Indien alle Kapenaars
saamstaan en water bespaar, kan die water in ons damme nog vir dubbel die
huidige geskatte periode voldoende wees.
Só sê Dr. Willem de
Clercq, ‘n waternavorser verbonde aan die Universiteit Stellenbosch (US) se Water Instituut (SUWI).
Hy sê die huidige
“krisis” word veroorsaak deur die sameloop van verskeie faktore, waaronder ‘n
groter bevolking, klimaatsverandering en verwarming: “Suid-Afrika het al baie
droogtes beleef en oorleef. En terwyl die huidige droogte nie noodwendig die
ergste droogte ooit is nie, moet mense egter besef dat hierdie die eerste
droogte is waar ons water aan 54 miljoen mense moet voorsien.”
So byvoorbeeld moet
die Stad Kaapstad tans water voorsien aan
meer as agt miljoen mense: “Baie van hulle was twee tot drie jaar gelede nog waterverbruikers
op die platteland. Die afgelope tien jaar het die Stad Kaapstad reeds sy
jaarlikse water begroting meer as verdubbeld,” verduidelik hy.
“Ons is ook binne ‘n
tydperk van groot seisoenale klimaatsonstabiliteit wat groot probleme
veroorsaak vir die landbou, werkverskaffing en die vermoë van Wes-Kaapse
uitvoerboere om inkomste te genereer. Dit veroorsaak voorts dat meer mense uit
die platteland na die stede stroom.”
Almal moet derhalwe groter rentmeesterskap ten opsigte
van ons waterbronne aan die dag lê om hierdie komplekse sameloop van
omstandighede te kan bestuur.
Hy sê die Wes-Kaapse
regering en veral die Stad Kaapstad het hulle tot dusver uitstekend van hul
taak gekwyt. Maar hulle het die publiek se samewerking nodig.
“Die watervlak in die
damme kan normaalweg nie laer as 25% sak nie. Dan begin die slikgelaaide water
deur die stelsels beweeg. Dit veroorsaak allerhande probleme met onderhoud van
die pypstelsels en die munisipaliteit se vermoë om suiwer water aan die
verbruiker te verskaf. Sulke water gaan noodwendig slegter smaak en sal beteken
dat drinkwater aangekoop moet word,” waarsku hy.
Dr. De Clercq sê daar is heelwat alternatiewe beskikbaar
om watervoorsiening en –opgaring vir die Wes-Kaap te verbeter, maar dit kom
teen ’n prys: “Ontsouting vir Kaapstad gaan beteken dat ons nog ’n kragsentrale
moet bou.
“Ons kan die geld en tyd baie beter bestee deur te werk
aan die herbeplanning en verhoogde doeltreffendheid van ons huidige opgaring-
en verspreidingsisteme.”
Die Stad Kaapstad het ook verskeie rugsteun planne. Soos
om water deur die Du Toitskloof tonnel na Paarl en vandaar na die Kaapstad
sisteem te gelei. Of om grondwaterbronne te ontgin: “Die berge se akwifere
stoor geweldig baie water maar die gebruik van die water kan moontlik ‘n impak hê
op die plant- en dierelewe. Die munisipaliteit het egter reeds baie gedoen om
hierdie bron te karakteriseer sodat dit juis in omstandighede soos hierdie
gebruik kan word,” voeg hy by.
Maar die belangrikste oorweging bly steeds Suid-Afrikaners
se houding ten opsigte van water en om te besef dat dit almal se
verantwoordelikheid is om water te bespaar en te beskerm, sluit hy af.