Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kommunikasie uit die Raad (vergadering van 27 Nov 2017)
Outeur: Corporate Communication / Korporatiewe Kommunikasie
Gepubliseer: 29/11/2017

Die Universiteit Stellenbosch se vierde gewone Raadsvergadering van die jaar het op Maandag 27 November 2017 plaasgevind.

Die Raad is oor ontwikkelings in die hoër onderwys ingelig, het oor die afgelope jaar by die Universiteit Stellenbosch (US) besin, en ook die Universiteit se jongste institusionele plan en die begroting vir 2018 goedgekeur.

Twee lede van die uitvoerende bestuur – die Bedryfshoof en die Viserektor: Strategie en Internasionalisasie – het verslag gedoen oor ontwikkelings in hulle onderskeie verantwoordelikheidsentrums die afgelope jaar.

Daarbenewens het ons verslae ontvang oor die dekolonisasie van die kurrikulum en die implementering van die US se Taalbeleid, en 'n mosie aanvaar om enige appèl teen die onlangse hofbeslissing waarin die Taalbeleid gehandhaaf is, teen te staan.

Meer besonderhede volg hieronder.

George Steyn
Voorsitter: US Raad

Stand van die Universiteit en die sektor

Die Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy verslag aan die Raad (klik hier) gesê die US is dankbaar om klasse vir die jaar te kon afsluit as een van die voorste universiteite in die land en op die vasteland. Die eindeksamens is byna klaar, en ons kan uitsien na agt gradeplegtighede in die week van 4 tot 8 Desember 2017.

Ons is trots daarop dat ons studentesuksessyfer onder die hoogste in die land is, dat die kwalifikasies wat ons toeken 'n opwaartse tendens toon, en dat ons plek op die vernaamste internasionale universiteitsranglyste aanhou verbeter.

Prof De Villiers het ook terugvoering gegee oor 'n onlangse vergadering van Universiteite Suid-Afrika (USAf), waar visekanseliers die nuwe minister van hoër onderwys en opleiding, prof Hlengiwe Mkhize, ontmoet het, en beraadslaag het oor die fooikommissie se verslag wat president Jacob Zuma vroeër in November uitgereik het.

Daar is steeds groot onsekerheid in die sektor aangesien die regering nog geen uitspraak gemaak het oor die aanbevelings in die verslag óf al enige aankondigings gedoen het oor finansiering vir universiteite en studente aanstaande jaar nie. Dit kompliseer sake, veral noudat universiteite hul begrotings moet afhandel. Die US bly daartoe verbind om akademies verdienstelike studente in finansiële nood by te staan om toegang tot universiteitstudie te verkry.

Institusionele Plan 2018–2023

Die Departement van Hoër Onderwys en Opleiding vereis dat universiteite jaarliks teen 15 Desember 'n bygewerkte institusionele plan (IP) indien. Met die voorlegging van die dokument aan die Raad het die Viserektor: Strategie en Internasionalisasie (VR:SI) beklemtoon dat 'n goed gedokumenteerde, omvattende, herhalende en raadplegende proses met alle tersaaklike besluitnemers en rolspelers gevolg is om die plan te ontwikkel.

Die US se IP 2018–2023 is grootliks 'n hersiening van die plan vir 2017 en is bygewerk met die instelling se jongste doelwitte en mikpunte. Die eindproduk integreer die strategieë en aksieplanne van die drie kernfunksies van die Universiteit, en versoen die planne van die verskillende verantwoordelikheidsentrums, fakulteite en die professionele administratiewe en steundiens- (PASD-)afdelings met die US se sewe institusionele strategieë. Die plan en geïntegreerde begroting is ook wedersyds versoenbaar.

Die Raad het die US se IP 2018–2023 goedgekeur.

Begroting 2018

Die Raad beraadslaag elke jaar oor die Universiteit se geïntegreerde begroting, met inbegrip van alle inkomstestrome, naamlik staatsubsidies, klas- en huisvestingsgeld, navorsingskontrakte, filantropiese skenkings en kommersiële inkomste.

Die vernaamste aanbevelings in die begroting vir 2018 wat aan die Raad voorgelê is, is soos volg:

  • 'n Algemene aanpassing van 6% in personeelvergoeding vir 2018
  • 'n Algemene aanpassing van 8% in studiegeld (voor- en nagraads) vir 2018, plus gedifferensieerde aanpassings in sekere fakulteite (wat slegs vir nuwe studente ingefaseer sal word)
  • 'n Aanpassing van 9,2% in studentehuisvestingsgeld
  • Die bekendstelling van 'n internasionale klasfooi
  • 'n Geleidelike verskuiwing van institusionele beursbesteding na vierdestroominkomste (skenkings) om hoofbegrotingsgeld vir ander doeleindes beskikbaar te stel
  • 'n Verlaging in biblioteekbesteding aan sekere, minder gewilde elektroniese databasisse
  • 'n Verhoging in hoofbegrotingsinkomste uit indirekte kosteverhaling
  • 'n Toekenning uit die Strategiese Fonds om die hoofbegroting te laat klop

Dít lewer 'n hoofbegroting (vir die eerste twee inkomstestrome) wat klop vir die volgende ses jaar.

Op aanbeveling van sy Uitvoerende Komitee het die Raad die Universiteit se geïntegreerde begroting vir 2018 goedgekeur. Dit is egter onderworpe aan finale bevestiging van die staatsubsidie vir 2018, en die Die Raad het ingestem dat die Rektor en die Voorsitter en Ondervoorsitter van die Raad enige wysigings goedkeur wat uit die bevestiging van die staatsubsidie spruit.

Verslag van die Viserektor: Strategie en Internasionalisasie

Aangesien die nuwe pos van VR:SI eers in 2016 gevul is, was hierdie Raadsvergadering die eerste geleentheid vir die bekleër, prof Hester Klopper, om 'n jaarverslag voor te lê. (Klik hier vir die volledige dokument; slegs 'n paar hoogtepunte word hieronder uitgelig.)

Hierdie verantwoordelikheidsentrum bestaan uit drie afdelings – Strategiese Inisiatiewe, US Internasionaal en, sedert 1 Oktober, die Afdeling Inligtingsoorsigbestuur.

Strategie

Die Universiteit werk fluks aan Visie 2040 en 'n Strategiese Raamwerk 2019–2024, wat die bestaande Institusionele Voorneme en Strategie 2013–2018 sal vervang. Die Institusionele Beplanningsforum (Februarie 2017) en die Uitvoerende Beplanningsforum (Julie 2017) is gebruik om die bestuur oor die US van die toekoms te raadpleeg. Vyf taakgroepe werk tans aan bepaalde gebiede wat by die nuwe visie en strategiese raamwerk sal aansluit. Die Raad en senior bestuur is oor visie- en missie-elemente sowel as die voorgestelde nuwe waardes geraadpleeg. Oorlegpleging oor die Universiteit se waardes het ook in Oktober en November met studente en personeellede plaasgevind. 'n Eerste konsep sal na verwagting vroeg in die nuwe jaar gereed wees vir algemene oorlegpleging.

Internasionalisasie

Die herskikking van die Nagraadse en Internasionale Kantoor in Universiteit Stellenbosch Internasionaal en die Nagraadse Kantoor is in Oktober 2016 voltooi. Die nuwe US Internasionaal, wat uit ses sentrums bestaan, is in November 2016 bekend gestel. 'n Standpuntinname oor internasionalisasie is gedurende 2017 opgestel, waarop die US se strategie oor internasionalisasie sal berus. 'n Institusionele advieskomitee oor internasionalisasie is ook uit verteenwoordigers van alle verantwoordelikheidsentrums, fakulteite en PASD-omgewings saamgestel.

Inligtingsoorsigbestuur

Die US se Afdeling Institusionele Navorsing en Beplanning het onlangs by die verantwoordelikheidsentrum van die VR:SI aangesluit. Dit sal voortaan bekend staan as die Afdeling Inligtingsoorsigbestuur en sal uit drie sentrums bestaan – Institusionele Inligting, Studente-inligtingstelselondersteuning, en Besigheidsintelligensie. Die oorhoofse doel met dié verandering is om inligting as 'n instaatsteller vir die Universiteit te posisioneer.

Verslag van die Bedryfshoof

Prof Leopoldt van Huyssteen, uittredende Bedryfshoof, het by hierdie Raadsvergadering sy laaste omvattende jaarverslag voorgelê. (Slegs 'n paar aspekte word in hierdie kommunikasie uitgelig.
Klik hier vir die volledige dokument.)

Die Bedryfshoof is in beheer van 'n multidimensionele verantwoordelikheidsentrum – Bedryf en Finansies – wat daarop fokus om waarde te skep vir, en waarde toe te voeg aan, die US se bedrywighede. As 'n instaatsteller van die meeste kampuswerksaamhede, vervul hierdie verantwoordelikheidsentrum 'n beduidende rol om die Universiteit in sy strewe na sy strategiese doelwitte te ondersteun. Die werksaamhede van die verantwoordelikheidsentrum kan deur die volgende ses rolle en verantwoordelikhede saamgevat word:

  • Versterking van sakeprosesse vir finansiële volhoubaarheid
  • Geïntegreerde beplanning, begroting en verslagdoening
  • Kommersialisering van intellektuele goedere, en die skep van sakegeleenthede
  • Die strewe na omgewingsvolhoubaarheid
  • Die bedryf van die vervoer- en parkeerstelsel
  • Die verkoop van ongebruikte bates

Die Raad het prof Van Huyssteen se verslag met waardering aanvaar (sien ook “Personalia" hieronder).

Die dekolonisasie van die kurrikulum

Die Raad het die bestuur 'n jaar gelede versoek om oor die kwessie van die dekolonisasie van die kurrikulum na te dink en aanbevelings te doen oor hoe die Universiteit daarop behoort te reageer. By sy vergadering vandeesweek het die Raad terugvoering ontvang van die Viserektor: Leer en Onderrig, prof Arnold Schoonwinkel, en die Viserektor: Sosiale Impak, Transformasie en Personeel, prof Nico Koopman.

Hulle het die dokument “Die soeke na parameters vir die imperatief van die dekolonisering van die kurrikulum" voorgelê, wat kernkonsepte en -terminologie in die dekolonisasiediskoers verduidelik en bespreek. (Klik hier vir die volledige dokument.)

Holistiese programvernuwing is as 'n strategiese prioriteit vir die verantwoordelikheidsentrum Leer en Onderrig geïdentifiseer. Dít sluit ondersoeke na die dekolonisasie van die kurrikulum in, met inagname van die verslag deur die taakgroep oor dekolonisasie, wat deur die Senaat se Komitee vir Leer en Onderrig aangestel is.

Die Raad het kennis geneem van die werk in hierdie verband, en dit verwelkom dat die gesprek oor dekolonisasie en sistemiese transformasie deur die hele Universiteit, onder meer in fakulteite en studenteomgewings, voortgesit sal word.

Verslag van die Taalkomitee van die Raad

Die Taalkomitee van die Raad het opdrag om toesig te hou oor die implementering van die US se Taalbeleid, wat die Raad in 2016 vir implementering met ingang van 2017 goedgekeur het.

In sy jongste verslag aan die Raad het die komitee gewys op die aansienlike groei in die parallelmediumaanbod (hoofsaaklik in eerstejaarvakke), wat in die praktyk toeganklikheid verbeter vir Afrikaanssprekende studente wat nie vaardig genoeg in Engels is nie.

Voorts het die Raad kennis geneem van 'n verdere opname onder voorgraadse studente oor die implementering van die Taalbeleid. Die komitee het verslag gedoen dat die opname in die tweede semester meestal die bevindinge van 'n soortgelyke opname in die eerste semester bevestig het, naamlik dat die oorgrote meerderheid van respondente voel die Taalbeleid word in ál of die meeste van hul modules sowel as in die administratiewe en ko-kurrikulêre omgewings na wense geïmplementeer.

Die Raad het die komitee vir hulle waardevolle rol as moniteringsmeganisme in die implementering van die Taalbeleid bedank.

Aanvegting van die US se Taalbeleid

Die Gelyke Kanse-groep en agt ander applikante het verlede jaar 'n regsgeding aanhangig gemaak teen die Taalbeleid wat die Raad met die instemming van die Senaat aanvaar het. Die Universiteit het die geding teengestaan. Die saak is aangehoor in die Wes-Kaapse afdeling van die Hooggeregshof van Suid-Afrika, wat in Oktober vanjaar uitspraak gelewer en onder meer die aansoek met koste van die hand gewys het. (Klik hier vir die Universiteit se verklaring, wat skakels na die volledige uitspraak bevat.)

Die applikante het sedertdien by die Hoogste Hof van Appèl om verlof tot appèl aansoek gedoen, en het ook hulle voorneme aangedui om aansoek te doen om direk na die Konstitusionele Hof te appelleer. Die Raad het besluit dat die US enige appèl sal teenstaan, en sy voorsitter en ondervoorsitter gemagtig om alle nodige stappe in dié verband te doen. Die Senaat het vroeër 'n soortgelyke besluit geneem.

Personalia

Hierdie Raadsvergadering was die laaste een van die Bedryfshoof, prof Leopoldt van Huyssteen, wat op 31 Desember 2017 uittree. Die Raad het sy diepste waardering teenoor prof Van Huyssteen uitgespreek vir sy jare lange onvermoeide diens aan die US. Hy word opgevolg deur prof Stan du Plessis, wat sedert Januarie vanjaar as aangewese Bedryfshoof dien.

Daarbenewens het die Raad prof Hester Klopper, VR:SI, gelukgewens met haar verkiesing tot raadslid van die Consortium of Universities for Global Health (CUGH), waarvan die hoofkantoor in Washington DC geleë is.

Laastens het die Raadsvoorsitter die twee lede van die Studenteraad (SR) wat die afgelope jaar in die Raad gedien het, me Lynshay Julies en mnr Maxwell Mlangeni, bedank. Hulle sal in 2018 deur verteenwoordigers van die nuwe SR vervang word.

Volgende vergadering

Die volgende gewone vergadering van die Raad vind op Maandag 26 Maart 2018 plaas.