Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Menseregtekommissie: US-personeel en studente getuig
Outeur: Corporate Communication and Marketing / Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking
Gepubliseer: 17/06/2021

Die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie (SAMRK) het vroeër vandeesweek (14 & 15 Junie 2021) verdere voorleggings oor die vermeende verbod op Afrikaans in koshuise tydens die verwelkomingstydperk aan die begin van die akademiese jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) aangehoor.

Dít nadat ʼn US-bestuurafvaardiging, onder leiding van die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, op 10 Mei voor die SAMRK verskyn het. Hy het toe onder meer gesê, “Daar is geen verbod op Afrikaans by die US nie – nie in lesingsale, in koshuise of op enige ander plek op kampus nie."

Dinsdag (15 Junie) het verskeie lede van studentegemeenskappe aan die US, wat kennis het oor vermeende voorvalle oor die gebruik van Afrikaans op kampus, getuig.

Me Riana Engelbrecht, die inwonende hoof van Irene-vrouekoshuis, het aan die Kommissie gesê daar was nooit enige verbod op 'n spesifieke taal by dié koshuis nie. Dit strook met die bevinding deur Deloitte dat hulle geen bewyse kon identifiseer wat ʼn beweerde verbod op die gebruik van Afrikaans by Irene tydens die verwelkomingstydperk staaf nie.

Prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het Maandag in ʼn skrywe aan personeel en studente gesê Deloitte is gevra vir 'n onafhanklike forensiese ondersoek, en hy het terugvoer (skakel) verskaf uit die Deloitte-verslag, wat verlede week ontvang is.

Deloitte het onder meer bevind dat daar geen US-bestuursopdrag was om die gebruik van Afrikaans te verbied nie, en dat koshuisleiers nie 'n verbod op die gebruik van Afrikaans geplaas het nie.

Dr Simthembile Xeketwana, inwonende hoof van Huis Francie van Zijl op die US se Tygerbergkampus, het aan die Kommissie gesê hy het nooit opdrag ontvang om studente aan te spreek om nie Afrikaans te praat nie. “Ons is divers, kom van uiteenlopende agtergronde en verwelkom die feit dat mense hul tale praat," het hy gesê.

Die primaria van Huis Francie van Zijl, me Cailin Thorp, het gesê die gebruik van taal word nie gepolisieer nie. Die onderprimarius, me Caitlin Sithole, het bygevoeg mediese studente omarm die meertalige omgewing in die koshuis want dit help hulle om met pasiënte te kommunikeer.

Dr Xeketwana, wat 'n dosent in kurrikulumstudie is, het ook aan die Kommissie gesê in die Fakulteit Opvoedkunde word ook in Afrikaans klasgegee en vergader. Hy praat ook isiXhosa by die werk.

In sy voorlegging aan die Kommissie op 10 Mei, het prof De Villiers, verduidelik aan die US word die drie amptelike tale van die provinsie waar die instelling geleë is, die Wes-Kaap, naamlik Afrikaans, Engels en isiXhosa, gebruik.

“Die US bevorder meertaligheid om billike toegang uit te brei, 'n inklusiewe kampuskultuur te skep, en studentesukses te ondersteun. Ons glo dat deur aan meertaligheid blootgestel te word en mekaar se kultuurerfenis te leer respekteer, word ons studente betrokke burgers in 'n diverse samelewing," het hy gesê.

Mnr Jethro Georgiades van die US se Sentrum vir Studentegemeenskappe, het aan die Kommissie gesê hy het geen klagtes deur amptelike kanale oor die gebruik van Afrikaans by die Capri-privaatstudenteorganisasie (PSO) tydens die verwelkomingstydperk ontvang nie.

Dit strook met Deloitte se bevinding dat hulle geen bewyse kon identifiseer om ʼn vermeende verbod op die gebruik van Afrikaans deur Capri tydens die amaMaties-dag op 6 Maart 2021 te staaf nie.

Mnr Georgiades het ook aan die Kommissie gesê dat een van die PSO's waarvoor hy verantwoordelik is, Equité, het vir tolkdienste in Afrikaans, Engels en isiXhosa tydens die verwelkomingsperiode betaal.

Me Mariëtha Lemmer, inwonende hoof van die Minerva-vrouekoshuis, het aan die Kommissie gesê toe misverstande oor die gebruik van taal tydens die verwelkomingstydperk by Minerva voorgekom het, is dit duidelik gemaak dat daar geen verbod op Afrikaans of enige ander taal is nie, en dat Minerva 'n inklusiewe benadering tot taal het. Studente van regoor Suid-Afrika en selfs die buiteland woon in Minerva, en van hulle kan glad nie Afrikaans verstaan nie.

Sy het gesê ʼn “donker atmosfeer" het in die koshuis geheers in die nadraai van negatiewe mediadekking oor die voorval, maar ná intense gesprekke, bemiddeling en berading het dinge verbeter. Die HK het eerstejaars om verskoning gevra, en die saak is bygelê.

Prof De Villiers het vroeër aan die Kommissie gesê “ons is vol vertroue dat ons studente meer keuses, groter toegang en 'n beter toekoms het danksy ons benadering tot taal".