Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Hoe volhoubaar is Suid-Afrika se grondwaterbronne?
Outeur: Wiida Fourie-Basson
Gepubliseer: 22/02/2017

Dít is die groot vraag wat drie nagraadse studente van die Universiteit Stellenbosch (US) wil beantwoord. En dit wil hulle doen deur so veel as moontlik reënwater- en grondwatermonsters vanoor die hele land bymekaar te maak.

Maar hiervoor het hulle jóú hulp nodig.

Dr. Jodie Miller, 'n isotoopgeochemikus in die US se Departement Aardwetenskappe, sê Suid-Afrikaners is geneig om na grondwaterreserwebronne te draai in tye van droogte om te kompenseer vir onvoldoende reënval. "Met hierdie projek wil ons 'n model ontwikkel deur middel waarvan die verspreiding van hernubare grondwater in Suid-Afrika gekarteer kan word. Dit is baie belangrik om die omvang en aard van ons hernubare grondwaterreserwes te verstaan ten einde  óórontginning te voorkom en in plaas daarvan, 'n volhoubare bestuursplan te implementeer," verduidelik sy.

MSc-student Jared van Rooyen en HonsBSc-studente Yaa Agyare-Dwomoh en Zita Harilall, het nou vorendag gekom met 'n skarefinansiering- en burgerlike wetenskapsinisiatief om hulle projek te finansier.

Skarefinansiering vir grondwatermonsters

Met hierdie projek wat op 22 Februarie op die Suid-Afrikaanse skarefinansieringsplatform Thundafund in aanvang neem, hoop hulle om R60 000 te in om die nodigste kostes te dek vir die oprig van 100 reënmeters as monsterversamelpunte.

Maar indien hulle R200 000 kan in, sal hulle hulle doelwit bereik: die oprigting van 300 reënmeters, sowel as die aanskaf van 'n dompelmeter. Hierdie instrument kos R15 000 en sal hulle in staat stel om die diepte van die grondwater in verskillende dele van die land akkuraat te meet.

Hoe meer monsterversamelpunte hulle in die navorsingsmodel kan insluit, hoe meer akkuraat gaan dit wees (sien die verskil op die twee kaarte hieronder):

  

Die fondse sal ook gebruik word om monsters van bestaande boorgate te neem en 'burgerlike wetenskaplikes' te bemagtig om watermonsters te versamel. Elke burgerlike wetenskaplike sal sy of haar eie steekproefstel ontvang, asook die nodige versendingskoste om die watermonsters na Stellenbosch te stuur om geanaliseer te word.

Die wetenskap agter die projek

"Die modellering van grondwaterbronne is nie iets nuuts nie," verduidelik Miller. "Maar omdat Suid-Afrika geologies baie kompleks is, het ons meer plekspesifieke data nodig om 'n akkurate beeld te kry van wat besig is om met ons grondwater in die verskillende opvanggebiede te gebeur."

Sy sê daar is 'n wesenlike verskil tussen nuwe grondwater, jong grondwater en 'n derde kategorie waarna hidroloë verwys as fossielwater. Breedweg gestel is nuwe grondwater, water wat oor die afgelope 50 jaar deur reënval aangevul is. Jong grondwater lê al vir 'n paar dekades lank ondergronds, terwyl fossielgrondwater of diepwater vir millennia onaangeraak gelaat is.

Dit is dus belangrik om te weet én te verstaan hoe gereeld grondwater aangevul word, sodat bepaal kan word of dit 'n hernubare bron is of nie. Maar hoe stel jy vas wanneer laas grondwater aangevul is? 

Miller verduidelik: "Ons gebruik Tritium (3H), die radioaktiewe isotoop van waterstof om te bepaal wanneer water wat die grondwatersisteem binnekom, laas in kontak met die atmosfeer was. Tritium word in die stratosfeer natuurlik gevorm en reën uit op die aardoppervlak. Sodra dit die grondwatersisteem binnekom en van die atmosfeer geïsoleer word, ontbind dit teen 'n konstante tempo.

 

"Hoe langer grondwater dus van die atmosfeer geïsoleer is, hoe laer is die tritiumkonsentrasie. Indien ons weet wat die tritiumkonsentrasie in reënwater is, en wat die konsentrasie in 'n grondwaterreservoir is, kan ons voorspel hoe gereeld die water aangevul word.

"Sodra ons dít weet, kan ons modelleer hoe hernubaar die bron is, sowel as hoe kwesbaar dit is vir variasies in die klimaatstoestande, soos byvoorbeeld vir 'n afname in reënval."

Met so 'n model sal hulle in staat wees om areas te identifiseer wat hernubare bronne het vir volhoubare landbou-ontwikkelings, sowel as daardie areas waar waterbronne beskerm moet word (sien grafika regs, gebaseer op Alley et al 1998).

Lang termyn grondwaterbestuurstrategie vir Suid-Afrika

Prof. Eugene Cloete, Vise-Rektor: Navorsing, Innovasie en Nagraadse Studies by die US, sê grondwater word misbruik omdat dit verkeerdelik as 'n onbeperkte waterbron beskou word: "Dit is van die uiterste belang om die grondwatersiklus as deel van die watersiklus te verstaan ten einde hierdie waardevolle waterbron beter te bestuur."

Hierdie projek is die eerste stap om 'n volhoubare grondwater bestuurstrategie vir Suid-Afrika te ontwikkel, voeg Miller by.

Dit sal die eerste ondersoek in Suid-Afrika oor grondwaterbronne wees wat met behulp van skarefinansiering gedoen word en 'n burgerlike wetenskapsinisiatief inkorporeer.

 

Onderskrifte

[weknowwater_group.jpg]

Drie nagraadse studente van Stellenbosch Universiteit het met 'n skarefinansieringsprojek begin om R200 000 in te samel vir hul navorsing oor die volhoubaarheid van Suid-Afrika se grondwaterbronne. Van links na regs, MSc student Jared van Rooyen en mede BScHonns studente, Yaa Agyare-Dwomoh en Zita Harilall, saam met hul studieleier, Dr Jodie Miller. Foto: Stefan Els

[100samplingpoints.jpg & 300samplingspoints.jpg]

Het jy 'n boorgat op jou eiendom? Word 'n burgerlike wetenskaplike en neem deel aan hierdie navorsingsprojek van die Universiteit Stellenbosch om die volhoubaarheid van Suid-Afrika se grondwaterbronne te ondersoek. Hoe meer monsterversamelpunte daar in die navorsingsmodel ingesluit word, hoe meer akkuraat gaan dit wees. Grafika: Jodie Miller

[groundwatercycle and tritium.png]

Tritium word in die stratosfeer natuurlik gevorm en reën uit op die aardoppervlak. Sodra dit die grondwatersisteem binnekom en van die atmosfeer geïsoleer word, ontbind dit teen 'n konstante tempo. Hoe langer grondwater dus van die atmosfeer geïsoleer is, hoe laer is die tritiumkonsentrasie. Wetenskaplikes vergelyk die tritiumkonsentrasie in reënwater met die titriumkonsentrasie in 'n grondwaterreservoir in dieselfde area. So kan hulle vasstel hoe gereeld die water aangevul word. Grafika: gebaseer op Alley et al, 1998).

 

Medianavrae

Dr Jodie Miller

T: 021 808 3121

E:  jmiller@sun.ac.za

 

Mr Jared van Rooyen

M: +27 72 795 6776

E: 16469003@sun.ac.za

Uitgereik deur Wiida Fourie-Basson, Media: Fakulteit Natuurwetenskappe, Universiteit Stellenbosch

T: 021 808 2684     E: science@sun.ac.za     S: 071 099 5721