Archives
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Herinngeringskamer

 

Herinneringskamer ʼn gebaar van versoening en heling

Outeur: Alec Basson

Gepubliseer: 01/08/2013

Die uitstalling vertel ʼn verhaal van ontwrig​ting, versoening en ʼn nuwe toekoms.

Só het prof Russel Botman, rektor en visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US), Woensdag (31 Julie) by die bekendstelling van ʼn Kamer van Herinnering in die Universiteitsargief op die grondvloer van die RW Wilcocks-gebou gesê.

Die bekendstelling van die Herinneringskamer - ʼn gebaar van versoening tussen die US en die dorp se bruin gemeenskap - het die amptelike heropening van die heringerigte Wilcocks-gebou voorafgegaan. Die dak en derde verdieping van die Wilcocks-gebou is op die middag van 10 Desember 2010 deur ʼn brand verwoes.  

Die Kamer van Herinnering, die breinkind van prof Russel Botman, is ʼn eietydse uitstalruimte waar die versweë geskiedenis van die mense van Die Vlakte en die Slag van Andringastraat vertel word.

Die Slag van Andringastraat het oor die naweek van 27 en 28 Julie 1940 plaasgevind toe US-studente betrokke was in skermutselings met bruin inwoners van Die Vlakte, soos die gebied in die Stellenbosse middedorp omgrens deur Muller-, Van Ryneveld-, Banghoek-, Smuts-, Merriman-, en Birdstraat in die 20ste eeu bekend gestaan het. Die Wilcocks-gebou sluit geografies aan by Die Vlakte.

Meer as 20 jaar later, op 25 September 1964, is Die Vlakte  kragtens die Groepsgebiedewet van 1950 tot ʼn wit groepsgebied verklaar. Benewens die 3700 bruin inwoners, is ses skole, vier kerke, ʼn moskee, ʼn bioskoop en tien sakeondernemings deur die gedwonge verskuiwings geraak.

Volgens Botman het die idee van ʼn simboliese herinneringsruimte begin by die apologie van studenteleiers in die manskoshuis Dagbreek oor die Slag van Andringastraat, asook die daaropvolgende ontmoeting tussen studente en destydse inwoners van Andringastraat by sy huis.

Botman het die belangrikheid van ʼn Herinneringskamer beklemtoon, en gesê ons kan nie die toekoms ingaan sonder om die verlede behoorlik te verreken nie.

Hy het dit beskryf as ʼn "simbool van iets nuut" wat ʼn bydrae tot heling tussen die US en die gemeenskap kan lewer.

Die erkenning van ʼn stuk versweë geskiedenis "behoort vir gemeenskapslede aan te dui dat die US op ʼn nuwe pad van versoening en inklusiwiteit wil gaan," het dr Jerome Slamat, Senior Direkteur van Gemeenskapsinteraksie aan die US gesê.

Vir die 96-jarige mnr Aaron Cupido, wat oorkant die ou Lückhoff Skool gewoon het, was dit ʼn trotse oomblik om te sien dat ʼn stuk versweë geskiedenis op hierdie wyse erken word.

"Wat vandag hier gebeur is baie belangrik omdat die Universiteit en die gemeenskap vir lank vêr van mekaar geleef het," het mnr Willie Ortell, voormalige uitvoerende burgemeerster van Stellenbosch, en destydse inwoner van Die Vlakte, gesê. Die Herinneringskamer behoort ʼn positiewe uitwerking op die bruin gemeenskap te hê, het Ortell bygevoeg.

Die verskuiwings uit Die Vlakte en die Slag van Andringastraat was vir dekades nie deel van die amptelike geskiedenis van Stellenbosch nie.

Eers met die verskyning van In ons bloed (2006) en Nog altyd hier gewees: Die storie van 'n Stellenbosse gemeenskap (2007) is hierdie gebeure te boek gestel.