Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US-taalbeleid word in 2021 hersien
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division / Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 08/03/2021

Die Taalbeleid (2016) van die Universiteit Stellenbosch (US) word gedurende 2021 hersien as deel van die hersieningsiklus van elke vyf jaar soos wat in dié beleid voorgeskryf word. Artikel 10 van die Taalbeleid (2016) bepaal die beleid “verval vyf jaar ná die implementeringsdatum daarvan" en dit moet “gedurende sy vyfde geldigheidsjaar hersien word". Die huidige beleid het in 2017 in werking getree.

Volgens die Statuut van die US moet die US-raad die taalbeleid van die US bepaal met die instemming van die Senaat en in gevolge artikel 27(2) van die Wet op Hoër Onderwys, 1997 (Wet 101 van 1997, soos gewysig). Die hersieningsproses is in Oktober 2020 geïniseer deur 'n taakspan saam te roep en deur 'n tydsraamwerk gegrond op die Universiteitsalmanak vir 2021 op te stel. Die doelwit is om op 2 Desember vanjaar 'n finale konsep van die Taalbeleid (2021) aan die Universiteitsraad voor te lê vir goedkeuring.

Aangesien die Konstitusionele Hof in 2019 bevind het dat die Taalbeleid (2016) grondwetlik geregverdig is, en dat die Universiteit se proses om die beleid te aanvaar “deeglik, uitvoerig, inklusief en behoorlik beraadslagend was", is die taakspan versoek om die huidige beleid as hul vertrekpunt te gebruik. Die hersiening sal verder gelei word deur die US se Visie 2040 en Strategiese Raamwerk 2019–2024 wat aanvaar en geïmplementeer is nadat die Taalbeleid (2016) goedgekeur is.

Die taakspan oorweeg verskeie ander dokumente en toepaslike faktore in die opstel van 'n eerste konsep. Dit sluit onder meer die volgende in: die huidige nasionale beleidskonteks; die bevindinge van studente- en personeelopnames oor tevredenheid en taalvaardigheid; demografiese inligting, Taaldagverslae; taalverslae aan die Senaat en Raad; die implementeringskoste van die Taalbeleid (2016); en die rol van aangevulde afstandsonderrig, -leer en -assessering (augmented remote teaching, learning and assessment - ARTLA).

Afgesien van die insette van institusionele statutêre liggame soos die Rektoraat, Raad, Senaat, Institusionele Forum en Fakulteitsrade, asook regsadviseurs, sluit die hersiening ook twee geleenthede vir openbare deelname in. Om die samevoeging van openbare insette te fasiliteer, gaan die taakspan 'n enkele indieningsplatform op die taalwebblad skep. Volgens die tydsraamwerk sal 'n eerste konsep van die hersiene Taalbeleid teen Maart/April 2021 vir openbare konsultasie beskikbaar gestel word.

Die volledige tydsraamwerk met mylpale, meer inligting en toepaslike dokumente sal op die taalwebblad (www.sun.ac.za/taal) gepubliseer word. ​