Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Onsigbare” goud steeds in sulfiedminerale van Witwatersrandse uitskothope
Outeur: Wiida Fourie-Basson (media: Faculty of Science)
Gepubliseer: 03/04/2023

​'n PhD-student in geometallurgie by die Universiteit Stellenbosch (US) het getoon dat daar steeds 'n aansienlike hoeveelheid “onsigbare" goud − ontoeganklik met tradisionele herwinningsmetodes − in sulfiedminerale in die mynuitskothope in die Witwatersrandstreek voorkom.

Die mynbedrywighede van die Witwatersrand-konglomerate wat van 1885 dateer, het gelei tot 'n massiewe akkumulasie van ses miljard ton se uitskotmateriaal. As gevolg van historiese verwerkingsondoeltreffendheid, word hierdie uitskotmateriaal tans as 'n sekondêre goudbron herontgin.Steven Chingwaru profile.jpg

Steve Chingwaru, 'n PhD-student in geometallurgie in die US se Departement Aardwetenskappe, sê sy navorsing delf diep in die komplekse wisselwerking tussen geologiese en metallurgiese faktore: “Die doelwit is om natuurlike hulpbronne optimaal te benut terwyl die omgewingsimpak terselfdertyd geminimaliseer word. Deur my werk streef ek daarna om innoverende metodes te ontwikkel om waardevolle metale uit mynuitskot te ontgin en afval in 'n waardevolle hulpbron te omskep ".

Steve, wat oorspronklik van Zimbabwe is, maar sy skoolloopbaan in Suid-Afrika voltooi het, sê uitskothope is nie regtig 'n geologiese verskynsel nie: “Hierdie uitskothope is mensgemaakte verskynsels en historiese artefakte van ons mynnalatenskap. Historiese mynbedrywighede in die Witwatersrandstreek het byna uitsluitlik gefokus op die vrye of natuurlike goudafsetting. Die goud wat in die sulfiede gehuisves word, is grootliks misgekyk en as “onsigbaar" beskou aangesien dit onontginbaar is met die gebruik van konvensionele metodes".

Deur met monsters te werk van uitskothope in Carletonville, die Sentrale Rand, Evander en Klerksdorp Goldfields, het Steve omvangryke laserablasie en suuroplossingsanalise gebruik om vas te stel watter minerale die meeste van hierdie goud huisves: “Met ʼn vergelyking van monsters wat die swaar mineraalfases bevat, het ons gevind dat arseenpiriet en piriet 65% van goud in die Klerksdorp-monsters, 78% van die goud in die Carletonville-monsters, en 85% van goud in die Evander-monsters uitmaak".

Noudat hulle verstaan waar die goud geleë is, asook die konsentrasie en hoe dit voorkom, is die volgende stap om 'n doeltreffende loogmetode te ontwerp en ontwikkel deur middel waarvan die goud en waardevolle byprodukte uit die piriet ontgin kan word.  

Steve verduidelik: “Deur hierdie sulfiedfraksies gedurende die herverwerkingsfase te onttrek, sal dit ook sulfied-geassosieerde swaar metale soos koper, kobalt en nikkel onttrek. Hierdie byprodukte is nie net op ekonomiese vlak van waarde nie, maar die onttrekking van sulfiedminerale sal ook die direkte impak van suur mynwater dreinering op die omgewing verminder".  

Hierdie unieke kruising van paleogeologie- en geometallurgie-navorsing is 'n opwindende bydrae wat spruit uit die nuwe African Rainbow Minerals Navorsingsleerstoel in Geometallurgie wat gesamentlik beklee word deur Dr Bjorn von der Heyden van die Departement Aardwetenskappe, en Dr Margreth Tadie van die Departement Prosesingenieurswese. Hulle albei tree op as Steve se studieleiers en is mede-outeurs van die artikel “An underexploited invisible gold resource in the Archean sulphides of the Witwatersrand tailings dumps", wat onlangs in die vaktydskrif Nature Scientific Reports gepubliseer is.

Media-onderhoude

Steve Chingwaru, PhD-student in die Departement Aardwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, 20206771@sun.ac.za

Dr Bjorn von der Heyden, African Rainbow Minerals navorsingsleerstoelbekleër in Geometallurgie, Departement Aardwetenskappe, Universiteit Stellenbosch, bvon@sun.ac.za

Dr Margreth Tadie, African Rainbow Minerals navorsingsleerstoelbekleër in Geometallurgie, Departement prosesingenieurswese, Universiteit Stellenbosch, mtadie@sun.ac.za

Op die foto bo: PhD-student Steve Chingwaru voor die Kamer van Mynwese-gebou by die Universiteit Stellenbosch. Foto: Wiida Fourie-Basson

Foto bo: https://www.drdgold.com/media-insights/photos/ergo?cat-2&os_image_id-39