​​​​​JOU LEERREIS NA AKADEMIESE SUKSES BEGIN HIER

Die verwelkoming is die begin van 'n reis na akademiese sukses. 

Dié leerreis duur so lank as wat jy aan die Universiteit Stellenbosch (US) studeer. Reeds in die verwelkomingsweek begin jy die verskillende dele van jou US-lewe integreer en sal jy leer dat die koshuise, PSO-wyke en klusters waardegedrewe omgewings is wat deur gasvryheid, vriendelikheid en menswaardigheid gekenmerk word.

As eerstejaarstudent betree jy 'n fase van vinnige ontwikkeling. Onthou, jou sosiale en emosionele aanpassing by die universiteitservaring maak 'n integrale deel van jou leerreis en persoonlike ontwikkeling uit. Hou veral die volgende in gedagte:

'n Eerstejaar gaan deur 'n intensiewe fase van verandering waartydens 'bekende' houdings, waardes en gedragspatrone dikwels aangepas en ontwikkel word. Daarmee saam ontwikkel uitdagende en inspirerende denkpatrone. (Navorsing toon dat jy en jou mede-eerstejaars gedurende die verwelkomingstyd meer gereed is vir verandering as in enige ander stadium van julle universiteitsloopbane.)

Jou bekendstelling aan sosiale en gemeenskapstrukture in die verwelkomingsweek is belangrik. Dít sluit strukture soos klusters, koshuise, PSO-wyke, mentorgroepe, fakulteite (soos studie- en tutorgroepe), sportklubs en verenigings in.

Rolmodelle wat die Universiteit se waardes uitleef en sukses op hul leerreise behaal, kan vir jou van groot nut wees.

Dit is uiters belangrik dat jy as deel van die verwelkomingsprogram die administratiewe en akademiese vereistes van jou fakulteit noukeurig en betyds nakom. Só maak jy seker dat jy op die eerste dag van klasse gereed is vir die aanvang van die akademiese deel van jou leerreis.

Die twee belangrikste ontwikkelingsfases van 'n eerstejaar se leerreis is:

  • die hantering van vryheid (waarvoor en hoe om nee te sê);
  • om namens jouself te onderhandel
Begin reeds in die verwelkomingsweek hiermee. Meet alles van die verwelkomingsprogram aan die hand van die volgende vrae, en vra jouself hoe die verskillende aspekte van die verwelkomingsprogram by die groter prentjie inpas.
 
Vra jouself die volgende vrae oor elke aktiwiteit waaraan jy in die verwelkomingsweek deelneem. (Onthou, dit sluit alles in, ook jou eie besluit om soms nie aan aktiwiteite deel te neem nie.)

  • Hoe bevorder dit my reis na suksesvolle studie (leerreis)?
  • Stel dit my as eerstejaar aan positiewe sosiale verhoudinge/groepe bekend?
  • Dra dit by tot emosionele stabiliteit en emosionele ontwikkeling?
  • Help dit my om by gesonde luister-, leef- en leergemeenskappe aan te sluit en moedig dit my aan om selfstandig dog ook interafhanklik deel te neem?
  • Skep dit 'n rustige, veilige en opbouende luister-, leef- en leerruimte waar ek duidelikheid oor die aard, inhoud, keuse en vorm van my leerreis kan kry?
    ​​