Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US is gasheer vir taalkollokwium vir openbare universiteite
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 27/09/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) is vandeesweek die gasheer vir 'n aanlyn taalkollokwium wat gerig is op hoëronderwysinstellings. Die kollokwium, wat van 28-29 September 2021 onder die vaandel van Universiteite Suid-Afrika (USAf) aangebied word, is 'n gesamentlike projek van die Community of Practice for the Teaching and Learning of African Languages (CoPAL), 'n afdeling van USAf, en die US as gasheer.

Sprekers sluit in regter Albie Sachs, afgetrede regter van die Konstitusionele Hof, en rektore en visekanseliers van onder meer die Universiteite van Stellenbosch, Kaapstad en die Vrystaat sowel as Rhodes-universiteit.

Hierdie kollokwium is die eerste in 'n reeks geleenthede wat universiteite gaan aanbied oor die nuwe taalbeleid vir hoëronderwysinstellings. Rektore en viserektore sal samesprekings voer met kundiges en belanghebbendes oor die toepassing van die nasionale Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings wat in Oktober 2020 in die Staatskoerant afgekondig is.

Volgens USAf het die Taalbeleidsraamwerk die vraagstuk oor taal skerp na die voorgrond gebring.

“Hoëronderwysinstellings het taalbeleide vir hul onderskeie universiteite ontwikkel, maar daar is 'n beduidende behoefte vir kernrolspelers in die bedryf om hulle begrip van die Taalbeleidsraamwerk te verdiep sowel as van die toepassing daarvan."

Dr Sizwe Mabizela, visekanselier van Rhodes-universiteit en voorsitter van USAf se Onderrig-en-leer-strategiegroep, het gesê: “Ons moet die taalbeleid wegskuif van die kantlynposisie wat dit tans by instellings beklee en dit reg in die middel plaas van visekanseliers se strategiese beplanning. Dit staan sentraal tot die erkenning van die diversiteit van studente. Ons moet ook trots wees op ons eie tale en 'n boodskap aan ons kinders oordra dat Engels belangrik is, maar dat ander tale tot dieselfde vlak gelig moet word as 'n belangrike kommunikasiemedium vir ons gedagtes en idees. Ons mense moet dit geniet om te kan sien dat hulle tale gerespekteer word. Taal bou ook 'n nasie."

Prof Wim de Villiers, Rektor van die US, verwelkom die geleentheid om met ander universiteite saam te werk.

“Ons sien uit daarna om deel te neem aan hierdie belangrike gesprek en om insigte te verkry van kollegas en kundiges by ander instellings. By die US is ons bewus van die uitdagings en geleenthede wat gepaardgaan met die toepassing van 'n taalbeleid, hoe dit belyn met die Taalbeleidsraamwerk en die sterk debatte wat dit tot gevolg het. Ons verwelkom egter hierdie debat. Samewerking is belangrik, en ons eerlike gesprekke hieroor kan tot oplosssings lei. Deur aksies soos hierdie kan ons ook 'n dieper begrip ontwikkel van die waarde van meertaligheid," het hy gesê.

Die US se Taalbeleid bevorder meertaligheid en hou rekening met “die diversiteit van ons samelewing, sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê".

Onderwerpe tydens die kollokwium sluit in Die Taalbeleidsraamwerk vir Openbare Hoëronderwysinstellings in die konteks van die Suid-Afrikaanse Grondwet; Die rol van taal om Hoëronderwysinstellings te transformeer; Die nuwe Taalbeleidsraamwerk as meganisme tot studente-toegang en -sukses; Die geleenthede wat die nuwe Taalbeleidsraamwerk bied ten opsigte van die idee van 'n universiteit in Afrika; en Die transformasie van die akademie deur die gebruik van Afrika-tale.

Taaldag

Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid inhou, bied die US se Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking aan die US weer vanjaar 'n Taaldag, op 30 September, vir personeel en studente aan.  

Die tema vanjaar is 'Taal, leer, leef! Die implementering van meertaligheid by die US in akademiese en sosiale ruimtes'. Taaldag handel nie oor die Taalbeleid self nie, maar fokus op hoe taal aan die US benader word.  

Die twee sub-temas wat vanjaar belig word, is meertaligheid in (aangevulde afstands-) leer, onderrig en assessering en meertaligheid in administratiewe, sosiale en leefruimtes. 

“Ons sal maniere bespreek om ʼn meertalige ingesteldheid by onderrig, leer en assessering sowel as by die sosiale lewe buite die klas te integreer. Die twee paneelbesprekings met daaropvolgende wegbreekgroepbesprekings sal US-personeel en -studente die geleentheid gee om hulle stemme te laat hoor, beste praktyk te deel en saam oplossings vir uitdagings te probeer vind, " verduidelik dr Antoinette van der Merwe, Senior Direkteur van die Afdeling Leer- en Onderrigverryking, wat Taaldag reël.   

“Ons glo dat meertaligheid oor meer gaan as bloot die vermoë om verskeie tale te gebruik. Dit gaan daaroor om aan mense ʼn stem te gee, ongeag die taal of tale wat hulle gebruik."   

  • Klik hier vir 'n video oor Taaldag