Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe talks@stellenboschuni-reeks oor transformerende assessering bekendgestel
Outeur: Hanelie Adendorff & Dalene Joubert
Gepubliseer: 21/07/2023


Die Afdeling vir Leer- en Onderrigverryking (ALOV) het onlangs op talks@stellenboschuni 'n gespreksreeks bekendgestel waarin transformerende assesseringspraktyke aan die US in die kollig is. Onder leiding van dr Hanelie Adendorff van die Sentrum vir Onderrig en Leer en Elzette le Roux, is hierdie podsendingreeks 'n belangrike komponent van die institusionele assesseringsprojek wat daarop gemik is om die assesseringskultuur op kampus te herbedink. 

Hierdie reeks, toepaslik getitel Talking Transformative Assessment, bied boeiende besprekings met kollegas van verskillende afdelings, fakulteite en diverse agtergronde. Deur assessering vanuit verskeie oorde te verken en op die gesamentlike wysheid van ons akademiese gemeenskap te steun, poog die reeks om konvensionele norme uit te daag en nuwe, innoverende denkwyses oor studente-assessering te belig. Sommige van die episodes waarna luisteraars kan uitsien, sluit in “The 'science' of alternative assessment approaches" en “Is ChatGPT and AI the end of assessment as we know it?".  

Met hierdie inisiatief beoog die Universiteit Stellenbosch om 'n kultuur van oop dialoog en kritiese denke rondom studente-assessering te bevorder. Met die doel om deurdagte assesseringsontwerp te inspireer, nooi hierdie podsendingreeks almal uit om saam te dink oor die toekoms van assessering aan die US. Talks@stellenboschuni is gratis beskikbaar op SpotifyApple Podcast en meeste ander platforms – skakel in en praat saam oor die transformasie van ons assesseringspraktyke aan die US.