Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Waardevolle uitruil van kundigheid oor ekstrasellulêre vesikels
Outeur: Faculty of Science (media and communication)
Gepubliseer: 12/04/2023

​Mai Wageh, 'n PhD-student van McMaster Universiteit in Kanada, het onlangs ses weke in prof Kathy Myburgh se navorsingslaboratorium by die Universiteit Stellenbosch (US) deurgebring om tegniese kundigheid in ekstrasellulêre vesikel (EV) analise  te bekom.

Hierdie besoek is moontlik gemaak deur 'n reistoelaag van die Amerikaanse Kollege vir Sportgeneeskunde (ACSM). Die Howard G. “Skip" Knuttgen Internasionale Reistoekenning moedig jong wetenskaplikes aan om kreatiewe benaderings te volg in die verkryging van tegniese kundigheid en wetenskaplike kennis deur middel van 'n internasionale  navorsingsleerprogram by 'n gasheerinstelling buite Kanada en die VSA te bevorder.

Prof Myburgh is 'n genoot van die ACSM ('n voorvereiste om as gasheer vir 'n student te kan optree) en 'n voorpuntdeskundige in die ontluikende navorsingsveld van ekstrasesllulêre vesikels (EV). Sy beklee ook die Suid-Afrikaanse Navorsingsleerstoel in Integrerende Skeletale Spierfisiologie, Biologie en Biotegnologie in die US se Departement Fisiologiese Wetenskappe.

Navorsingsaktiwiteite in die veld van ekstrasellulêre vesikels (EVs) het oor die afgelope twee dekades ontplof sedert navorsers ontdek het dat hierdie nanopartikels wat in hul miljoene deur alle selle in die liggaam geproduseer word, draers is van proteïene en waardevolle genetiese materiaal wat belangrik is vir intersellulêre kommunikasie.  

Die voorbereiding van monsters sodat dit geanaliseer kan word, is egter 'n tegnies uitdagende oefening. Daar is byvoorbeeld 109 miljard EVs in een milliliter bloed. Sodra die partikels geïsoleer is, kan hulle deur middel van standaardtegnieke soos vloeisitometrie geanaliseer word.

Mai sê die ses weke was produktief en alles het teen 'n vinnige tempo plaasgevind: “My navorsing fokus op geslagsverskille in spierskade en die rol van onderliggende hormone. Met die tegniese kundigheid wat ek verwerf het, kan ek nou ook geslagsgebaseerde verskille in die rol van ekstrasellulêre vesikels ná oefening ondersoek, en op tuisbodem my kollegas in ons laboratorium leer hoe om EV-monsters vir analise voor te berei". 

Volgens prof Myburgh het daar 'n goeie uitruil van kennis plaasgevind, aangesien Mai ook 'n klomp kundigheid saam met haar gebring het wat spruit uit haar werk in die Molekulêre Oefeningfisiologie- en Spierverouderingslaboratorium wat gelei word deur dr Gianni Parise by die McMaster Universiteit. Hierdie laboratorium fokus op die rol van oefening as aktiveerder van spierstamselle,  of satellietselle, in jong en ouer volwassenes om die effek van veroudering en moontlike intervensies te ondersoek

Volgens prof Myburgh, het haar nagraadse studente ook baat gevind by Mai se kundigheid in multikomponent immunohistochemie, 'n tegniek wat gebruik word om verskeie faktore in geoefende spierweefsel te visualisser en te identifiseer, insluitend satellietselle, neutrofiele (miëloperoksidase), langs die “inwonende" komponente van die stamselnis, d.w.s. spiergrense en bestaande kerne in die spier. 

Op die foto bo: Mai Wageh en prof Kathy Myburgh. Foto: Wiida Fourie-Basson