Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch

Transformasie en Diversiteit

Die Universiteit Stellenbosch (US) streef na 'n verwelkomende kampuskultuur waar studente, personeel en besoekers tuis sal voel, ongeag hul herkoms, etnisiteit, taal, geslag, godsdienstige en politieke oortuigings, sosiale klas, gestremdheid of seksuele oriëntasie. Dit sluit onder meer in die skep van 'n multikulturele omgewing waar verskillende kulture ontmoet en van mekaar kan leer.

Sekere aspekte van transformasie is reeds aan die gang binne verskillende sfere van die universiteits-omgewing, maar in 2012 is die Viserektor: Gemeenskapsinteraksie en Personeel versoek om in 2013 'n omvattende en geïntegreerde Transformasieplan voor te lê wat met 'n verskerpte fokus en versnelde tempo in werking gestel sal word. Diversiteitsbevordering is 'n belangrike aspek van transformasie aan die US, maar transformasie strek veel dieper en wyer as net die demografiese samestelling van die kampusgemeenskap. 'n Verwelkomende kampuskultuur, toeganklikheid, 'n meertalige akademiese aanbod, sistemiese volhoubaarheid, beter integrasie tussen leer- en leefruimtes, asook koshuisbewoners en studente wat privaat bly, die ontwikkeling van entrepreneuriese denke, akademiese innovasie en relevansie vir die samelewing is van die ander doelwitte.

Die Universiteit het hom  wel verbind tot die diversifisering van sy studente- en personeelkorps in ooreenstemming met die samestelling van die Suid-Afrikaanse samelewing, maar dit gaan ook oor 'n diversiteit van idees en standpunte wat nuwe denke stimuleer en uitnemendheid bevorder. Dié verbintenis word as kernprioriteit in twee koersaanduidende beleidsdokumente uiteengesit: die US  se Institusionele Plan 2012-2016, en die die Strategiese Raamwerk vir Eeuwisseling en Daarna (2000).

ʼn Diverse en verwelkomende kampusgemeenskap dra daartoe by dat die US sy kundigheidsbasis sal uitbrei, sy status as voorloper-instansie verstewig, en ʼn aktiewe rolspeler sal bly in die uitbou van ʼn demokratiese Suid-Afrika. Dit verseker ook die lewering van kritiese en aktiewe afgestudeerdes wat hul plek in ʼn multikulturele burgerlike samelewing kan volstaan.

Die US sien 'n noue koppeling tussen  akademiese uitnemendheid en relevansie, breë transformasie, diversiteit, studentesukses en 'n verwelkomende kampuskultuur. Terwyl die Transformasieplan gefinaliseer word, gaan die US voort met bestaande inisiatiewe om die studenteprofiel te verander in ooreenstemming met sy gestelde doelwitte, en 'n meer diverse personeelkorps te vestig. Sport word ook gesien as 'n kragtige instrument om diversiteit te bevorder en mense te verenig..

 

Transforming Stellenbosch University into a national asset and African partner

(net in Engels beskikbaar)

​​