmi Muller, Dekaan van die FGGW. “Die BMNI sal ʼn spelbreker vir gesondheidsorg in Afrika wees en lewer ware getuienis van die gebruik van wetenskaplike deurbrake om lewens te verbeter."

 

MEER OOR DIE BMNI

  • Die BMNI is die grootste en mees gesofistikeerde navorsingskompleks van sy soort op die vasteland van Afrika en in die Suidelike Halfrond.
  • Benewens die fasiliteite wat hierbo genoem is, huisves die BMNI ook:
    • ʼn Bio-informatikahub;
    • Elektronmikroskopielaboratoriums;
    • Proteomika- en FACS-laboratoriums (vir vloeisitometrie-dienste);
    • ʼn Morfologiemuseum;
    • ʼn Sunskills-laboratorium;
    • Kliniese navorsingsfasiliteite.
  • Die BMNI se vlak 3-bioveiligheidslaboratoriumfasiliteite (BSL-3) met ʼn oppervlak van 600 m2 is die grootste op die vasteland van Afrika. BSL-3-laboratoriums word gebruik om aansteeklike stowwe of toksiene te bestudeer wat deur die lug versprei kan word en potensieel dodelike infeksies kan veroorsaak. BSL-3-laboratoriums word so ontwerp dat hulle maklik ontsmet kan word.
  • ʼn Stelsel van negatiewe lugdruk verhoed dat gevaarlike dampe of toksiene wat deur die lug versprei word, uit laboratoriums na aanliggende gebiede vloei. ʼn Kragtige ventilasie- en filtrasie-aanleg suig lug voortdurend uit laboratoriums na die bopunt van die gebou, waar dit gefiltreer en vrygestel word.
  • Die BMNI spog met gevorderde energieherwinningstegnologie wat aan die lugstelsel gekoppel is en die gebou se koolstofvoetspoor vergeleke met ander soortgelyke geboue verklein.


Click here for English statement​.

Klik hier vir meer inligting oor navorsing wat in die BMNI gedoen word.

Klik hier vir meer inligting oor die BMNI-inwydingsaktiwiteite wat gedurende die volgende week plaasvind.