Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Rektorstoekennings vier studente-uitnemendheid ondanks teëspoed
Outeur: Sue Segar
Gepubliseer: 14/10/2021

​Altesaam 82 van die Universiteit Stellenbosch (US) se topstudente is onlangs met Rektorstoekennings vir uitnemendheid op die gebied van die akademie, leierskap, sosiale impak, kultuur, sport en dienslewering vereer.

Die tema van die prysuitdeling, wat aanlyn aangebied is, was heel gepas “Uitnemendheid ondanks teëspoed – beweeg saam vorentoe", met verwysing na die uitdagings van die afgelope jaar weens die voortgesette uitwerking van die wêreldwye pandemie op alle sektore, waaronder die hoër onderwys. Die US se Rektor en Visekanselier, prof Wim de Villiers, het in sy openingsrede hulde gebring aan die US se studente, alle akademiese en nie-akademiese personeellede sowel as studenteleierskapstrukture vir hoe hulle “in die aangesig van teëspoed ware veerkragtigheid getoon het".

“Ons het in 2020 rondgeskarrel om ons voete in die nuwe virtuele en hibridiese leerruimtes te vind, maar 2021 was in vele opsigte selfs uitdagender," het prof De Villiers gesê. “Gedurende die derde vlaag COVID-19-infeksies kon die besef dat hierdie pandemie nog geruime tyd met ons sal wees 'n mens maklik fisies en psigies onderkry. Julle moes voortdurend aanpas en soepel bly, 'n kenmerk wat ons by die US waarlik op prys stel én wat julle ook in die toekoms goed te staan sal kom. Boonop het ons besef dat dit nou belangriker is as ooit vantevore om vreugdevolle oomblikke te deel, selfs al moet dit virtueel geskied, want geen mens is 'n eiland nie."

Ook prof Deresh Ramjugernath, Viserektor: Leer en Onderrig, het studente geloof omdat hulle deur die voortslepende onsekerheid en uitdagings deurlopend 'n hoë vlak van uitnemendheid gehandhaaf het. “Deur eenheid en samewerking het ons groot sukses behaal as 'n oop, vasbeslote, deernisvolle en weetgierige leergemeenskap. Die kern van ons uitnemendheid is ons saamwees in die strewe na kennis en die ontdekking van nuwe moontlikhede."

Altesaam 182 aansoeke en benoemings is vir vanjaar se Rektorstoekennings ontvang, naamlik 61 vir akademie, 54 vir leierskap, 24 vir sosiale impak, agt vir kultuur, agt vir sport, en 27 vir dienslewering. “Ons is besonder trots op wat ons studente bereik het, en wens ál ons pryswenners geluk met hulle uitmuntende prestasies," het prof Ramjugernath gesê. “Dit getuig van ons veerkragtigheid dat US-studente ondanks alles voortgegaan het om uit te blink in wat hulle aangepak het."

Gasspreker Farai Mubaiwa, 'n US-alumna en oud-Studenteraadslid, het studente in haar boodskap uitgedaag om “groot te waag" en “hulle krag te ontdek". “Ek het gekom waar ek vandag is omdat ek groot gewaag het," het sy gesê, met verwysing na skrywer en denkleier Brené Brown se boek Daring Greatly. Mubaiwa is in 2018 deur Media24 as een van die 100 Mandelas van die Toekoms aangewys, en dien deesdae as hoofvennootskapsbeampte van die Youth Employment Service (YES), 'n bedryfsaangevoorde organisasie sonder winsoogmerk wat met die regering saamwerk om werkskepping vir die jeug aan te moedig.

Volgens Mubaiwa skets die hoë werkloosheidsyfers in Suid-Afrika en Afrika, wat deur COVID-19 vererger is, dalk 'n somber prentjie, maar bied dit ook 'n geleentheid om ondanks teëspoed uit te blink. “Wat as ek sou sê dit is 'n geleentheid om saam vorentoe te beweeg, 'n geleentheid om groot te waag?" het sy studente gevra. “Ek het my die afgelope paar jaar die volgende vrae afgevra: Wat moet ek doen om tot 'n voorspoedige Afrika by te dra, en hoe moet ek my vaardighede verander om dít te bereik? Hoe word ek 'n goeie werkgewer in plaas van net 'n goeie werknemer? Hoe kan ek deur samewerking met ander verandering teweegbring? En, laastens, hoe ontdek ek my eie krag? Om hierdie vrae te beantwoord, kon ek nie anders as om groot te waag nie."

Sy het onthou hoe sy destyds as nagraadse Rekeningkunde-student “nie kon wag om vir 'n topmaatskappy te gaan werk nie". “Snaaks genoeg het niemand ooit gesê hulle wil graag hulle eie rekeningkundige firmas tot stand bring om met die topmaatskappye mee te ding nie," het sy gesê. “Entrepreneurskap stel jou in staat om jou gemeenskap se behoeftes te bepaal, 'n produk of diens te ontwikkel wat in daardie behoeftes voorsien, werk te skep en, die heel belangrikste, volhoubare ondernemings te bestuur. In Afrikaverband het ons egter nie net entrepreneurs nodig nie, maar sosiale entrepreneurs wat sosio-ekonomiese uitdagings op 'n volhoubare manier die hoof kan bied. Navorsing het immers bewys dat klein, medium- en mikro-ondernemings werkskepping en ekonomiese groei voortdryf."

Mubaiwa het studente aangemoedig om hulle eie krag te ontdek deur te sê: “Ek's 26; ek's swart; ek's 'n vrou, en ek's die produk van 'n Suid-Afrikaanse ma en 'n Zimbabwiese pa. Dis nie 'n maklike identiteit om te hê nie. Nogtans dien ek in die bestuur van een van Suid-Afrika se grootste organisasies vir jeugwerkskepping en -bemagtiging, is medestigter van 'n ongelooflike Afrikajeugorganisasie, en het 'n magistergraad van een van die beste universiteite ter wêreld. Ek kon dít alles bereik omdat ek my krag ontdek het.

“Mag ons groot waag," het sy afgesluit. “Mag ons elkeen ons deel doen om ons land en ons vasteland te verbeter. Mag ons ondanks teëspoed uitnemendheid behaal en saam vorentoe beweeg."

Die volgende studente het toekennings ontvang:

Akademie (wat bestaan uit die Rektorstoekenning vir Uitnemende Prestasie en die US-medalje vir topmagisterstudent, volgens fakulteit)

AgriWetenskappe

  • Kim Teresa Mannix
  • Cecile Bester
  • Hendrik Stephanus Pretorius

Topmagisterstudent

  • Alicia Petrus

Lettere en Sosiale Wetenskappe

  • Zainab Khafif
  • Estelle Kemp
  • Joy Sparg
  • Kirsten Pienaar
  • Akira Coetzee
  • Tamlyn February
  • Josie McClure
  • Lara van Heerden

Topmagisterstudent

  • Kylie Kuhl

Ekonomiese en Bestuurswetenskappe

  • Lauren Tsafandakis
  • Philip Ferreira
  • Brandon Dinwoodie
  • Jeanne van den Heever
  • Micaela Giltrow
  • Ilne du Toit
  • Marné Olivier
  • Matthys Carstens
  • Melissa Oellerman
  • Haamidah Mowzer
  • Joshua Putterill
  • Kilian Boshoff

Topmagisterstudent

  • Alexander Charles O'Riordan

Opvoedkunde

  • Casey Wallace
  • Leila Laubscher
  • Tyla Jansen

Topmagisterstudent

  • Charine de Ridder

Ingenieurswese

  • Matthew Brandon Baas
  • Zander Snel
  • Alex Gituanja Muthua
  • Bianca Jordan van Zyl
  • Francois du Plessis
  • Kevin Michael Eloff

Topmagisterstudent

  • Aletta Susanna Elizabeth Nortje

Regsgeleerdheid

  • Carma Botha
  • Olivia Bernstein

Topmagisterstudent

  • Ernst Heydenrych

Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe

  • Allison Jane Arendse
  • Danyca Shadé Breedt
  • Wilrie Koorts
  • Brittany Smith
  • Rochelle van Dyk
  • Blessing Ntokozo Ndlovu

Topmagisterstudent

  • Danelle Botha

Krygskunde

Topmagisterstudent

  • Pelonomi Clementine Letebele

Natuurwetenskappe

  • Eugene Fouche
  • Caleb Zeeman
  • Kristen Robinson
  • Devon Crowther
  • Samantha Parle

Topmagisterstudent

  • Mpendulo Cele

Teologie

  • Karla Smit

Topmagisterstudent

  • Elmarie van Huyssteen

Sport

  • Lwazi Madi
  • Cameron Laurenson
  • Hannah Calvert
  • Daniel Barrish
  • Kerwin Noemdo
  • Johanna Pretorius
  • Dyan Buis
  • Charl du Toit

Kultuur

  • Willem Sterrenberg Horn

Sosiale impak

  • Thembalethu Seyisi

Dienslewering

  • Abdul Mutakabir-Aziz
  • Azhar Adam Nadkar
  • Francesca Visage
  • Viwe Kobokana

Leierskap

  • Kira Alberts
  • Kristin Arends
  • Xola Njengele
  • Jessica Davies
  • Philip Visage
  • Rewaldo Carolus
  • George van Dyk
  • Lance Davids
  • Grace Mngadi
  • Monwabisi Petersen
  • Chelsea Jones
  • Jarryd Luyt