Verslag:
Fakulteit Opvoedkunde Werksessie oor Groot Klasse: 2 Junie 2023
Onderwerp
Pedagogie vir Groot Klasse
Aanbieders
Drs Hanelie Adendorff en Anthea Jacobs, mee Johara Khan en Charmaine van der Merwe, en mnr Sim Ntwasa
Die Fakulteit Opvoedkunde het etlike klagtes en bekommernisse ontvang oor die skielike toename in die grootte van sommige klasse, in reaksie waarop professor Deresh Ramjugernath (Viserektor: Leer en Onderrig), in 'n onlangse gesprek met die Fakulteitsbestuur, verwys het na die behoefte om voor te berei vir die massifikasie van onderwys. In reaksie op verskeie uitdagings wat as gevolg van groot klasse ontstaan, het professor Michael le Cordeur, Visedekaan (Onderrig en Leer), versoek dat kollegas van die Sentrum vir Onderrig en Leer (SOL) 'n werksessie vir personeel aanbied oor strategieë wat nuttig sal wees in die hantering van groot klasse. Hierdie werksessie het op 2 June plaasgevind. Die Dekaan van die Fakulteit Opvoedkunde, professor Mbulungeni Madiba, het deelnemers aan die werksessie verwelkom deur hulle te herinner aan die belangrikheid daarvan om 'n voortdurend veranderende hoëronderwyslandskap te omhels. Die verslag hieronder verskaf 'n opsomming van die geleentheid.
Antwoorde op 'n vóór-werksessie opname het getoon dat die personeel nie net daarin belanggestel het om te leer van strategieë om groot klasse te hanteer nie, maar ook, onder andere, oor die verbetering van eweknie-tot-eweknie terugvoer en die gebruik van tutors (eweknie-fasiliteerders). Dr Jacobs het die personeel herinner dat die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking 'n aantal behulpsame akademiese hulpbronne het wat hierdie onderwerpe aanspreek. Voorbeelde word hieronder gelys, in hipergekoppelde formaat om toegang te vergemaklik:
Wanneer is dit 'n groot klas? Wanneer dit groter is as wat dit tevore was
By wyse van 'n vakkundige benadering tot die uitdaging van groot klasse hanteer, het die werksessie-bywoners gebruik gemaak van artikels deur Jawitz (2013)[1] en McDonagh en Radaković (2022)[2]. Jawitz stel voor dat groot klasse 'n unieke geleentheid verskaf vir hoë-gehalte leerervarings. Breedvoerige beplanning, ondersteuning en ervaring word egter benodig om voordeel te trek uit hierdie geleenthede. Die leerervaring van 'n groot klas studente kan verhoog word deur die gebruik van tegnologieë soos multimedia-aanbiedings, potgooie en video's, en die doeltreffende gebruik van 'n span steunpersoneel en leerbestuurstelsels, soos SUNLearn. McDonagh en Radaković stel voor dat die belangrikste faktor in studentebetrokkenheid is om te verseker dat die studente dwarsdeur die leerproses betrek word: van ontwerpsinsette en kennisoordrag tot terugvoer oor assessering en kursusevaluering. McDonagh en Radaković beklemtoon voorts die behoefte aan akademiese vernuwing deur die hersiening van onderriggereedskap en -strategieë en beveel verskeie aktiewe leerinstrumente aan om begrip en betrokkenheid te verbeter.
Die DeLTA-siklus
Akademiese vernuwing lyk dikwels na 'n oorweldigende onderneming, maar die SOL stel die Designing Learning, Teaching
and Assessment (DeLTA)-proses voor om dosente in hulle onderrig-, leer- en assesseringstaak te ondersteun. Die DeLTA-siklus, wat in akademieskap gewortel is, word in vyf iteratiewe, sikliese prosesse verdeel om interaktiewe leergeleenthede, innoverende onderrigbenaderings en breë assesseringsgeleenthede te ontwerp. In die volgende deel van die werksessie is eweknie-fasilitering van leer as nuttige gereedskap vir onderrig, leer en assessering (learning, teaching and assessment (TLA)) aan die DeLTA-siklus gekoppel.
Eweknie-fasilitering van leer
Wanneer eweknie-fasilitering as 'n leergeleentheid gebruik word, moet dosente doelbewus wees in hulle oorweging van hoe eweknie-fasiliteerders sal kan bou op wat in die lesing aangebied is, deur leer te fasiliteer eerder as net antwoorde te verskaf. Eweknie-fasiliteerders is in 'n ideale posisie om terugvoer aan dosente te verskaf oor onderwerpe wat konsolidasie benodig. As sulks is eweknie-fasilitering 'n nuttige onderrigstrategie vir groot klasse om konsepte soos drempels en bottelnekke te hanteer.
Die SOL bied 'n 16-uurlange, volledig aanlyn SUNLearn kortkursus oor eweknie-fasilitering aan, waarna studente erkenning op hulle studierekords kry as US-geakkrediteerde eweknie-fasiliteerders. Dosente word aangemoedig om potensiële eweknie-fasiliteerders te kry om vir die kortkursus in te skryf.
Assessering van groot klasse
Die laaste deel van die werksessie het op assessering gefokus, wat veral 'n relevante onderwerp is in die lig daarvan dat dit een van die instelling se spelwisselaars is. Daar is ongelukkig geen wondermiddel wat alle assesseringsuitdagings sal oplos nie. Terwyl formatiewe assesserings dikwels uitgebreide nasientyd vereis, het een van die werksessie-bywoners gedeel dat hierdie uitdaging aangespreek kan word deur eers algemene terugvoer aan die klas te verskaf, en dan individuele punte en terugvoer op 'n latere stadium.
Terugvoer is slegs sy naam werd as dit deur die student vir die doel van verbetering gebruik kan word. Een van die belangrikste boodskappe in die hersiene SU Assesseringsbeleid is dat assessering en terugvoer in die TLA geïntegreer moet wees; dit is nie iets wat aan studente gedoen word nie, maar eerder met studente om hulle leer te verbeter. Nog 'n bywoner het vertel dat dit aangespreek kan word deur groepaanbiedings wat tegelykertyd deur die dosent en die eweknieë gemerk word, waarna konsensus bereik moet word oor die groep se finale punt. Self- en eweknie-assessering kan 'n manier wees om selfs nog punte te genereer. Wanneer dit egter doeltreffend gebruik word, kan hierdie tipes assessering behulpsaam wees om studente die vaardigheid aan te leer om hulle eie werk te assesseer, wat noodsaaklik is vir die lewe ná graduering.
Die werksessie is bygewoon deur 18 personeellede van die Fakulteit Opvoedkunde en twee verteenwoordigers van die Opvoedkunde Studentekomitee en daar was betekenisvolle betrokkenheid onder mekaar. Soos een van die bywoners dit gestel het, het die werksessie “'n waardevolle geleentheid gebied om van ons studente en ander kollegas te leer en sodoende ons eie praktyk te verbeter."
________________________________________
[1] Jawitz, J. 2013. The challenge of teaching large classes in higher education in South Africa: a battle to be waged outside the classroom. Book chapter. Cape Town: University of Cape Town.
[2] McDonagh, Kenneth, & Radaković, Jelena. (2022, August 1). Most effective tools and strategies for large class engagement: first year students experiences and their recommendations. Pedagogy for Higher Education Large Classes (PHELC22) (PHELC), Hybrid: Dublin City University, St. Patrick's Campus and online.