Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Groter toegang en ʼn beter toekoms danksy US-benadering tot taal, sê rektor by SAMRK-verhoor
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 10/05/2021

“Ons is vol vertroue dat ons studente meer keuses, groter toegang en 'n beter toekoms het danksy ons benadering tot taal," het prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die Universiteit Stellenbosch (US) vandag (10 Mei 2021) by ʼn verhoor van die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) gesê.

Die SAMRK is besig met ʼn ondersoek na bewerings van ʼn verbod op die gebruik van Afrikaans by die US. Die verhoor het by STIAS in Stellenbosch plaasgevind.

“Kom ek sê uit die staanspoor die suggestie dat studente oor die hele kampus heen in enige stadium ingevolge Universiteitsbeleid verbied is om in Afrikaans te kommunikeer, is onwaar. Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesinglokale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie. Dit is nié ons beleid nie," het prof De Villiers gesê.

“Inteendeel, ons Taalbeleid bevorder meertaligheid en hou rekening met die diversiteit van ons samelewing sowel as die intellektuele rykdom wat in daardie diversiteit opgesluit lê.

“Daar is geen beleid dat slegs Engels in koshuise gebruik mag word nie. En studente behoort nie verbied te word om Afrikaans of enige ander taal te praat nie. Die Universiteit kan dit nie goedpraat nie, want dit sou strydig wees met ons visie, ons waardes sowel as ons Taalbeleid.

Prof De Villiers het gesê die US “is 'n wêreldklas- navorsingsintensiewe universiteit wat die ganse samelewing bedien, nie net 'n bepaalde gedeelte van die bevolking nie. En juis dáárom volg ons 'n meertalige benadering. Dit is nie maklik nie; trouens, dis ingewikkeld en duur. Nietemin het ons doelbewus hierdie roete gekies, want ons glo dit is die regte ding om te doen.

“Die US bevorder meertaligheid om billike toegang uit te brei, 'n inklusiewe kampuskultuur te skep, en studentesukses te ondersteun. Ons glo dat deur aan meertaligheid blootgestel te word en mekaar se kultuurerfenis te leer respekteer, word ons studente betrokke burgers in 'n diverse samelewing.

“Ter wille van praktiese uitvoerbaarheid, gebruik ons die drie amptelike tale van die provinsie waar ons geleë is, die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en Xhosa.

“Ons Taalbeleid bepaal dat taal in koshuise en ander leefomgewings op so ʼn wyse gebruik word dat, waar dit redelikerwys uitvoerbaar is, geen belanghebbende uitgesluit word van deelname aan enige formele aktiwiteite in hierdie omgewings nie.

“Nuwe studente is gewoonlik ietwat oorweldig deur die splinternuwe omgewing, en verstaan dalk nie altyd die inligting en reëlings wat bedoel is om hulle gedurende tuis te laat voel nie. Daarom gebruik studenteleiers in koshuise gedurende verwelkoming aan die begin van die jaar meestal Engels in formele omgewings om te sorg dat almal toegang tot belangrike inligting het. 'n Poging om die uitdagings van 'n gemeenskaplike leefomgewing in geleenthede vir groei en 'n viering van diversiteit te omskep, is lofwaardig. Nietemin behoort dít nie vertolk te word asof enige taal buiten Engels onwelkom is of nie gebruik behoort te word nie. Ons Taalbeleid bevorder meertaligheid."

Kwessies bevredigend opgelos

“In 'n komplekse omgewing soos 'n groot universiteit verloop alles nie altyd volgens plan nie. Indien studenteleiers wél nuwelingstudente opdrag gegee het om slegs Engels in sosiale verband te gebruik, sou dit verkeerd wees. Dít is nie ons beleid nie; dis nie veronderstel om te gebeur nie. So, toe die bewerings aan die lig kom, het ons dit vinnig begin ondersoek. En ons het opgetree. Ons het deur ons Afdeling Studentesake met studenteleiers en studente in koshuise in gesprek getree om 'n gemeenskaplike begrip van die Taalbeleid en die implementering in die koshuisruimte te verseker. En so ver ons bewus is, is die kwessies bevredigend opgelos.

“Die proses het ooreenkomstig ons Taalbeleid geskied, wat duidelike riglyne bied. Ons Taalbeleid draai nie om straf nie, maar om die oplossing van kwessies tot bevrediging van alle direkte betrokkenes. En na ons beste wete is dít wat wel in die gevalle ter sprake gebeur het.

“Nogtans het ons, as die bestuur, gevoel dat 'n onafhanklike ondersoek nodig is, en dus het ons die Universiteit se ouditeure, 'n eksterne firma, opdrag gegee om 'n ondersoek van stapel te stuur.

Die Universiteit het onderneem om die bevindinge van die ondersoek met die SAMRK te deel wanneer dit afgehandel is, wat binnekort behoort te wees.

Prof De Villiers het afgesluit deur te sê dat die US 'n bate is vir die land en ál sy mense. “Ons is trots op ons bydrae tot menslike ontwikkeling, en beskou ons meertaligheidsbeleid, wat na inklusiwiteit en akademiese uitnemendheid streef, as 'n hoeksteen van ons unieke waarde-aanbod as 'n toonaangewende hoëronderwysinstelling, wat ons onderskei van ander instellings."

Prof De Villiers het aan die begin van die verhoor gesê die Universiteit respekteer die Grondwet en die demokratiese toesigrol van sy instellings, insluitend die SAMRK. “Ons verwelkom dus hierdie geleentheid."

In sy afsluiting het kommissaris Chris Nissen, voorsitter van die SAMRK, gesê: “Ons is van mening dat hierdie gesprek met die bestuur van die Universiteit nuttig was. Ons sal wag op die bykomende inligting wat ons tydens hierdie vergadering aangevra het. En ons respekteer ook die feit dat die onafhanklike ondersoek wat die Universiteit geloods het, nog nie voltooi is nie; ons sal ook op daardie verslag wag. Daar sal verdere gesprekke van ons kant met ander belanghebbendes wees. En dan sal ons ons as 'n kommissie tot 'n slotsom kom."