Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hulpbronmateriaal in isiXhosa vir voornemende studente
Outeur: Centre for Student Recruitment and Career Advice | Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies
Gepubliseer: 29/09/2021

Die Universiteit Stellenbosch (US) sal vir die eerste keer aan isiXhosa sprekende voornemende studente hulpbronne in hulle huistaal voorsien wat hulle in staat sal stel om ingeligte vak- en loopbaankeuses te maak. Hierdie inligting is voorheen slegs in Engels en Afrikaans aangebied. 

Die isiXhosa-hulpbronne sal op Taaldag 2021 aan skole beskikbaar gestel word vir verspreiding onder hulle Graad 9- en 11-leerders. Taaldag, wat op 30 September plaasvind, deel die geleenthede en moontlikhede mee wat veeltaligheid ons bied. Dit gee akademici, studente en professionele akademiese ondersteuningsdienspersoneel die geleentheid om by mekaar te leer in die herbedinking van gesprekke rondom taal aan die US. 

Die hulpbronne, ontwikkel deur die US se Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, sluit in: 

  • 'n Dokument wat Graad 9- en 11-leerders se algemene vrae beantwoord;
  • 'n Vakkeuse- en loopbaanadviesboekie vir Graad 9- en 11-leerders; en
  • Aanlyn aanbiedings vir Graad 9- en 11-leerders. 

Soortgelyke hulpbronne vir Graad 12-leerders sal ook vanaf Februarie 2022 aan skole beskikbaar gestel word. 

Die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies bestaan uit 'n span adviseurs wat ekspo's en oueraande hou, en opvoedkundige sielkundiges wat psigometriese assessering aan leerders in Graad 9 tot 12 aanbied. Die sentrum se isiXhosa-adviseur, Bongiwe Mdingi, sal ook isiXhosa-skole in die Wes-Kaap besoek. 

Leon van den Heever, direkteur van die Sentrum vir Studentewerwing en Loopbaanadvies, het gesê die US is 'n veeltalige instelling wat sy voornemende mark in die drie amptelike tale van die Wes-Kaap wil bedien – Engels, Afrikaans en isiXhosa. 

“Die Universiteit Stellenbosch is verbind tot strategiese inskrywingsbestuur wat daarop gemik is om toegang en inklusiwiteit te verbeter, asook om die kennisaanbod van die universiteit uit te brei om nuwe studente te dien. 

“Gedurende 'n jaar van ontwrigtende veranderinge, was daar min standvastigheid. Maar die nodigheid van hoër onderwys om afgeronde professionele persone aan die mark te voorsien, en sodoende die nasie en ons ekonomie op te bou, is sterker as ooit. Die drome en strewe van kinders en hulle ouers om hulle lewens te verbeter en tot die werkplek by te dra, is nog steeds daar. Die Universiteit Stellenbosch wil voornemende studente hiervan voorsien op 'n manier wat hulle verdiep in die universiteit en waarvoor dit staan. Ons onwrikbare geloof in ons waardevoorstel, gepaard met 'n sterk handelsmerk wat uitnemendheid en toegang vergestalt, bly ongeskonde."

Van den Heever het bygevoeg dat die Sentrum daartoe verbind is om institusionele waardes uit te leef en diversiteit aan te gryp.

“Hierdie hulpbronne sal die egtheid van die Universiteit Stellenbosch se voorgraadse werwingsplanne aansienlik verbeter. Ons streef daarna om 'n plek te skep waar voornemende studente gehoor en ingesluit word, en waar studente op 'n professionele en werklike vlak met ons kundige en bekwame personeel kan verkeer.

“Die Sentrum beoog om deur persoonlike interaksie (verhoudingsbemarking) 'n poel talentvolle voornemende studente te skep en te onderhou wat in staat is om die oorgang van basiese onderwys na hoër onderwys te maak. Die Sentrum poog deurgaans om voornemende studente te help om die US se aanbod beter te verstaan. "

  • Die brosjure wat Graad 9- en 11-leerders se algemene vrae beantwoord, sal aanlyn beskikbaar wees op www.maties.com. Skole kan ook hardekopieë aanvra.
  • Skole kan die aanbiedingsvideo deur Bongiwe Mdingi per e-pos by bongiwem@sun.ac.za of telefonies by 021 808 9189 aanvra.