Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Studentegelde

​​​​​​​

Gedifferensieerde 2018-fooistruktuur in US-studenteforums bespreek , 11 Oktober 2017

Vir die boekjaar 2018 stel die Universiteit Stellenbosch (US) 'n gedifferensieerde struktuur vir studiegeld voor wat enersyds onderskei tussen huidige studente wat reeds in die stelsel is, en nuwe studente wat volgende jaar die eerste keer registreer, en andersyds tussen die verskillende fakulteite sowel as modules ín fakulteite. 'n Gedifferensieerde fooistruktuur sal eweneens vanaf 2018 vir sekere kategorieë internasionale studente geld.

Bestuurslede en personeel van die afdeling Finansies het die afgelope weke in verskeie studenteleierskaps-forums en verteenwoordigende institusionele komitees met studente gesprek gevoer oor studentegelde en die nuwe gedifferensieerde fooistruktuur.

Huidige voor- en nagraadse studente sal in 2018 'n basislyntoename van 8% in studiegeld ondervind, terwyl die nuwe gedifferensieerde fooie, met wisselende bykomende stygings per fakulteit wat op die onderskeie waardevoorstelle berus, met ingang van 2018 vir nuwe studente ingefaseer sal word.

Die voorgestelde kostestyging vir studentehuisvesting in 2018 is 9,2%, wat R4,2 miljoen vir bykomende sekuriteitspatrollies om die Universiteit se koshuise insluit. Die koste van etekwotas in koshuise sal met 8% toeneem.

Die doel van die fooistyging van 8% is om die instelling se finansiële volhoubaarheid op lang termyn, akademiese kwalifikasies en navorsingsuitsette van wêreldgehalte sowel as 'n konsekwente en beduidende positiewe impak op die samelewing te verseker. Die voorgestelde wisselende bykomende stygings is noodsaaklik weens 'n aantal faktore, waaronder die finansiële volhoubaarheid van die US se waardevoorstel, die regering se verwagte nuwe subsidieformule, 'n eenmalige regstelling van modulefooie óf bykomende koste weens moduleherskikking, en aansienlik laer studiegeld as ander instellings in sommige akademiese programme.

Stygings getemper met finansiële steun

Te midde van die fooistygings bly die US daartoe verbind om akademies verdienstelike studente in finansiële nood te ondersteun. Prof Wim de Villiers, Rektor en Visekanselier van die US, het reeds herhaaldelik die ongelykhede in die Suid-Afrikaanse samelewing erken. Terwyl diegene uit welgestelde en hoërmiddelklasgroepe self universiteitsonderrig kan bekostig of lenings van die finansiële sektor kan bekom, is daar ook 'n groot groep studente uit lae-inkomstehuishoudings wat oor weinig indien enige toegang tot die finansiële sektor beskik en geensins tot die finansiering van hulle studie en huisvesting kan bydra nie.

“Daarom ondersteun en volg ons 'n gedifferensieerde benadering. Die impak van die markverwante fooistygings vir 2018 sal getemper word deur finansiële steun aan akademies verdienstelike arm studente op grond van hulle totale jaarlikse huishoudelike inkomste. Die US se eie beurse sal ook tred hou met die stygings in klas- en huisvestingsgeld," sê prof De Villiers.

​Die US bestuur 'n beurs-en-leningsportefeulje om studente finansieel te ondersteun. Hierdie finansiële bystand sluit 'n aansienlike bydrae uit die US se hoofbegroting sowel as van huidige en vorige skenkings in. Ongelukkig ís dit so dat die behoefte aan finansiële steun altyd die beskikbare finansiering sal oorskry. Die Universiteit het in 2016 beurse ter waarde van R725 miljoen bestuur (2015: R659 miljoen): Vir R283 miljoen se beurse (onder meer van NSFAS) was die US 'n agent, terwyl die oorblywende R442 miljoen se bystand (2015: R403 miljoen) uit die instelling se eie hulpbronne en navorsingskontrakte gekom het, waaronder R129 miljoen uit die US-hoofbegroting. In 2016 is 23% van die studente wat aan die US geregistreer het met beurse ondersteun.

Vanweë die opgelegde perke op die bystand wat die Nasionale Finansiëlehulpskema vir Studente (NSFAS) kan bied, het die US in 2017 self bystand verleen aan studente uit gesinne wat tussen R122 000 en R240 000 per jaar verdien – met ander woorde diegene uit die sogenaamde 'ontbrekende middel'. Die beursbedrag word deur 'n 'middeletoets' bepaal. Die nadelige uitwerking van die fooistyging van 0% vir 2016 was nie net tot verlede jaar beperk nie, maar sal nog 'n hele aantal jaar 'n domino-effek hê. Daarom is die basislynstyging van 8% vir huidige studente in 2018 te min om op die lange duur finansiële volhoubaarheid te verseker. Dít is waarom die US op 'n gedifferensieerde benadering besluit het.

​Staatsubsidies vir die hoër onderwys hou die afgelope jare nie meer tred met kostestygings nie. Die jaarlikse toename in subsidies is byvoorbeeld minder as die gemiddelde styging van sowat 6% in die verbruikersprysindeks (VPI). Nóg belangriker is dat subsidietoenames nie meer byhou by die hoëronderwysprysindeks (HOPI) nie. Die HOPI, wat kostestygings in die sektor meet, styg jaarliks tipies met ongeveer 1,7% méér as die VPI weens die hoë koste verbonde aan navorsingstoerusting en tegnologie, voldoening aan akkreditasie- en statutêre vereistes, internasionale navorsingspublikasies sowel as die instandhouding van wêreldklasfasiliteite. Dít geld veral vir instellings soos die US wat op navorsing en nagraadse studie konsentreer.

Internasionale studente

'n Gedifferensieerde fooistruktuur vir internasionale studente sal ook vanaf 2018 van krag wees, wanneer sekere kategorieë internasionale studente wat aan die US registreer vir die eerste keer 'n internasionale onderrigfooi (IOF) sal betaal. Die IOF bestaan uit 'n bykomende, vasgestelde, jaarlikse heffing vir die duur van 'n akademiese program en word hetsy by of voor registrasie ten volle betaal. Die IOF sal nie van toepassing wees op internasionale studente in doktorale programme of in nagraadse programme op die telematiese platform nie, en ook nie op internasionale studente met burgerskap van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) of permanente verblyfreg in Suid-Afrika nie.

Internasionale studente van buite Afrika sal voortaan 'n basiese IOF van R43 380 betaal vir baccalaureus-, honneurs- en nagraadse diplomaprogramme, en R21 690 vir magisterprogramme. 'n Verlaagde bedrag van R20 520 sal geld vir studente van Afrikalande buite die SAOG in baccalaureus-, honneurs- en nagraadse diplomaprogramme.

Die begrotingsproses en gesprekke met die kampusgemeenskap sal oor die volgende paar weke voortduur. Die finale begroting vir 2018 sal by die laaste Raadsvergadering van die jaar teen die einde van November vir goedkeuring dien.

_________________________________________________________________​



Universiteit Stellenbosch ondersteun 8% styging in inkomste vir 2017

​  1. Inleiding

​Die Universiteit Stellenbosch (US) ondersteun die sektorale benadering soos uiteengesit in die verklaring (12 Augustus 2016) van Universiteite Suid-Afrika (USAf) dat universiteite ʼn minimum styging van 8% in jaarlikse inkomste benodig vir 2017. Dié inkomste kan van ʼn verskeidenheid bronne verkry word, onder meer staatsubsidies, studentegelde en ʼn komplekse verskeidenheid van ander privaat-bronne. ʼn Styging in inkomste vir 2017 van minder as 8%, sal die finansiële posisie van ten minste 17 van die 26 hoër-onderwysinstellings in die gedrang bring.

Vanweë vele faktore, onder meer die stadige ekonomiese groei in die land, groeiende druk op staatshulpbronne asook dekades van befondsingstekorte, is die US van mening dat gratis hoëronderwys nie tans prakties haalbaar is nie. Studies het bevind dat gratis hoëronderwys in ontwikkelende lande waarskynlik eerder die hoërmiddelklas en welgestelde sektore van die bevolking as behoeftiges bevoordeel.

Die US volg en ondersteun ʼn gedifferensieerde benadering: stygings in studentegelde wat getemper word deur finansiële ondersteuning vir arm, akademies-verdienstelike studente, gebaseer op die jaarlikse gesamentlike huishoudelike inkomste. US-beurse word ook aangepas volgens die toename in studiegeld en akkommodasie-kostes.

Hierdie webblad verskaf nuttige inligting oor die finansiële situasie van die hoëronderwyssektor; die begrotingsproses by die Universiteit Stellenbosch en hoe ons studente finansieel ondersteun; vergelykings van studentegelde by verskillende universiteite; die faktore wat 'n impak het op die styging in inkomste; die toewysing van beurse; die impak van die 0% styging in inkomste op die US en die volgende stappe met betrekking tot die 2017 begroting.

Lees die afdelings hier onder vir meer inligting.

2. Maak sin van befondsing in die hoëronderwyssektor in SA


3. Die Universiteit Stellenbosch se waarde-proposisie



 

4. Hoe die US ons studente ondersteun


 

5. Studentegelde by die Universiteit Stellenbosch


 

6. Begrotingscenarios 2017



 

7. Impak van die 2016 #FeesMustFall-veldtog en 0% styging



 

8. Huidige inisiatiewe en volgende stappe



Update 

​Universiteite SA reik 'n verklaring uit oor die uitgelekte 'Studente-gelde Kommissie' se verslag, 30 Oktober 2017


In 'n verklaring​ wat op Sondag, 29 Oktober 2017, vrygestel is, het die  Universiteite Suid-Afrika (USAf) hul kommer uitgespreek oor die wyse waarop die verslag van die Presidensiële Kommissie van Ondersoek oor Hoër Onderwys Befondsing en Verwante Sake (Fooie Kommissie), onder die aandag van die publiek gebring is. Die verslag van die Kommissie en onder voorsitterskap van Regter J.A. Heher, is die naweek aan 'n koerant uitgelek.