​​US-kampusse moet nóg meer water bespaar​

​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​​water crisis_1.jpg


Die goeie nuus is dat studente en personeel aan die Universiteit Stellenbosch (US) reeds 30% minder water as in die ooreenstemmende tyd verlede jaar gebruik, en dat gerugte dat kampusse weens die waterkrisis gaan sluit, beslis nie waar is nie.

Die slegte nuus is dat die watergebruik nog verder moet verminder en dat vlak 6B-waterbeperkings nog in dié maand (Februarie) vir Stellenbosch aangekondig gaan word.

John de Wet, Bestuurder: Omgewingsvolhoudbaarheid by Eiendomsdienste aan die US, sê dit is verblydend dat die personeel en studente bewus is van die waterbesparingsinisiatiewe en minder water gebruik. Die Afdeling Fasiliteitsbestuur het reeds sedert November verlede jaar intensiewe intervensies begin om watergebruik te verminder; waterbesparingsbewustheid onder personeel en studente te kweek; alternatiewe waterbronne te vind en gryswater te herwin.

De Wet sê: “Ons hanteer die watersituasie verskillend op die onderskeie kampusse. Stad Kaapstad het op 1 Februarie met vlak 6B-waterbeperkings begin, met 'n teiken van 50 liter per persoon per dag. Die Universiteit moet 45% water bespaar teenoor 2015 se watergebruik en die twee proefplase moet 60% water bespaar teenoor 2015."

Hoewel Stellenbosch se waterbesperking nog op 87 liter per persoon per dag vasgestel is, is studente en personeel versoek om volgens die beperking van 50 liter per persoon per dag te werk.

De Wet voel die waterverbruik kan nog afneem.

Hy verduidelik: “Die personeel doen reeds baie om watergebruik te verminder. Hulle is al deeglik bewus van waterbesparing.  Maar 35% van die water wat by administrasiegeboue gebruik word, vind by handwasbakke plaas. As ons dit sou kon stop, sal ons nog meer water kan bespaar.

“Die studente in koshuise het baie oulike stelsels om water te bespaar. Hulle vang hul stortwater op en spoel toilette daarmee. Baie van die studente doen heelwat om te help met die proses. Al die pogings van studente en personeel dra by tot die 30% waterbesparing."

So lyk die US se waterintervensies:

  • Stortkoppe is verander en waterdruk in krane is verlaag;
  • Sakke is in toiletbakke geplaas om een liter water per spoel te spaar;
  • Sewe boorgate op die Stellenbosch-kampus verskaf alternatiewe waterbronne;
  • Vir swembaddens en kunsmatige hokkievelde word net boorgatwater gebruik;
  • Krieketvelde word net met water van boorgate en die dam natgelei;
  • Net die Craven A-veld word met damwater besproei om die bestaande ooreenkoms met die FNB Varsity Cup na te kom. Spelers oefen ook daar en as dit droog is, breek die gras af en 'n sandveld ontstaan. Al die ander rugbyvelde word nie meer natgelei nie;
  • Die Lentelus-sportvelde is natgelei totdat die gras gevestig was. Dié stadium is nou bereik en dit word dus nie meer natgelei nie.
  • Tuine word reeds sedert November 2017 nie meer natgemaak nie. Boorgate op strategiese plekke word gebruik om ou historiese tuine, soos by die Wallenberg-sentrum en enkele ander, net genoeg water te gee om aan die lewe te bly.
  • Eendrag en Simonsberg het reeds gryswaterstelsels wat stortwater suiwer vir die besproeiing van tuine. Soortgelyke stelsels is ook op die Tygerberg-kampus aangebring.
  • 'n Omvattende gryswaterprojek begin aanstaande maand (Maart). Gryswater van koshuise sal deur een sentrale suiweringstelsel vloei en terug gelei word vir die spoel van toilette.
  • Twee groot suiweringsaanlegte vir onderskeidelik die Tygerberg- en Belvillepark-kampus aangekoop. Dit sal sowat agt weke neem om dié aanlegte op te rig. Sodra die projek voltooi is, sal die Belvillepark-kampus 100% selfvoorsienend wees.
  • Op die Tygerberg-kampus verskaf die vyf boorgate water - wat gesuiwer word – sowat 50% van die kampus se water.
  • Die swembad by Tygerberg word reeds as reservoir gebruik. Indien nodig sou water ook vanaf die gruisgat op die Bellvillepark-kampus na Tygerberg vervoer kan word.
  • Die US ontvang behandelde rioolwater van die Stellenbosch Munisipaliteit om sekere bome op Stellenbosch nat te lei.
  • Die US het twee damme - Ertjieskloof en Welgevallen - waarvan die US 'n kwota het om die damwater in die somer vir besproeiing te gebruik. Dié water word vir die Craven-A-veld, die krieketbaan en atletiekbaan se middelste grasperk gereserveer.

Wat behels die droogte-reaksieplan van die US:

Die plan is gebaseer op drie vertrekpunte: verminderde watergebruik deur mense se gedrag te verander en ander intervensies; die hergebruik van gryswater; en om alternatiewe waterbronne te vind.

De Wet het bygevoeg: “Die belangrike boodskap is: hoe laer ons waterverbruik nou is, hoe verder stel ons Dag Zero uit. Ons personeel en studente moet in ag neem dat die 50 liter hul totale waterverbruik  per dag insluit, op kampus en by die huis."

Wat kan jy nou nog doen?

  • Stort so kort as moontlik – nie langer as twee minute nie – en vang die stortwater in 'n emmer op.
  • Gebruik 'n prop in die wasbak wanneer jy hande was, tande borsel of skeer. Moenie water net laat wegloop nie.
  • Spoel toilette met stortwater.
  • 'n Toilet hoef nie na elke gebruik gespoel te word nie.
  • Stel 'n voorbeeld en inspireer ander om minder water te gebruik.
  • Hoewel die US nie gedurende die reses van 30 Maart tot 8 April sal sluit nie, word studente aangemoedig om in dié tyd huis toe te gaan. Dit sal help om waterverbruik in Stellenbosch te verminder.
  • Hoewel wateronderbrekings nie in hierdie stadium voorsien word nie, word personeel en studente aangeraai om 5 liter water beskikbaar te hê om ongerief te voorkom. 

​ 

water crisis_8.jpg

'Smart Water Meter' verskaf innoverende oplossing vir die vermorsing van water

​Die Wes-Kaap gaan tans gebuk onder 'n ernstige droogte, en innoverende oplossings is meer noodsaaklik as ooit tevore. 

water crisis_3.jpg 

Chemie-studente spaar 3000 liter water per week in lab

Drie Chemie-studente aan die Universiteit Stellenbosch (US) het die waterverbruik van hulle laboratorium met ten minste 3 000 liter per week laat afneem.

water crisis_5.jpg 

Hoe volhoubaar is Suid-Afrika se grondwaterbronne?​​

Dít is die groot vraag wat drie nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US) wil beantwoord. 


water crisis_4.jpg

US-inisiatiewe om water te bespaar​​

Die Universiteit Stellenbosch het verskeie intervensies om water te bespaar geïmplementeer - van die opvangs van gryswater vir hergebruik tot die grootskaalse uitrol van waterbesparende koppeling en toestelle.​​​

water crisis_6.jpg 

“Waterkrisis" het meer as een oorsaak, sê waternavorser

Indien alle Kapenaars saamstaan en water bespaar, kan die water in ons damme nog vir dubbel die huidige geskatte periode voldoende wees.

Pic by: Ashraf Hendricks/GroundUp (CC BY-ND 4.0)

water crisis_8.jpg 

Nuwe kwalifikasie in waterprosesbestuur nader voltooiing

'n Interaktiewe werkswinkel om die inhoud van 'n nuwe beroepskwalifikasie vir waterprosesbestuur te ontwikkel, is van 19 tot 21 Julie by die Faure Waterwerke in die Wes-Kaap deur die Stellenbosch Universiteit Water Instituut (SUWI) aangebied.

water crisis_7.jpg 

How smart meters can save water in drought ridden Cape Town​

The water crisis in South Africa’s Western Cape is cause for grave concern. Authorities are desperately trying to find new water sources, due to consumption not reducing to sustainable targets. ​

Pic by: Ashraf Hendricks/GroundUp (CC BY-ND 4.0)


​Vir meer artikels oor water, KLIEK HIER

Kliek vir wenke om water te bespaar​
watertap2.jpg​​Woordfees_afr.png

Die versterking van sistemiese volhoubaarheid is een van die strategiese prioriteite van die Universiteit Stellenbosch. Dit staan parallel met die verbreding van toegang, behoud van momentum van uitnemendheid, die bevordering van sosiale impak, die uitbreiding van internasionalisering, en die bevordering van sistemiese transformasie. Lees meer oor die instelling se deurlopende volhoubaarheidsinisitiewe (onder meer waterbesparing): http://www0.sun.ac.za/sustainability/pages/afrikaans/oor-ons.php​​