Welcome
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Versekering: Studente en hul Eiendom

​​

"'n Veilige kampus vir almal" – dié woorde gee uitdrukking aan ʼn kernstrewe van die Universiteit Stellenbosch (US).

​Nie alleen voer die US ʼn deurlopende veldtog om personeel, studente en besoekers bewus te maak van potensiële risiko's wat hul veiligheid en of gesondheid kan bedreig nie, maar waar nodig, word daar ook gebruik gemaak van die US Risikobestuur en Kampussekuriteit, asook die Suid-Afrikaanse Polisiediens, om sekuriteitsmaatreëls deurentyd toe te pas en te monitor.

Studente neem deel aan akademiese uitstappies, laboratoriumproefnemings, sport en ander vrywillige aktiwiteite, waar hulle aan risiko's blootgestel kan word. Die Universiteit neem alle redelike maatreëls om studente en hulle eiendom te beveilig wanneer hulle deelneem aan hierdie aktiwiteite en tydens hulle alledaagse kampuslewe. Dit is egter onmoontlik om alle risiko's uit te skakel.

Aangesien dit nie vir die Universiteit moontlik is om studente en hulle eiendom teen alle risiko's te beskerm nie, neem studente op eie risiko aan alle Universiteitsverwante-aktiwiteite deel.

Die Universiteit neem nie persoonlike ongevalle­versekering, mediese versekering of enige ander versekering namens studente uit nie. Die Universiteit wil dit graag onder u aandag bring dat elke student verantwoordelik is vir sy/haar eie versekering en beveel dus aan dat hy/sy voldoende omvattende versekeringsdekking sal uitneem vir sy/haar persoonlike besittings, asook persoonlike ongevalle- en/of mediese versekering.