Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe kwalifikasie in waterprosesbestuur nader voltooiing
Outeur: Media and Communication, Faculty of Science
Gepubliseer: 18/08/2017

'n Interaktiewe werkswinkel om die inhoud van 'n nuwe beroepskwalifikasie vir waterprosesbestuur te ontwikkel, is van 19 tot 21 Julie by die Faure Waterwerke in die Wes-Kaap deur die Stellenbosch Universiteit Water Instituut (SUWI) aangebied.

Die deelnemers was verteenwoordigend van verskeie instansies in die watersektor, waaronder die beheerliggaam vir onderrig en opleiding in die energie en watersektor (EWSETA), die Water Instituut van Suider-Afrika (WISA), die munisipaliteite van die Stad Kaapstad, Drakenstein, Nelson Mandela Metro en Govan Mbeki, sowel as die Suid-Afrikaanse Nasionale Parkeraad, die Instituut vir Munisipale Ingenieurs van Suid-Afrika (IMESA), Randwater, kolleges van die Boland en Weskus en die Departement van Water en Sanitasie (DWS) se Waterdiensektor Leierskapsgroep (WSSLG).

Mnr. Manual Jackson, SUWI projekbestuurder, sê die raamwerk vir die ontwikkeling van die kwalifikasie is tydens 'n vorige werkswinkel op 24 April 2017 ontwikkel: “Gedurende hierdie werkswinkel is die motivering vir die ontwikkeling van die kwalifikasie en die ontwikkeling daarvan onderhewig aan die QCTO raamwerk bespreek. Na die werkswinkel is 'n werksgroep geïdentifiseer en die verskillende rolspelers se bydraes bevestig."

Die volgende instansies was by hierdie werkswinkel teenwoordig: die Suid-Afrikaanse Plaaslike Regering Ondersteuningsagentskap (SALGA), WISA, die munisipaliteite van Drakenstein, Swartland, Bergrivier, George, Swellendan, die Stad Kaapstad, Knysna en Mosselbaai, IMESA, DWS, asook die Tshwane Universiteit van Tegnologie (TUT) en die beheerliggaam vir onderrig en opleiding in plaaslike regeringsektor (LGSETA).

Tydens die volgende werkswinkel van 23 tot 25 Augustus by Randwater in Johannesburg sal die kwalifikasie gefinaliseer word. Daarna sal die dokumentasie gereed gemaak word vir registrasie van die kwalifikasie by die beheerliggaam vir Suid-Afrikaanse kwalifikasies (SAQA) vroeg in 2018.

Dit sal 'n nasionale kwalifikasie wees en belangstellendes behoort teen einde 2018 by enige opleidingsinstansie wat deur die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding goedgekeur is, te kan inskryf.

 

Op die foto: Mnr Allan Blanckenberg (Stad van Kaapstad), Ms Kedibone Matampi (ILG), Mr Mlungis Hoco (Nelson Mandela Metro), Mr Manuel Jackson (SUWI), Ms Marcia Letlhake (Randwater), Mr Sydney Armoed (WISA), Mr Dewald van Staden (WISA), Ms Thandiwe Shashu (EWSETA), Mr Farouk Roberton (City of Cape Town),  Mr Ronald Brown (Drakenstein Municipality), Mr Lazarus Msibi (Govan Mbeki Municipality). Afwesig toe die foto geneem is: Mr Setsopo Tsibiso Maphutha (DWS), Mr Mario Bowers (WISA), Mr Linford Molaba (SANParks), Ms Renecia Wilson (EWSETA), Prof Alvin Lagardien (CPUT), Mr Tobile Gqili (Quality Council for Trade and Occupations), Ms Zandra Prinsloo (West Coast College), Mr Andre Muller (West Coast College), Mr Alie Crook (Boland College), Dr Elanna Bester (SUWI), Ms Hillary Siebritz (SUWI).