Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Meertaligheid in hoër onderwys – uitdagings en oplossings
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 29/11/2021

Hierdie meningsartikel is op 9 October 2021 deur Netwerk24 gepubliseer. Klik hier om dit op daardie webblad te lees, of lees die volledige teks hieronder. 

Tydens Universiteite Suid-Afrika se onlangse kollokwium oor die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding se Nasionale Taalbeleidsraamwerk vir Hoëronderwysinstellings, het die omvang van die uitdaging om meertaligheid aan Suid-Afrikaanse universiteite te bevorder aan die lig gekom. Prof. Wim de Villiers, die US se Rektor en Visekanselier, sê die toepassing van meertaligheid is ingewikkeld, maar dit is ’n geleentheid tot samewerking. 

Meertaligheid is ’n saak van erns vir die Universiteit Stellenbosch (US) en talle ander universiteite en die kompleksiteite wat daarmee verband hou, kom ter sprake in die Nasionale Taalbeleidsraamwerk vir Hoëronderwysinstellings, wat die taalbenadering van alle openbare Suid-Afrikaanse universiteite rig (waarvan die US een is). 

Universiteite Suid-Afrika (USAf) se kollokwium oor die Taalbeleidsraamwerk (2020) was die eerste geleentheid waar alle openbare Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings, tesame met die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO), idees kon uitruil oor hoe om meertaligheid te bevorder, indiepte na van die uitdagings te kyk en saam oplossings te probeer vind. 

Die Taalbeleidsraamwerk, wat Oktober verlede jaar deur die regering gepubliseer is, dui aan dat taal steeds in die pad staan van sukses vir baie studente aan Suid-Afrikaanse hoëronderwysinstellings. Ondanks hul status as amptelike tale, is Afrika-tale nie in die verlede formeel die geleentheid gebied om as akademiese en wetenskaplike tale te ontwikkel nie.  

Dié aanhaling uit Staatskoerant stel die doel van die Taalbeleidsraamwerk duidelik: Die Raamwerk poog om die uitdaging van die onderontwikkeling en -benutting van amptelike Afrika-tale by hoëronderwysinstellings die hoof te bied en terselfdertyd die standaard en gebruik van tale wat reeds ontwikkel is, te handhaaf. 

Uit verskeie aanbiedings tydens die kollokwium deur verteenwoordigers van talle universiteite en die DHOO, het dit geblyk dat meertaligheid nie die afgelope 27 jaar met genoeg erns in hoër onderwys hanteer is nie.  

Suid-Afrika se benadering tot meertaligheid is vervat in die Grondwet (1996) en erken 11 amptelike tale. Om dit egter suksesvol in die hoëronderwyssektor toe te pas, moet verskeie struikelblokke oorkom word, soos finansiële aspekte, ’n gebrek aan belegging in meertaligheid in basiese onderwys, die oorbrugging tussen hoërskool en universiteit en die voortgesette neiging tot internasionalisering. 

Soos verskeie sprekers egter tydens die kollokwium beklemtoon het, is hierdie uitdagings nie onoorkombaar nie. Tydens die agt sessies het verskeie kerntemas na vore gekom, onder meer ’n sterk fokus op samewerking tussen universiteite, sosiale geregtigheid, moontlike strategieë om die Taalbeleidsraamwerk toe te pas, kommer oor hulpbronne en finansiering, ’n groter rol wat die Departement van Basiese Onderwys (DBO) kan speel, die moontlikheid van ’n nasionale institusionele oudit van alle universiteite se aktiwiteite rondom meertaligheid en die definisie van Afrikaans as inheemse taal. 

Die US se standpunt oor Afrikaans as inheemse taal is welbekend en strook nie met die Taalbeleidsraamwerk se definisie nie. Die US het reeds in 2017 uitgebreide terugvoering gegee oor die DHOO se konseptaalbeleidsraamwerk waarin die Universiteit Afrikaans as inheemse taal erken en dieselfde van die konsepbeleid versoek het. 

Universiteite is nie die geleentheid gegee om op die finale weergawe van die Taalbeleidsraamwerk kommentaar te lewer nie. Die US het dit onder USAf se aandag gebring, en verklaar sedert die publisering van die Taalbeleidsraamwerk dat ons Afrikaans as ’n inheemse taal erken as deel van inklusiewe meertaligheid. 

Die US-raad het dan ook dié mosie op 21 Junie 2021 aanvaar: “Die US het met kommer kennis geneem van die DHOO se indeling (van Afrikaans) in die Taalbeleidsraamwerk vir openbare instellings vir hoër onderwys. Die US ondersteun die siening dat Afrikaans, die Khoe- en San-tale inheemse tale is. Die Raad versoek die US-bestuur om die nodige stappe te neem om met die DHOO in gesprek te tree om hierdie kwessie te hanteer.” 

Ontwikkeling van taal 

Terselfdertyd erken die US ook dat Afrika-tale al lank aan die kortste ent trek. Die hele sektor kan nou voortbou op die momentum wat deur die USAf-kollokwium begin is. Hiervoor is samewerking egter noodsaaklik en dit is verblydend dat soveel voorbeelde en moontlike oplossings hiervoor deur verskeie universiteite by die kollokwium gedeel is. 

Soos wat deurgaans die geval is met Afrikaans het die US ook reeds die bal aan die rol gesit wat die gebruik van isiXhosa betref, ’n taal wat voorheen gemarganaliseer is. As ’n ontluikende formele akademiese taal, ontvang isiXhosa besondere aandag met die oog daarop om dit geleidelik in uitgesoekte dissiplines bekend te stel. Hierdie dissiplines word na gelang van studentebehoeftes geprioritiseer deur middel van ’n goed beplande en stelselmatige proses. 

Die US se Departement Afrika-tale, byvoorbeeld, het uitgebreide ervaring in gevorderde taal- en taalkundige onderrig en navorsing. Hulle akademiese rol en leierskap sal ten volle benut word. isiXhosa word reeds in sekere programme gebruik om doeltreffende leer en onderrig te fasiliteer, veral waar dit dalk belangrik is vir loopbaandoeleindes. Die US is daartoe verbind om die gebruik van isiXhosa uit te brei, en voorbeelde van bestaande inisiatiewe in dié verband sluit in kortkursusse oor basiese isiXhosa-kommunikasievaardighede vir personeel en studente, loopbaanspesifieke kommunikasie in Xhosa, dissiplinespesifieke terminologielyste en taalgidse. 

Die US se mediese studente ontvang reeds onderrig in beroepsgerigte kommunikasie in Afrikaans en isiXhosa. Die Fakulteit Opvoedkunde het soortgelyke modules. Die Fakulteit Teologie bied ’n module in isiXhosa aan, wat in Afrikaans en Engels getolk word. Daar word ook uitstekende werk gedoen in die Verlengde Graadprogram in die Fakulteit Lettere en Sosiale Wetenskappe, waar isiXhosa- (en ander) tolking gebruik word as een van die Fakulteit se inisiatiewe om meertaligheid te bevorder. 

​Daarbenewens vertaal die Taalsentrum verskeie dokumente na isiXhosa soos dit ook dokumente en notas na Afrikaans vertaal wanneer nodig. Die Mobilex-toepassing verskaf sedert 2014 terminologielyste en sluit in definisies wat deur die Fakulteite Onderwys, Teologie, Wetenskap, Ekonomiese- en Bestuurswetenskappe en Lettere en Sosiale Wetenskappe gebruik word. 

Dit sou dus sinvol wees werk soos dié wat reeds gedoen is reg oor die hoëronderwyssektor te deel.  

Veeltaligheid binne fakulteite 

Dit is belangrik om seker te maak die omstandighede van akademiese meertaligheid strook met professionele omgewings en verwagtinge. Dit word reeds gedoen deur noukeurige stelselssoos die taalbeplanningsklousule in die US se 2016-taalbeleid aanduite volg om konteks spesifieke toepassings te identifiseer. 

Die klousule lees: Elke fakulteit hersien minstens een keer per jaar sy gebruik van taal vir leer en onderrig, en neem die taalreëlings in sy fakulteit se taalimplementeringsplan op. Hierdie plan word aan die Senaat voorgelê via die Fakulteitsraad en die Akademiese Beplanningskomitee van die Senaat. Die Senaat is by magte om die fakulteit se taalimplementeringsplan te aanvaar of na die fakulteit terug te verwys. aanvaarding word die taalreëlings vir leer en onderrig in ’n bepaalde module in die betrokke moduleraamwerke gepubliseer.” 

Die toepassing van die Taalbeleidsraamwerk sal dus vereis dat hoëronderwysinstellings uitgebreide planne ontwikkel, onderhou en monitor om veeltaligheid te bevorder. Dit behels ook die opstel van deursigtige metodes in alle universiteitstrukture om die toepassing daarvan te verseker, en nie net die Taalbeleidsraamwerk op papier te aanvaar nie. 

Dit is wel moontlik. ’n Ontleding van die US se Taalimplementeringsplanne van fakulteite en Professionele, Administratiewe, Steun- en Diensomgewings (PASD) van 2017 tot 2020 wys positiewe neigings. Een hiervan is dat jaarlikse verslaggewing en beplanning van taalimplementering deur formele strukture al hoe doeltreffender word, want dit verseker nie net dat fakulteite en PASD-omgewings gehoor gee aan die formele bepalings van die Taalbeleid nie, maar dit word deur ’n templaat in werking gestel. Dit bied aan al die omgewings die geleentheid om oor die konsultasieproses te reflekteer, en die maniere waarop hulle meertaligheid in hul onderskeie omgewings bevorder, aan te dui. 

Dit alles het natuurlik finansiële gevolge. Die Taalbeleidsraamwerk stel onder meer voor dat alle amptelike interne kommunikasie aan universiteite naas Engels in nog twee amptelike tale moet plaasvind. Dit is ’n prysenswaardige ideaal, maar dalk nie prakties uitvoerbaar as die DHOO nie finansiering daarvoor beskikbaar stel nie. (Die US se amptelike kommunikasie is tans alles in Afrikaans en Engels.) 

​Die toepassing van die Taalbeleidsraamwerk gaan dus nie maklik wees nie. Die voordele van meertalige leer en onderrig is egter al male sonder tal bewys en ek glo so ’n benadering sal in die Suid-Afrikaanse konteks groter toegang aan studente gee vir ’n beter toekoms. 

Die USAf-kollokwium het die regte gesprek begin en bewys dat samewerking die sleutel tot sukses is.​