Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Kom ons vind saam 'n nuwe handelsmerk vir die Universiteit Stellenbosch
Outeur: Corporate Communication and Marketing Division
Gepubliseer: 02/10/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het begin om 'n nuwe handelsmerk vir die US te ontwikkel en die universiteitsgemeenskap word gevra om aan die proses om deel te neem.

Met behulp van die waardevolle insette wat in die vorige rondte van institusionele konsultasie verkry is, asook met die konstruktiewe insette en oproep deur die Senaat vir 'n breër deelnemende proses, sal die US-gemeenskap die geleentheid kry om te help om 'n nuwe handelsmerk vir die Universiteit te vind deur hul sienings gedurende verskeie deelnemende prosesse te deel.

Die deelnemende proses, wat Maandag, 5 Oktober begin, sal deur die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie en Bemarking gefasiliteer word. Die proses sal 'n hele paar weke duur en sal gestruktureerde inligting- en deelnamesessies, gefasiliteerde werksessies met kern institusionele belangegroepe en 'n aanlyn opname insluit. Die insette sal die ontwikkeling van 'n nuwe visuele identiteit vir die Universiteit bepaal.

Ten einde genoeg tyd vir interaksie met studente, personeel en alumni toe te laat, sal die finale voorstel by die eerste vergadering van die Raad in 2021 vir goedkeuring voorgelê word. Die interaksie- en goedkeuringsproses sal die institusionele statutêre roete van aanbevelings volg, wat dus voorleggings aan die Institusionele Forum en Senaat, asook skakeling met die SR op pad na die Raadsvergadering op 13 April 2021 sal inkorporeer.

Daar was 'n duidelike oproep dat die nuwe visuele identiteit die toekomsvisie van die US om “Afrika se voorste navorsingsintensiewe universiteit te wees wat wêreldwyd as uitnemend, inklusief en innoverend erken word en waar ons kennis tot diens van die samelewing bevorder" moet weerspieël.

'n Nuwe institusionele logo moet meer as net 'n vernuwing van die visuele identiteit weerspieël – na aanleiding van die aanvanklike opdrag – om onomwonde die Universiteit se verbintenis tot transformasie te toon – om dus van 'n handelsmerkvernuwing na 'n algehele handelsmerkhervorming te beweeg.