Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
GC Afrika navorsingsbefondsing vir ontdekking van nuwe antimikrobiese agente
Outeur: SU Faculty of Science (Wiida Fourie-Basson)
Gepubliseer: 02/11/2021

Prof Erick Strauss, 'n spesialis op die gebied van chemiese biologie in die Departement  Biochemie in die Fakulteit Natuurwetenskappe, het navorsingsbefondsing van R1,4 miljoen oor die volgende drie jaar gekry om 'n unieke benadering tot die ontdekking van nuwe antimikrobiese agente te ondersoek.

Hierdie toelaag is onder die vaandel van die Grand Challenge Africa (GC Africa) programme  toegeken. Die program het ten doel om Afrika-gedrewe wetenskaplike innovasies te bevorder om lande te help om die Volhoubare Ontwikkelingsdoelwitte te kan bereik. Hulle ondersteun “groot, sterk, innoverende idees wat die potensiaal het om 'n grootskaalse volhoubare impak te hê". 

Die GC Africa programme word geïmplementeer deur middel van die African Academy of Sciences' se befondsings- en program-implementeringsplatform, die Alliance for Accelerating Science in Africa, in vennootskap met die African Union Development Agency en die Bill & Melinda Gates Stigting.

Prof. Strauss en sy span bestudeer die interaksie tussen witbloedselle en patogene bakterieë wanneer laasgenoemde die menslike liggaam binnedring. Dit wil voorkom asof sommige bakterieë spesiale verdedigingsmeganismes ontwikkel het wat keer dat hulle deur witbloedselle vernietig kan word en infeksie dus laat voortduur.

Hy verduidelik: “Ons probeer verstaan hoe hierdie bakteriële verdedigingsmeganismes werk. Indien ons hulle op een of ander manier kan neutraliseer, sal dit die liggaam in staat stel om infeksies op 'n natuurlike manier hok te slaan. Dit sal die nodigheid vir antibiotika verminder, asook die gepaardgaande risiko vir die ontwikkeling van antibiotikaweerstandigheid".

Die fondse van GC Africa het hulle in staat gestel om 'n Opentrons OT-2 pipetting robot aan te koop. Hierdie moderne toerusting is 'n hoof komponent in hulle strategie waarvolgens hulle poog om nuwe inhibeerders vinniger en goedkoper te kan ontdek.

Die span bestaan uit nadoktorale genote dr. Blake Balcomb en dr. Anton Hamann, asook PhD-student Tim Kotze. Beide Balcomb en Hamann is as kristallograwe opgelei as deel van die program Synchrotron Techniques for African Research and Technology (START). Hierdie program is befonds deur die Global Challenges Research Fund (GCRF) van die United Kingdom's Science and Technology Facilities Council (STFC). 

“In werklikheid is dit die kundigheid wat opgebou en moontlik gemaak is deur middel van die  START program, en die belowende resultate van ons studies wat dit moontlik gemaak het om 'n mededingende aansoek vir die GC Africa se subsidie van geneesmiddelontwikkeling in te dien," sluit prof Strauss af.

  • Dr Gabriel Mashabela, 'n spesialiswetenskaplike van die SAMNR Sentrum vir TB-navorsing en verbonde aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe, het onlangs 'n soortelyke toekenning ontvang om Suid-Afrikaanse medisinale plante te bestudeer vir moontlike nuwe behandelings vir tuberkulose (TB).

Op die foto bo: Die splinternuwe, moderne Opentrons OT-2 pipetting robot is alreeds in prof. Erick Straus se laboratorium in die Departement Biochemie by die Universiteit Stellenbosch geïnstalleer. Hierdie stuk toerusting stel navorsers in staat om op 'n goedkoper en vinniger manier nuwe inhibeerders te kan ontdek, en sal daardeur die ontwikkeling van nuwe geneesmiddels meer toeganklik vir Suid-Afrikaanse navorsers maak. Foto: Stefan Els