Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​Universiteite moet saamwerk om meertaligheid te versterk
Outeur: Naude van der Merwe
Gepubliseer: 05/10/2021

In 'n eerste kollokwium oor die pad vorentoe met die nuwe Taalbeleidsraamwerk vir Hoëronderwysinstellings op 28 en 29 September 2021 was hoëronderwysverteenwoordigers dit eens dat samewerking deurslaggewend sal wees. Die geleentheid is aangevoor deur Universiteite Suid-Afrika (USAf) se praktykgemeenskap vir die onderrig en leer van Afrikatale (“CoPAL"), en is aangebied deur die Universiteit Stellenbosch (US).

Bykans 200 deelnemers het ingeskakel vir die twee dae lange aanlyn kollokwium – die eerste in 'n reeks oor die nuwe Taalbeleidsraamwerk. Afgevaardigdes van oor die hele hoëronderwyssektor, waaronder meer as 30 sprekers van Suid-Afrikaanse universiteite en die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), het oor kwessies van meertaligheid en die implementering van die DHOO se nuwe raamwerk beraadslaag. Die raamwerk, wat in Oktober 2020 uitgegee is, beoog spesifiek “om die gebruik van alle amptelike tale in alle funksionele domeine van die openbare hoër onderwys te bevorder en te versterk".

Kerntemas het na vore gekom uit die agt hoofsessies, wat alles gedraai het om meertaligheid as 'n meganisme om ruimte te skep vir die verdere ontwikkeling van Afrikatale. Dié temas het ingesluit 'n voortgesette bewustheid van samewerking en medeskepping, maatskaplike geregtigheid, implementeringstrategieë, hulpbron- en finansieringskwessies, die rol van die Departement van Basiese Onderwys, die moontlikheid van 'n nasionale institusionele oudit van alle universiteite se meertaligheidsaktiwiteite, en Afrikaans se status as 'n inheemse taal.

Prof Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, het ook die belang van samewerking in sy verwelkomingsrede aangeroer. “Samewerking is die sleutel," het hy gesê. “Ons eerlike gesprekke kan tot oplossings lei. En sodoende vorm ons 'n dieper begrip van die waarde van meertaligheid."

Hy het uitgewei oor die US se aktiwiteite om Xhosa te bevorder, en ook die US se siening benadruk dat Afrikaans by die DHOO se lys van inheemse tale ingesluit behoort te word. Die nuwe Taalbeleidsraamwerk sluit Afrikaans tans van sy omskrywing van inheemse tale uit, naamlik “tale waarvan die erfenis in Afrika gewortel is ... en wat tot die Suid-Bantoetaalfamilie behoort, waar 'Bantoe' alleenlik as 'n taalkundige term gebruik word".

Dr Thandi Lewin, adjunkdirekteur-generaal van die DHOO, het gesê haar departement erken Afrikaans se uitsluiting van die omskrywing as 'n kwessie wat regsadvies en -opklaring verg. Sy het gesê dat swakhede in die beleidsraamwerk in 'n ander forum aangespreek moet word.

In sy spreekbeurt het Albie Sachs, 'n voormalige regter van die Konstitusionele Hof, die Taalbeleidsraamwerk teen die agtergrond van die Suid-Afrikaanse Grondwet beskou, en teruggedink aan die spanninge toe die taalklousules van die Grondwet destyds in die 1990's geskryf is. “Die minderheid in Suid-Afrika het soos 'n meerderheid opgetree, en die meerderheid is soos die minderheid behandel wat betref taal, toegang tot stemreg, toegang tot grond, en toegang tot alles wat saak maak. Dit het die normale verhouding tussen minderheid en meerderheid omgekeer," het hy gesê. “En nou is ons in 'n Suid-Afrika waar die meerderheid die wette uitvaardig, en die minderheid uiters bevoorreg is vanweë die rassisme van die verlede. Die vraag is hoe ons daardie twee temas versoen." Hy het bygevoeg dat daar, soos met Afrikaans aan die begin van die 20ste eeu, 'n daadwerklike poging aangewend moet word om Suid-Afrika se ander inheemse tale te bevorder.

Op sy beurt het prof Deresh Ramjugernath, die US se Viserektor: Leer en Onderrig, klem gelê op die menslikehulpbronne- en finansieringsuitdagings met betrekking tot die implementering van die raamwerk. “Die Taalbeleidsraamwerk moet binne die huidige hulpbronbeperkinge in werking gestel word," het hy verduidelik. “In die meeste gevalle ding dit mee met prioriteite wat sommige as belangriker beskou, en wat moontlik as groter bydraers tot instellings se akademiese statuur en finansiële volhoubaarheid bestempel word." Die DHOO het wél aangedui dat implementeringshulpbronne toegeken sal word, en het onderneem om te gelegener tyd verdere besonderhede bekend te maak.

Prof Mbulungeni Madiba, die US se dekaan van Opvoedkunde, het gesê “meertalige universiteite word heel dikwels uit 'n meer koloniale oogpunt verstaan", en het verandering in dié verband bepleit. Hy het gesê vanweë die spanning tussen Engels en ander Afrikatale die afgelope 27 jaar is die ander tale gemarginaliseer.

Dr Antoinette van der Merwe, senior direkteur van Leer- en Onderrigverryking aan die US, het haar by prof Langa Khumalo, CoPAL-voorsitter en verbonde aan Noordwes-Universiteit, aangesluit deur te vra vir 'n landwye oudit van universiteite se werksaamhede om meertaligheid te implementeer. “Die enigste manier waarop ons op nasionale vlak ons hulpbronne sal kan saamgooi, is as ons saamwerk. So nie, sal elke instelling sy eie rigting inslaan, terwyl sinergie uiteindelik meer waarde inhou," het dr Van der Merwe gesê.