Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Harde werk beloon met Rektorstoekenning
Outeur: Daniel Bugan
Gepubliseer: 25/10/2021

​'n Gegradueerde van die Universiteit Stellenbosch (US) en selferkende wiskundeverslaafde, Mpendula Cele, het onlangs weggestap met 'n 2021 Rektorstoekenning die afdeling vir die beste meestersgraadstudent.

Die jaarlikse Rektorstoekennings vir Uitnemende Prestasie gee erkenning aan en vier studente se prestasies op die volgende gebiede: akademie, sport, leierskap, sosiale impak, kultuur en diensverskaffing. Cele was een verskeie toppresteerders wat hul toekennings op 7 Oktober 2021 ontvang het.​

“Ek voel geëerd om hierdie toekenning te ontvang," sê Cele, wat 'n meestersgraad in Wiskunde aan die US behaal het. “Die harde werk wat ek en my studieleier, dr Sophie Marques, ingesit het, het vrugte afgewerp."

Cele, wat in die sorg van sy ouma in Izonglweni, 'n landelike gebied in die suide van KwaZulu-Natal grootgeword het, stap al 'n ver pad saam met wiskunde. Sy liefde vir die vak het op hoërskool vlamgevat, hoewel hy in daardie stadium onseker was oor watter werksgeleenthede daar vir hom met 'n wiskundige kwalifikasie was. Cele sê egter hy het geweet die vak sou “nie nutteloos wees nie".

Sy liefde vir wiskunde het hom na die Universiteit van KwaZulu-Natal gelei waar hy in 2017 'n BSc-graad in Wiskunde en Rekenaarwetenskap behaal het, gevolg deur 'n HonsBSc in Wiskunde met getalleteorie as fokus. Cele het toe besluit om verder te studeer in die vakgebied van getalleteorie.

“Ek het met dr Marques in verbinding getree en gevra of sy my studieleier sou wees. Sy het ingestem en aanbeveel dat ek by die US vir my meestersgraad inskryf. Wat my veral na Stellenbosch se afdeling Wiskunde aangetrek het, was dat daar so baie navorsers is wat in getalleteorie belangstel en by wie ek kan leer."

Dit was ook dr Marques wat voorgestel het dat hy vir die ALGANT-studiebeurs aansoek doen – 'n mededingende internasionale program in algebra, meetkunde en getalleteorie – om sy grondslagkennis van getalleteorie te versterk.

“Ek wil graag dr Marques, die afdeling Wiskunde by die US en ALGANT bedank vir al die ondersteuning en leiding wat ek van hulle ontvang het," sê Cele.

Hy sê die US was vir hom 'n wonderlike omgewing om in te studeer en het ook aan hom geleenthede gebied om seminare by te woon waar hy met kundiges op verskeie gebiede kon skakel en idees kon uitruil.

Cele, wat die eerste een in sy familie is om 'n universiteitsgraad te behaal, het die volgende raad vir studente en voornemende studente: “Dit is uiters belangrik om in 'n vakgebied te studeer waaroor jy passievol is, aangesien dit jou gretig maak om te leer – selfs buite die lesingsaal."

Hy werk tans as 'n sagteware-ingenieur en is as 'n deeltydse PhD-student by die US ingeskryf.

 Klik hier om meer te lees oor die Rektorstoekennings en die ontvangers. 

* Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.  Ons sal in die komende weke sommige van die wenners bekend stel. 

​