Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

2. Maak sin van befondsing in die hoëronderwyssektor in SA

  • Universiteite is die afgelope twee dekades blootgestel aan kroniese onderbefondsing (jaarlikse stygings onder die verbruikersprysindeks - VPI), wat grootliks die oorsaak is van die huidige finansiële krisis in die hoëronderwyssektor.
  • Suid Afrika se belegging in onderwys as ‘n % van die Bruto Binnelandse Produk (BBP) is veel laer as in ander Afrika- en BRICS-lande.

  • Terwyl Suid-Afrika ongeveer 0,71% van sy BBP aan hoër onderwys bestee, is dié syfer vir die VSA en Brittanje 0,9%, en vir Duitsland 1,1%.
  • Die staatsubsidie het stelselmatig begin afgeneem, met ‘n jaarlikse styging laer as die VPI, terwyl uitgawes teen ten minste die Hoëronderwysprysindeks (HOPI) styg. Met die draai van die eeu was die staat se bydrae tot universiteitsopleiding in SA ongeveer 49%, maar teen 2012 het dit tot 40% gedaal. In dieselfde tydperk het studentegelde van 24% tot 31% gestyg.


 

 

Verbruikersprysindeks (VPI)

In eenvoudige terme is die Verbruikersprysindeks (VPI) ’n maatstaf wat gebruik word om prysveranderings in ’n vaste mandjie van verbruikersgoedere en -dienste te bepaal. Die verbruikersmandjie sluit die koste van vervoer, kos en mediese sorg in, en die VPI is ’n indikasie van lewenskoste. Die VPI van 6,42% is ‘n vooruitskatting vir 2017.

Hoëronderwysprysindeks (HOPI)

Eweneens is die Hoëronderwysprysindeks (HOPI) ’n maatstaf wat gebruik word om prysveranderings in ’n vaste mandjie van goedere en dienste verkry deur die hoëronderwyssektor te bepaal. Dit sluit die volgende in: professionele salarisse (universiteite stel die kundigheid van akademiese personeel soos professioneel geëvalueerde wetenskaplikes hoog op die prys), lone en byvoordele, gekontrakteerde dienste, biblioteekaanskaffings, nutsgoedere, vervoer, voorraad en materiaal, en tegnologie. Die HOPI help universiteite om die begroting en befondsing-toenames te bepaal wat benodig word om volhoubare finansiële bestuur van die instelling te verseker. Die HOPI is ’n meer akkurate aanwyser van die inflasiekoers as die VPI, as gevolg van die hoër kostes van die HOPI- vaste mandjie van goedere en dienste.

Die nominale jaarlikse toenames in die bloktoekenning van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding  vir die hoëronderwyssektor is deurgaans laer as die Vebruikersprysindeks (VPI).
cpi_afr.png

  • Die tekort aan voldoende fondse is vererger deur die 0% styging in studentegelde, vir 2016, en dit sal ’n rimpeleffek hê tot na 2019.
  • Universiteite benodig nou ’n minimum styging van 8% in jaarlikse inkomste vir 2017 om huidige vlakke van akademiese uitnemendheid en finansiële volhoubaarheid te kan volhou. Dié inkomste kan van ʼn verskeidenheid bronne verkry word.
  • Maar hierdie styging sal instellings net in staat stel om huidige standaarde en aktiwiteite te handhaaf. Dit maak nie voorsiening vir enige verbeteringe, groei of innovasie nie. Dit sal ook nie vir die lang termyn finansiële volhoubaarheid kan verseker nie - 'n posisie waarin universiteite hul nie graag bevind nie, met negatiewe implikasies vir die gehalte van die akademiese aanbod in die sektor.  

  • Suid-Afrikaanse universiteite verskil drasties in vorm, grootte en samestelling, en dus ook die studentegelde by verskillende instellings. Sekere instellings fokus op navorsingsuitsette, kontraknavorsing en nagraadse studie, met laboratoriums, biblioteke en tegnologie wat duur is om in stand te hou. Dieselfde geld vir instellings wat programme aanbied in geneeskunde en gesondheidswetenskappe, natuurwetenskappe, agriwetenskappe en ingenieurswese. ’n Eenvormige styging in studentegelde vir alle universiteite is dus nie ’n ideale oplossing vir die volhoubaarheid van die sektor nie.
     

 


Die tabel (bo) illustreer die vergelykbare koste van studentegelde by 10 van Suid-Afrika se 26 universiteite. Die bedrae sluit onderrig, registrasie, huisvesting, maaltye en boeke in.

Bostaande vergelyking van studiekostes by verskillende akademiese instellings sluit klasgeld, registrasie, akkommodasie, maaltye en boeke in.

Bostaande tabel is ‘n vergelyking van verskillende akademiese programme se onderrigkostes. Kostes wissel vanweë keuse-modules of selfs verskillende studievelde binne een program, wat dan onderrigkostes beïnvloed.

  • ʼn Styging in inkomste van minder as 8% vir 2017, sal die finansiële posisie van ten minste twee derdes (17) van die universiteite in die hoëronderwyssektor (26) in die gedrang bring.
  • Dié omstandighede duur voort terwyl die Departement van Hoëronderwys en Opleiding op universiteite druk uitoefen om hul inname van studente te verhoog asook die deurvloeikoers van studente te verbeter (waarvoor die US meestal onbefonds is).
  • Die potensiële impak van die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding  se nuwe subsidie-formule vir universiteite, en die tydlyn vir die implementering daarvan het onsekerheid geskep binne die hoëronderwyssektor.
  • Probleme met die administrasie van fondse deur die Nasionale Finansiële Hulpskema vir Studente (National Student Financial Aid Scheme of NSFAS), tesame met die nuwe aansoekplatform het verder bygedra tot die onsekerheid.