Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US slaggereed vir akademiese jaar 2021
Outeur: Prof Stan du Plessis: ICBC Chair
Gepubliseer: 26/02/2021

26 Februarie 2021

Beste kollegas en studente

Die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) van die Universiteit Stellenbosch het Vrydag, 26 Februarie 2021 vergader. Die voorsitter van die Studenteraad (SR), mnr Xola Njengele, het die vergadering vir die eerste keer as ’n gereelde lid bygewoon.

Die belangrikste punt op die agenda was die besluit oor die US se benadering tot leer en onderrig in die komende akademiese jaar, wat oor twee weke amptelik afskop met die aanvang van voorgraadse klasse op 15 Maart. 

Ons het kennis geneem van die afname in die aantal koronavirus-gevalle, beide nasionaal en in ons provinsie. Terselfdertyd bly die koronavirus-pandemie ’n bedreiging. Ons wil verseker dat die 2021-akademiese jaar suksesvol verloop en die gesondheid en veiligheid van ons personeel en studente bevorder. Daarom verwag ons dat ons studente en personeel met bewuste sosiale solidariteit en ’n bewustheid van die uitwerking van ons gedrag op die gesondheid en veiligheid van ons Universiteits- en die breër gemeenskap, sal optree. Só kan ons saam verseker dat ons die risiko van die verspreiding van die virus tot die minimum beperk, lewens red en die sukses van die akademiese projek verseker. 

Die land is steeds onderhewig aan aangepaste vlak 3-COVID-19-regulasies en ons sektor val onder die voorskrifte van die departement van Hoër Onderwys en Opleiding (DHOO). Sedert die vorige IKBV-vergadering op 15 Februarie het ons saam met ander instellings in ons sektor as deel van Universiteite Suid-Afrika (USAf) op die hoogste vlak met die DHOO samesprekings gevoer om duidelikheid oor die benadering tot die jaar te kry. Ons is bemoedig deur die aanduidings dat die unieke omstandighede van elke universiteit in aanmerking geneem sal word en dat ’n benadering om almal oor dieselfde kam te skeer, nie gevolg sal word nie. 

Ons is vol vertroue dat daar geen maksimum persentasie studente wat op kampusse of in studentebehuising wat deur hoëronderwysinstellings verskaf word, op nasionale vlak voorgeskryf sal word nie. Elke instelling se ruimtelike realiteite verskil en elkeen moet toegang tot hul kampusse en studenteverblyf in ooreenstemming met hul spesifieke drakapasiteit en omstandighede binne nasionale en plaaslike veiligheidheidsprotokols bestuur. 

Die US se benadering vir die eerste semester 

Ons het omvattende maatreëls getref om voldoening aan COVID-19-regulasies te verseker en daar sal streng hieraan voldoen word ter wille van gesondheid en veiligheid. Dit sal goed te pas kom wanneer ons vanjaar van die leer- en onderrig-benadering wat ons verlede jaar gevolg het, na ’n nuwe benadering beweeg. 

Ons beplan om vanjaar van verlede jaar se ERTLA na ARTLA oor te skakel – van nood-afstandsonderrig, -leer en -assessering na aangepaste afstandsonderrig, -leer en -assessering. Wat beteken dit?

Ons gaan ’n gedifferensieerde benadering volg, wat ’n mengsel van onderrig in persoon, aanlyn en hibridiese leerkomponente sal behels. Fakulteite, departemente en ondersteuningsafdelings het intensiewe en gedetailleerde beplanning gedoen. Inligting oor watter modules in welke formaat aangebied sal word – hetsy in persoon, aanlyn of hibridies (kombinasie van die twee) – sal binnekort op die Universiteit se webwerf geplaas word sodat studente en personeel die nodige reëlings kan tref. 

Ons sal al ons studentna ons kampusse nooi. Die toepaslike terugkeer van personeellede na ons kampusse – in oorlegpleging met hul lynbestuurders – sal dit moontlik maak om ARTLA aan te bied. Daar sal egter reg oor die instelling buigbaarheid oor die toepassing van ARTLA wees. Alle fakulteite sal nie ’n eenvormige benadering volg nie. 

’n Omvangryke inisiatief – die Uitgebreide Leerruimteprojek (ELS) – is tans aan die gang om gevorderde toerusting in lokale te installeer om lesings per regstreekse stroomuitsending en die opneem daarvan moontlik te maak. Die projek sal die volgende paar maande duur. 

Uitleen van skootrekenaars 

Die projek vir die uitleen van skootrekenaars aan studente sal vanjaar weer ingestel word. Aansoeke kan gerig word aan student@sun.ac.za.

Koshuise

Ons sal voortgaan met ons planne om studente in ons koshuise op te neem. Alle studente aan wie ’n koshuisplasing toegeken is, sal op die datums soos aan hulle gekommunikeer is, by hul koshuise kan intrek. Afgesien van die streng protokols wat studente in ons koshuise sal moet nakom, het ons voorsiening gemaak vir afsonderingsruimtes indien dit nodig sou wees.

Toelating en registrasie

Ná die bekendmaking van die matriekuitslae vroeër vandeesweek, is finale toelating Vrydag aan aanvaardestudente gestuur (’n SMS wat hulle versoek om op www.maties.com te gaan kyk). Voornemende eerstejaars sal hul toelatingstatus kan sien deur met hul gebruikersnaam en wagwoord aan te teken

Registrasie het reeds begin. Meer as 20 000 senior en terugkerende studente het reeds aanlyn geregistreer. 

Voorgraadse nuweling-eerstejaarstudente begin Maandag, 1 Maart met registrasie. Self-registrasie kan aanlyn vanaf enige rekenaar met toegang tot die internet by www.maties.comgedoen word. Vir meer inligting, gaan na die skakel na registrasie op www.sun.ac.za of klik hier asb. 

Verwelkomingsprogram 

Die Verwelkomingsprogram vir nuweling-eerstejaarstudente begin Dinsdag, 2 Maart. Klik hier vir die program.

Veilige optrede

Soos reeds genoem, verwag ons van al ons studente wat na die kampus en koshuise kom, om toe te stem tot ’n gedragskode, insluitende dat hulle nie weg van die kampus af aan riskante aktiwiteite sal deelneem nie. Ons doen ’n beroep op alle studente – hetsy hulle in Universiteitskoshuise inwoon of privaat woon – om verantwoordelik op te tree en om COVID-19-protokols na te kom. 

Gesondheid, veiligheid en welstand

Gesondheid en veiligheid neem by die Universiteit Stellenbosch voorrang. Ons het maatreëls en protokols ingestel om die verspreiding van COVID-19 te voorkom, en al ons kommunikasieveldtogte bestaan uit drie hoofkomponente: 

• Dra jou masker (#drajoumasker)
• Handhaaf ’n veilige fisieke afstand (#vermykontak)
• Was jou hande en maak oppervlaktes skoon (#ontsmet)

Die koms van entstowwe bring hoop, maar dit is nog nie vrylik beskikbaar nie. Daarom moet ons waaksaam bly. Indien ons almal verantwoordelik optree, kan ons voorkom dat gesondheidsdienste oorval word en dat strenger inperkingsvlakke ingestel word – iets wat ons almal vir vermy. 

Samewerking met alle belanghebbers 

As n verantwoordelike instelling en n goeie korporatiewe burger, werk die US saam met munisipaliteite en sakegemeenskappe rondom ons kampusse om die nakoming van COVID-19-regulasies en protokols te bevorder. Saam kan ons ons Universiteit en dorpe en sakeondernemings aan die gang hou om tot almal se voordeel te funksioneer. 

Slotsom

In hierdie baie onsekere en onstuimige tyd strewe ons steeds daarna om die beste moontlike diens aan al ons belanghebbers te lewer.  Die Universiteit Stellenbosch bied leer en onderrig van wêreldgehalte en unieke kampuservarings. Ons glo ons kan deur samewerking steeds hierdie geleenthede bied en terselfdertyd gesondheid en veiligheid bevorder. 

Ons kan saam uitsien na die 2021-akademiese jaar en die sukses wat ek weet moontlik is, in ons akademiese programme, ons navorsing, sosiale impak en die lewens van elke lid van die uitgebreide US-familie nastreef. 

Wees asb versigtig en veilig. 

Prof Stan du Plessis

IKBV-voorsitter​