Welcome
Welkom by Universiteit Stellenbosch
​​​​​​

Verwelkomingsboodskap van die Rektor en Visekanselier​

Welkom by die Universiteit Stellenbosch in 2024!

Die afwagting in die lug is tasbaar terwyl jy hierdie opwindende hoofstuk van jou akademiese reis aanpak!

Baie geluk met jou toewyding en deursettingsvermoë dwarsdeur jou hoërskooljare. Jy het jou finale matriekeksamen baas geraak en dit het aan jou ’n welverdiende plek by die US besorg – ’n merkwaardige prestasie. Onthou, die voorreg van ’n universiteitsopleiding is nou in jou hande en jy moet die beste van hierdie geleentheid gebruik maak.

Ons nooi jou uit om uit die staanspoor die kernwaardes van ons Universiteit – Uitnemendheid, Deernis, Verantwoordbaarheid, Respek en Billikheid – jou eie te maak. Deur hierdie beginsels persoonlik deel van jou te maak, sal jy nie net akademiese sukses verseker nie, maar dit sal van jou ’n afgeronde individu en ’n betrokke wêreldburger maak

Jou US-reis begin met ons kenmerkende Verwelkomingsprogram, wat aan jou die geleentheid bied om die kampus van nader te leer ken. Indien jy oor enigiets onseker sou voel, vra gerus jou mentors, studenteleiers of personeellede – hulle is hier om jou leiding te gee. Ons is daartoe verbind om jou bekendstelling aan die kampuslewe onvergeetlik te maak. Bly op die hoogte van die jongste verwikkelinge en skedule by www.sun.ac.za/welkom.

Jy het nou toegang tot verskeie ondersteuningsdienste by ons Afdeling Studentesake. Ervare beroepspraktisyns is gereed om jou met jou leer en ontwikkeling by te staan en bied met elke stap leiding. Gebruik hierdie dienste om jou tyd by ons Universiteit tot die maksimum te benut.

Die oorgang van skool na universiteit kan skrikwekkend lyk, maar ons glo in jou vermoë om jou studies suksesvol te voltooi en te gradueer – dis waarom jy aanvaar is! Onthou, jy is nie alleen op hierdie reis nie. Professore en dosente is toegewy tot jou sukses.

Bly selfversekerd en gefokus op jou studies en werk hard. Maar moenie vergeet om die reis te geniet nie – die lewe by ons Universiteit het die potensiaal om jou vir altyd te verander. Leer strek verder as die klaskamer, so verken klubs, neem deel aan ko-kurrikulêre en buitemuurse aktiwiteite, sluit vriendskappe met verskillende medestudente en gryp die geleenthede aan wat die US bied.

Ongeag watter rigting jy gekies het om in te studeer, is ons daartoe verbind om jou op die wêreld buite ons geboue, lesingkamers en koshuise voor te berei. Daar sal uitdagings wees, maar beskou dit as groeigeleenthede.

Moenie huiwer om uit te reik indien jy in die komende weke en maande hulp sou nodig kry nie. By Maties gaan ons saam vorentoe en baie vriendskappe wat hier gesmee word, duur ’n leeftyd.

​Welkom by ’n ongelooflike jaar by die Universiteit Stellenbosch!

Prof Wim de Villiers

US Rektor en Visekanselier