Dr Gabriel Mashabela, 'n spesialiswetenskaplike van die SAMNR Sentrum vir TB-navorsing, het onlangs 'n Grand Challenges Africa-toekenning ontvang van die Alliance for Accelerating Excellence in Science in Africa (AESA). Hierdie toekenning sal help om sy navorsing te befonds wat beoog om Suid-Afrikaanse medisinale plante te bestudeer vir moontlike nuwe behandelings vir tuberkulose (TB).
Mashabela is gebore in 'n klein dorpie met die naam Ga-Mongatane in Limpopo. Hy het gematrikuleer aan die Lesailane Hoërskool in dieselfde dorp. In 1999 het hy ʼn beurs van die Europese Unie ontvang vir 'n oorbruggingskursus aan die Universiteit van die Noorde (nou bekend as die Universiteit van Limpopo).
Daarna het hy 'n BSc-graad in molekulêre- en lewenswetenskappe voltooi, gevolg deur 'n honneursgraad in biochemie, en 'n MSc in chemiese patologie aan die Universiteit van Kaapstad (UK), wat na 'n PhD omgeskakel is. Hy het twee nadoktorale genootskappe gedoen – een aan die Universiteit van Basel in Switserland en een aan die UK. Sy navorsing het hoofsaaklik gefokus op mikobakteriese metaboliese bane wat verband hou met TB patogenese.
Hy het in 2018 by die SAMNR Sentrum vir TB-navorsing aan die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe by die Universiteit Stellenbosch aangesluit.
Die toekenning wat hy van AESA ontvang het, is spesifiek gemik op navorsing oor die ontwikkeling van geneesmiddels. "Ek is so opgewonde om onder die handjievol ontvangers van hierdie toekenning te wees, en ek voel baie gelukkig, want daar was baie goeie aansoekers wat nie befondsing ontvang het nie," sê Mashabela.
AESA is in 2015 gestig en is 'n vennootskap van die Afrika Akademie vir Wetenskap (African Academy of Sciences) en die Afrika Unie se Ontwikkelingsagentskap. Die missie van die AESA is om die middelpunt van Afrika-wetenskap na Afrika te verskuif deur middel van die opstel van agendas, die mobilisering van navorsings- en ontwikkelingsfinansiering en die bestuur van programme dwarsoor die kontinent vir wetenskap, tegnologie en innovasie.
Mashabela het 'n saadbefondsingsbeurs van $100 000 ontvang wat oor twee jaar toegeken is om basiese navorsing oor nuwe geneesmiddels teen tuberkulose te doen. Die projek het ten doel om nuwe trefmolekules teen Mycobacterium tuberculosis te identifiseer, wat die bakterie is wat TB veroorsaak. Die toelae sal betaal vir studente-beurse/salarisse, toerusting en gebruikskostes vir die projek, sowel as vir reiskostes wat met die projek te make het.
"Die hoofdoel van die projek is om nuwe trefmolekules teen Mycobacterium tuberculosis te identifiseer deur gebruik te maak van innoverende CRISPRi-mutante stamme wat in ons navorsingsgroep ontwikkel is as siftingsmodelorganismes. Hierdie siftingsmodelorganismes is ontwerp om te fokus op gene wat uniek en absoluut noodsaaklik is vir die voortbestaan van mikobakteriese patogene, "verduidelik hy.
Hy voeg by dat hierdie modelle vir die ondersoek na nuwe geneesmiddels nie net help met die identifisering van bioaktiewe trefmolekules nie, maar ook leidrade gee oor presies wat die werkingsmeganisme is. Daar word ook verwag dat trefmolekules wat in die toetsing geïdentifiseer word, sal help om die grootste struikelblokke wat vroeg in die soeke na nuwe geneesmiddels ondervind word, te oorkom. Hierdie sluit die volgende in: sitotoksisiteit, onvermoë om deur die bakterie se selmembrane te dring, en weerstandsmeganismes wat reeds bestaan.
"In samewerking met plaaslike medewerkers van die Universiteit van Limpopo wat uitgebreide ervaring in etno-farmakologie het, is ons van plan om Suid-Afrikaanse medisinale plante as bronne te gebruik vir hierdie projek," voeg Mashabela by.
Sy navorsingsgroep word die Mycobacterium Metabolism Research Group (MMRG) genoem en vier MSc-studente werk tans daaraan: Mischke Nicolaai, Tumelo Maila, Gugulethu Mahlakwana en Nenekazi Masikantsi.