“Ons is wie ons is deur taal." Dit was een van die sleutelsentimente wat uitgespreek is tydens die Universiteit Stellenbosch (US) se Taaldag 2018, wat op Vrydag 28 September by die Stellenbosse Instituut vir Gevorderde Studie (SIGS) gehou is.
Vyf-en-sewentig uitgenooide studente, dosente en verteenwoordigers van professionele akademiese steunomgewings (PASO's) het die Taaldag bygewoon om die waarde van veeltaligheid te bespreek en te kyk hoe die US 'n bemagtigende omgewing kan skep waarin veeltaligheid kan gedy. Die geleentheid is gestroom en opgeneem, en 'n geredigeerde weergawe sal beskikbaar gestel word. Prof Arnold Schoonwinkel, Viserektor: Leer en Onderrig, het die opening waargeneem en aan die oop gesprekke, gerig op Veeltaligheid in Onderrig- en Leerruimtes en Veeltaligheid in Sosiale Ruimtes, deelgeneem. Die onderwerpe is deur prof Christa van der Walt en me Denai Nyagani gekontekstualiseer en bekend gestel, waarna die deelnemers die vrae bespreek het wat die sprekers gestel het. Elke groep het die geleentheid gehad om kort terugvoer in volsessies te gee, en al die terugvoer is aangeteken.
Die fasiliteerder van die geleentheid, dr Antoinette van der Merwe, sê wat haar die meeste van die dag opgeval het, was die oop en eerlike gesprekke aan tafel en die kreatiewe oplossings en voorbeelde van goeie praktyk wat oor die twee hoofonderwerpe gelewer is.
“Een van die groepe het in hul terugvoer opgemerk: 'Ons is wie ons is deur taal,' wat beteken dat ons nie identiteit en taal kan skei nie. Taal is wat ons mens maak, en die fokus was dus op respek en waardigheid vir mekaar se taal (of tale) as basiese waardes," het Van der Merwe verduidelik.
Een van die ander konsepte wat tydens die besprekings verken is, was die kwessie van taalburgerskap en dat 'n mens nie deel van die gesprek en 'n burger van Suid-Afrika kan wees as jy nie veeltaligheid omhels nie.
“Die erkenning van mekaar se taal en identiteit is baie belangrik. Dit is deel van ons identiteit om Suid-Afrikaans te wees, en al ons personeel en studente moet sensitief wees vir veeltaligheid en die stryd wat ons voer. Van die praktiese oplossings wat na vore gekom het, was die gebruik van drietalige terminologielyste, portuurbystand, uitgebreide gesprekke buite die klaskamer tussen dosente en studente binne 'n veeltalige omgewing, en sosiale geleenthede waar ons veeltaligheid saam met byvoorbeeld musiek en kos kan vier," het Van der Merwe gesê.
Die volgende stap in die voortsetting van die gesprekke en die implementering van die terugvoer van deelnemers aan die Taaldag, is die voorbereiding van 'n dokument met voorstelle, aanbevelings en voorbeelde van goeie praktyke vir verspreiding. Die deelnemers is verder uitgedaag om 'n veeltalige omgewing op institusionele, fakulteits-, departementele en individuele vlak te skep.
“Verandering begin by die individu. Al die deelnemers moet hierdie gesprek vorentoe neem in hul onderskeie omgewings en die klem laat val op dinge wat hulle kan doen, en nie verwag dat ander rolspelers dit vir hulle sal doen nie," sê Van der Merwe.
Prof Schoonwinkel het opgemerk: “Ek het dit werklik geniet om deel van die opwindende gesprekke tussen die personeel en studente uit uiteenlopende taalagtergronde te wees. Die Taaldag het baie opbouende voorstelle opgelewer oor hoe ons selfs meer voordeel kan trek uit die omhelsing van veeltaligheid aan die US en daarbuite."