Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dr Dr Munya Saruchera van US dien in internasionale komitee
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 02/11/2022

Die Vereniging vir VIGS in Afrika (SAA), organiseerder van die internasionale konferensie oor VIGS en seksueel-oordraagbare infeksies in Afrika (ICASA), het dr Munya Saruchera, waarnemende direkteur van die Afrika Sentrum vir MIV/VIGS-bestuur, as 'n lid van die internasionale reëlingskomitee vir die 22ste ICASA-konferensie genomineer.

Die internasionale konferensie word van 4 tot 9 Desember in Harare in Zimbabwe gehou onder voorsitterskap van die SAA-president, dr David Pagwesese Parirenyatwa.

Die doel van die reëlingskomitee is om met beplanning en beleid vir 'n suksesvolle konferensie te help ten einde die impak van MIV/VIGS, TB, hepatitis, malaria en ontluikende siektes op die Afrika-kontinent te bestry.

Dr Saruchera, wat die nominasie aanvaar het, sê: “ICASA-konferensies is Afrika se vertoongeleentheid wat jaarliks in Desember plaasvind. Dis 'n eer om genomineer te word as lid van die internasionale reëlingskomitee."

Van die verantwoordelikhede van die reëlingskomitee  is om die tema en die internasionale kriteria vir beursprogramme te bepaal, asoook om 6 lede vir die hersieningskomitee vir beurse te nomineer.

Die dekaan van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, prof Ingrid Woolard, het dr Saruchera met sy aanstelling gelukgewens. “Dis uitstekende nuus en ek glo hy gaan 'n groot rol speel in dié belangrike komitee. Ek wil graag van die geleentheid gebruik maak om hom alles van die beste toe te wens vir sy termyn."

Die eerste vergadering van die reëlingskomitee vind van 17-19 November 2022 in Harare plaas.