*Ter viering van die geleenthede en moontlikhede wat meertaligheid skep, bied die Afdeling Leer- en Onderrigverryking op 30 September 'n Taaldagkonferensie aan. As deel van hierdie viering van meertaligheid, vestig ons die aandag op van die projekte wat tans by die Universiteit Stellenbosch aan die gang is.
Meertaligheid kan ons belangrike nuwe bande en verhoudings met ander help vorm, wat ons uiteindelik in staat stel om 'n beter wêreld te skep. So sê die sosiolinguis dr Marcelyn Oostendorp van die Departement Algemene Taalwetenskap aan die Universiteit Stellenbosch (US).
“Wanneer mense oor meertaligheid dink, skryf en praat, gaan dit gewoonlik oor die nut daarvan, oor hoe en waarvoor dit gebruik kan word, soos in die klaskamer," sê dr Oostendorp. “Nietemin vergeet ons dikwels van die verhoudingsaspek van taal en meertaligheid, en dat dit ons 'n band met ander help bou. Wanneer kinders byvoorbeeld leer praat, gaan dit nie oor die nut wat hulle daaruit kan kry nie, maar dat dit hulle in staat stel om bande met ander te vorm."
Die verhoudingskant van meertaligheid is iets wat sy die afgelope vier jaar persoonlik ervaar het as koördineerder van die module “Reimagining Multilingualism(s)" vir honneursstudente in Algemene Taalwetenskap aan die US. Die module is 'n samewerkingsprojek tussen personeellede en nagraadse studente van die US, die Sentrum vir Meertaligheid- en Diversiteitsnavorsing aan die Universiteit van Wes-Kaapland (UWK), sowel as UWK se Departement Taalwetenskap. “Die module skep nuwe begrippe van meertaligheid en beklemtoon die relasionele, affektiewe sy daarvan. Deur gevorderde teoretiese begrippe van meertaligheid herbesin studente oor hulle eie gevoelens en gesindheid oor taal," verduidelik Oostendorp.
US- en UWK-studente het vóór COVID al om die ander week na die onderskeie kampusse gependel vir waardevolle oor-en-weerbesoeke. Hierdie mobiliteit is sedert 2018 moontlik gemaak danksy 'n toekenning van die Andrew Mellon-stigting en het die US-honneursstudente in staat gestel om te skakel met hulle eweknieë by die UWK, wat die module as 'n verrykingskursus gevolg het. “Die finansiering het ons 'n mate van vryheid van beweging gebied, wat nie juis tipies is van 'n honneursmodule nie," sê Oostendorp. “Ons studente se grense is ten goede versit. Die interaksies het hulle persoonlik én hulle opvattings oor ander verander." Om in verskillende ruimtes te wees het ook stereotipes help afbreek, soos oor hoe 'n tipiese UWK- of US-student lyk, klink en is, en oor die beskikbare fasiliteite en ervarings op die twee kampusse, voeg sy by.
Die module, wat oor drie weke gestrek het, is in vyf dagseminare oor linguistiese etnografie, visuelekunsmetodes vir die voorstelling van konsepte, meertalige kreatiewe skryfkuns, semiotiese landskappe, 'n herkonseptualisering van formele linguistiek en linguistiese burgerskap ingedeel. Sessies is deur internasionale navorsers soos prof Ben Rampton en drs Mel Cooke en Lavanya Sankaran van King's College London en prof Lynn Mario de Souza van die Universiteit van São Paulo in Brasilië aangebied.
Vir vier van die seminare moes studente 'n assessering voltooi wat uit 'n multimodale taak of 'n oordenking in multimodale vorm bestaan. Studente het poësie, geskrewe oordenkings, video-installasies en handgemaakte artefakte soos plakkate, beeldhouwerke en collages geskep. Dié items is in 2018 vir 'n week by GUS (die Galery van die Universiteit Stellenbosch) ten toon gestel, en was daarna vir 'n volle kwartaal in die atrium van die UWK-biblioteek te sien. Dít was ook 'n goeie manier vir die studente om hulle geliefdes 'n blik te bied op waarmee hulle besig is, sê Oostendorp. “Een van my studente het gesê dít was die eerste keer wat haar ma haar studie verstaan het!"
In 2019 het studente 'n kitsuitstalling in die US Konservatorium gereël, en hulle kreatiewe werk het ook in 'n spesiale uitgawe van die vaktydskrif Multilingual Margins verskyn. Daarbenewens het die projek gelei tot die publikasie of komende publikasie van etlike navorsingsreferate in bundels soos Language and Decoloniality in Higher Education en Speaking subjects – Biographical methods in multilingualism research.
Die module is vir Oostendorp 'n goeie voorbeeld van multimodale pedagogie, wat die konseptualisering en onderrig van geletterdheid uitbrei om verskeie diskoerse en modaliteite in te sluit wat die toenemende diversiteit in alle samelewings én die opgang van multimedia en digitale tegnologieë erken. “Multimodale pedagogie bied ons 'n geleentheid om ons eie kwesbaarhede te erken en te hanteer," het sy onlangs geskryf in die boek Language and Decoloniality in Higher Education: Reclaiming Voices from the South (Bloomsbury Academic, 2021) in 'n hoofstuk wat sy saam met ander US-outeurs die lig laat sien het.
COVID-19 het ongelukkig die kontaksessies van “Reimagining Multilingualism(s)" tot 'n skielike stilstand gedwing, en die kampusbesoeke was die eerste wat gekanselleer moes word. Nietemin is sy verstom oor hoe kreatief haar kollegas by aanlyn onderrig en by soveel meer skerm- as kontaktyd aangepas het, sê Oostendorp. In plaas daarvan om studente op besoeke na verskillende dele van Stellenbosch te vergesel en oor die geskiedenis van elk te leer, het kollega dr Amiena Peck van UWK se Departement Taalwetenskap studente byvoorbeeld begin help om die ruimtes en webtuistes wat hulle gereeld aanlyn besoek aan die hand van uitleg, bewoording en visuele elemente te ontleed.
Die Mellon-finansiering, wat aanvanklik deel uitgemaak het van 'n groter projek wat deur die Universiteit van Pretoria gekoördineer is, loop vanjaar ten einde. Oostendorp hoop egter dat ander finansiële bystand verdere kruiskampusskakeling tussen Wes-Kaapse universiteite sal moontlik maak sodra die COVID-beperkings opgehef word.