Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Welkom, welcome, wamkelekile!
Outeur: Prof Wim de Villiers
Gepubliseer: 15/03/2021

Beste kollegas en studente

Met die akademiese jaar 2021 wat vandag (15 Maart 2021) amptelik begin, sê ek graag hartlik welkom aan julle elkeen!

En ek’s nie ál een wat opgewonde is om julle terug te hê nie. Dié keer span die Universiteit en die dorp saam om alle studente en personeellede op kampus te verwelkom. Ons is oortuig dat as almal hul deel doen, ons die US én die res van die dorp veilig kan oophou en optimaal kan laat funksioneer, tot almal se voordeel.

Die Studenteraadsvoorsitter, Stellenbosse burgemeester en die uitvoerende hoof van Visit Stellenbosch het Vrydag in ikoniese Victoriastraat by my aangesluit om die foto te neem wat hierdie skrywe vergesel. Lees gerus hul boodskappe in die plaaslike media as deel van die gesamentlike bemarkingsveldtog wat ons spesiaal vir studente en personeel se terugkeer van stapel gestuur het.

Mý boodskap is eenvoudig: Dis lekker om terug te wees op kampus; kom ons hou dit so!

So, hoekom is ons ondanks COVID-19 terug? Ingevolge die huidige vlak 1-inperking mag hoëronderwysinstellings ál hul studente en personeellede op kampus verwelkom. Maar daar is ook ʼn belangriker onderliggende rede vir ons benadering vanjaar.

Uit ’n onderwysoogpunt is die US, as ’n wêreldklasuniversiteit, opgewonde om met die akademiese projek te kan voortgaan op ’n manier wat uitbrei op wat ons verlede jaar in moeilike omstandighede vermag het.

Vanjaar wil ons dus méér bied as noodafstandsonderrig, -leer en -assessering. Ons wil so ver moontlik terugkeer na interaksie van aangesig tot aangesig, wat aangevul word met aanlyn elemente om ons studente ʼn optimale leerervaring te bied.

In hul boek The Innovative University sê die hoëronderwyskundiges Clayton Christensen en Henry Eyring ʼn “universiteit se professore en fisiese ontmoetingsplekke is uniek en waarskynlik van onskatbare waarde”. Ek stem saam. Veral twee faktore werk myns insiens tot die US se voordeel:

·       Plek – Ons kampusse, wat uitgeknip is vir ʼn transformerende studente-ervaring, is geleë in een van die mooiste dele van ons land en spog met topfasiliteite en buitemuurse ervarings soos min.

·       Mense – Die US is die tuiste van toonaangewende navorsers en dosente, en bied boonop omvattende studentesteun om akademiese uitnemendheid te verseker, sowel as stimulerende blootstelling aan die diverse idees van klasmaats en kollegas van oor die hele land en wêreld.

Maar natuurlik is ons steeds midde-in ’n pandemie, en daarom vereis ons streng nakoming van ons omvattende protokolle en maatreëls om COVID-19 te bestry. Almal wat ons kampusse betree, moet hulself vir simptome moniteer met behulp van Higher Health se HealthCheck-toep, wat by https://healthcheck.higherhealth.ac.za te kry is.

Ons Kampusgesondheidsdiens, in samewerking met plaaslike en provinsiale gesondheidsowerhede en hospitale, is gereed om na ons personeellede en studente se welstand om te sien. Maar uiteindelik moet ons elkeen vir ons eie optrede verantwoordelikheid aanvaar.

So, dra asseblief ’n masker, handhaaf ’n veilige afstand van ander, en gebruik handreiniger en ontsmet oppervlakke. As almal by hierdie eenvoudige reëls hou – waar ons ook al gaan – staan ons ʼn goeie kans om die verspreiding van COVID-19 te beperk en as instellings, gemeenskappe en mense te floreer.

As ons op die afgelope 12 maande terugkyk, het ons baie om te vier. Nietemin is die US beslis nie die verwoesting, pyn en verlies verbonde aan die koronavirus gespaar nie. Kom ons eer die nagedagtenis van almal wat hul lewens aan COVID-19 afgestaan het. Mag hulle in vrede rus, en mag hulle familie, vriende en kollegas die krag ontvang om aan te gaan.

Dit is duidelik dat COVID-19, wat aanvanklik vroeg in 2020 as ’n naelloop begin en vinnig in ’n marathon vir die res van die jaar ontaard het, nou ’n ultramarathon is wat vir afsienbare tyd voor ons uitstrek. Ons sal besonder diep moet delf om ons momentum te behou, veral ook in die lig van die ander uitdagings waarvoor ons staan. Dít sluit in bekommernisse oor NSFAS-finansiering (klik hier vir ons onderneming) en oor die US se Taalbeleid (vir ons standpunt, klik hier).

Ek is nietemin oortuig dat ons hierdie uitdagings die hoof kan bied as ons saamwerk.

Baie sterkte vir die jaar. Soos in 2020, is die Universiteit se oorkoepelende doelwitte in 2021 weereens om sukses met die akademiese projek te behaal, en volhoubaar te bly as ʼn toonaangewende hoëronderwysinstelling. Deurentyd bly ons personeellede en studente se veiligheid, gesondheid en welstand ’n topprioriteit.

Ons weet nie wat môre inhou nie, maar ons weet wél ons moet nóú aan die toekoms ná die koronaviruspandemie bou. Kom ons gaan saam vorentoe.

Prof Wim de Villiers
Rektor en Visekanselier