Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US verskaf studente-ondersteuning tydens COVID-19-pandemie
Outeur: Corporate Communication/ Student Affairs
Gepubliseer: 15/05/2020

​Terwyl die wêreld voortgaan om met die COVID-19-pandemie te worstel, moes hoëronderwysinrigtings met innoverende maniere vorendag kom om te verseker dat studente hul studies suksesvol in 2020 kan voltooi. 

Die Universiteit Stellenbosch (US) moes binne die beperkings van die tydperk van algehele inperking die nodige maatreëls in werking stel en het verskeie inisiatiewe geloods om studente gedurende die pandemie te ondersteun. Al die toepaslike inligting is op 'n toegewyde blad van die US-webwerf beskikbaar gestel en kan by die skakel bereik word.

 Ons instelling se geïntegreerde reaksie op COVID-19, insluitende die verskillende vorms van studente-ondersteuning, word deur die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) bestuur. Hierdie dokument bied 'n oorsig van die US se institusionele reaksie gedurende die COVID-19-pandemie. ​

Hersiene akademiese kalender vir 2020

Ons moes weens die nasionale inperking die resestydperk vir ons studente verleng. Dit het egter beteken dat ons ook die 2020-akademiese jaar moes aanpas. Om die voortsetting van leer-en-onderrig-programme gedurende die inperking te verseker en om studente in staat te stel om die akademiese jaar met so min onderbrekings as moontlik te kan voltooi, het die Uitvoerende Komitee van die Senaat veranderinge aan die 2020-akademiese kalender goedgekeur. Die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie het al die toepaslike kanale gebruik om studente oor hierdie veranderinge in te lig. Vind die jongste details van kommunikasie hier.

Inisiatiewe vir aanlyn-leer

Een van die US se strategiese doelwitte is om aan sy studente die beste moontlike geleentheid te bied om hul studies suksesvol te voltooi. Dit is dus belangrik om hul ervarings binne die klas en buite die klas optimaal te benut om ons studentesuksessyfer te verhoog. Die opheffing van kontakleer-en-onderrig weens die COVID-19-pandemie en die algehele inperking wat gevolg het, het beteken dat ons na aanlyn-platforms moes verskuif om te verseker dat ons die 2020-akademiese jaar kan voltooi en ons studente nie 'n akademiese semester of die hele jaar verloor nie. Aanlyn-leer het amptelik op Maandag, 20 April 2020 via ons aanlyn-leer-en-onderrig-platform, SUNLearn, begin. 'n Toegewyde webwerf met 'n verskeidenheid inligting, riglyne en instrumente om studente met die oorgang van klasgebaseerde leer na aanlyn-leer te help, is geskep.​


Skootrekenaars

Ons het 1 500 skootrekenaars vir sosio-ekonomies benadeelde studente wat geen toegang tot die US se aanlyn-leerhulpbronne gehad het nie, aangekoop. 'n E-posboodskap met 'n finale aanbod is Dinsdag, 21 April 2020 aan alle studente gestuur en altesame 1 094 studente het die aanbod aanvaar. Hul skootrekenaars is reeds by hul onderskeie woonadresse afgelewer. Elke studente het ook 'n e-pos ontvang om afleweringsreëlings te bevestig, gevolg deur 'n SMS-boodskap om hulle van die e-posskrywe bewus te maak. 'n Verdere 51 versoeke word tans verwerk. ​

Uit 'n fondsinsameling-perspektief het ons op digitale toegang vir ons studente gefokus om hulle ten volle toe te rus om suksesvol met aanlyn-leer-en-onderrig te kan voortgaan. Ons doen 'n beroep op alle alumni, vriende, skenkers en borge om ons te help om hierdie uitdaging aan te spreek en ons studente by te staan in hierdie tyd deur 'n bydrae te maak om hierdie dringende prioriteit te ondersteun. Elke skootrekenaar kos soveel as R8 000. Klik hier om 'n bydrae te maak.

Data en gratis data

Bykomend tot die skootrekenaarleningsaanbod en die onderhandelings vir gratis tariewe vir toegang tot die US se akademiese platforms (sun.ac.za-webwerwe), het die US ook databondelaanbiedinge met die verskillende selfoondiensverskaffers beding. Die presiese metode van dataverskaffing aan studente sal op 'n maandelikse grondslag heroorweeg word. Die jongste inligting oor gratis toegang tot webwerwe en wenke oor hoe om selfoonkostes in toom te hou, is op die webblad, Riglyne vir Studente Aanlyn-leer beskikbaar. Om ons studente te help, het ons 'n stel vrae en antwoorde oor die gratis tariewe vir maklike verwysing saamgestel.

Studente-ondersteuning: Akademies

Ons het verseker dat studente voortgesette toegang tot ons wye reeks akademiese ondersteuningsdienste gedurende die algehele inperking het. Studente het toegang tot virtuele platforms vir wenke oor aanlyn-leer; vir toegang tot die biblioteek; om inligting oor studentetoegang, rekenaargebruikersareas en tegniese ondersteuning te vind; om die Sentrum vir Studentevoorligting en Ontwikkeling vir akademiese en emosionele ondersteuning en noodgevalle te kontak; en om inligting te vind oor sake wat met studente-administrasie verband hou. Vind al die jongste kommunikasie-inligting hier.


Studente-ondersteuning: Gesondheid en welwees

Ons studente se welstand is baie belangrik en ons bied steeds dinamiese en student-gesentreerde sielkundige ontwikkelings- en ondersteuningsdienste gedurende die tydperk van algehele inperking aan. Die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) opereer aanlyn of telefonies – afhangende van die student se keuse. Enige student wat 'n afspraak wil maak, kan 'n e-pos aan supportus@sun.ac.za stuur. ER 24 is ook steeds in krisisse vir studente beskikbaar. SSVO bied ook 'n aanlyn-ondersteuningsdiens aan (#supportUS) op Studentesake se Facebook- en Instagram-platforms. Gedurende 1–28 April 2020 het hierdie plasings 61 591 mense op Facebook bereik, met 15 443 plasing-interaksies.  


Studente-ondersteuning: Verlengde Graadprogramme (VGP's)

Die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling (SSVO) het met ingang 1 Januarie 2020 'n opvoedkundige sielkundige en 'n geregistreerde voorligter aangestel ter ondersteuning van studente wat vir die Verlengde Graadprogramme (VGP's) geregistreer het. Hierdie praktisyns verskaf gratis individuele en groepskonsultasies wat op akademiese vaardigheidsontwikkeling, psigoterapie en/of loopbaanvoorligting gemik is. Ondersteuningsgroepe word ook sedert die algehele inperking begin het, aanlyn aangebied en fokus op die ondersteuning van die VGP-studente se mentors. Die volgende aanlyn-werksessies sal in die tweede akademiese kwartaal via aanlyn-platforms aangebied word:

  • Fakulteit Natuurwetenskappe: Angs- en stresbestuur; Studiemetodes; en Veerkragtigheid
  • Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe: Hoe om mislukking te hanteer; en Hoe om jou tyd en energie te bestuur ​

Studente-oorsigbestuur  

Die Kantoor vir Studente-oorsigbestuur het 'n gekoördineerde en responsiewe aanlyn-strategie om te verseker dat studentestrukture ondersteun word en met hul werk in hul verskillende portefeuljes kan voortgaan. Studente-oorsigbestuur het met elke struktuur se uitvoerende komitee gekonsulteer en gedetailleerde terugvoer gekry oor uitdagings en die ondersteuning wat hulle benodig. Dit stel die kantoor in staat om pasgemaakte ontwikkelings- en ondersteuningsdienste wat op die spesifieke konteks gemik is, te bied. Opvolgwerksessies sal ook aanlyn gehou word om ondersteuning aan studenteleiers te bied om met hul portefeuljes voort te gaan. Belangrike vergaderings en konsultasies, soos die Studenteraad (SR) se uitvoerende vergadering met die Rektoraat, word in die virtuele ruimte voortgesit deur die MS Teams-platform te gebruik om werk vir die res van die jaar te bespreek en te beplan. Die SR is ook by die Institusionele Komitee vir Bedryfsvoortsetting (IKBV) en sy bedryfstrome ingesluit. Volgens die SR-voorsitter, Lewis Mboko, is die proses waardevol:

“Die IKBV was sover 'n baie nuttige en progressiewe komitee. Ek het baie oor rampbestuur geleer. Die beste is dat ek die geleentheid het om studente op 'n daaglikse grondslag in ons vergaderings te verteenwoordig. Dit het ons op dieselfde bladsy geplaas en bewus gemaak van elke besluit wat die Universiteit neem, aangesien ek aan die gesprekke deelneem en ook die studente se kant van die saak stel. Ek voel die IKBV het sover baie goed gevaar om inklusiewe oplossings te vind."

 

Ondersteuning aan studente wat in US-koshuise agtergebly het

Ná die maatreëls wat president Cyril Ramaphosa op 15 Maart aangekondig het, het die Universiteit studente versoek om hul koshuise te ontruim en huis toe te gaan vir die reses (sien skakels hieronder). Altesame 720 studente vir wie dit onmoontlik was om huis toe te gaan, het in koshuise agtergebly. Hulle is versoek om streng higiëne-protokols te handhaaf en ander inperkingregulasies na te kom. Die studente het ondersteuning op verskeie gebiede van die Sentrum vir Studentegemeenskappe en die Sentrum vir Studentevoorligting en -Ontwikkeling binne die Afdeling Studentesake ontvang. Op die Stellenbosch-kampus behels voedselondersteuning die aankoop en verspreiding van voedselprodukte soos droë bestanddele aan studente via die koshuishoofde, asook die verspreiding van kospakkies. Spysenieringsdienste het ook produkte in die koshuiskombuise aan studente vir gebruik beskikbaar gestel. Verder is studente ook van kooktoerusting voorsien wat op spesifieke plekke in koshuise aangebring is.

Op die Tygerberg-kampus word studente wat uitdagings met voedselsekerheid ondervind, deur die TygerMaties-klusterkantoor ondersteun. Ondersteuning sluit voedselbewyse om basiese produkte aan te koop en/of n kruideniersopsie deur die Universiteit se verskaffers in. Die kantoor van die Vise-dekaan vir Sosiale Impak en Kliniese Opleiding het ook studente deur middel van die bestaande spensprojek en verskeie ander skenkings bygestaan. Bykomend tot die US se ondersteuning, is die Universiteit dankbaar vir die skenking van kospakkies wat van verskeie geloofs- en gemeenskapsorganisasies ontvang is.

Met die implementering van die vlak 4-inperking, is die verskaffing van etes deur voedseldiensverskaffers die oggend van Maandag, 11 Mei 2020 hervat. Dit stel studente in staat om hul etes op die FBS-stelsel te bespreek. Die voedseldiensverskaffers sal uit 'n beperkte aantal kombuise op kampusse funksioneer. Volgens die vlak 4-regulasies word geen toue of aansitetes in eetsale toegelaat nie. Daarom word etes by studente in hul verskeie koshuise en US-huise, insluitende die Luister, Leer en Leef-verblyf, afgelewer.

WhatsApp-groepe is ook gestig sodat studente met die Sentrum vir Studentegemeenskappe en die SSVO onderskeidelik in aanraking kan bly.

Meesters- en PhD-kandidate  

'n Buitengewone reëling is vir meesters- en PhD-kandidate getref wat op koers was om in Desember 2020 of Maart 2021 te gradueer, maar wat tyd verloor het weens die COVID-19-tydperk van algehele inperking (omdat hulle byvoorbeeld nie toegang tot primêre of sekondêre bronne kon kry nie).

'n Spesiale sperdatum van 1 Maart 2021 is vir indienings goedgekeur. Kandidate wat hierdie opsie kies, sal ná konsultasie met hul promotors vir die 2021-akademiese jaar moet herregistreer, maar sal nie klasgelde vir die graad wat in 2021 geëksamineer sal word, hoef te betaal nie. Hierdie kwytskelding sal slegs vir kandidate wat hul tesisse of proefskrifte teen 21 Maart 2021 indien en vir die toepaslike graad geld. Enige uitstaande gelde vir 2020 sal steeds betaalbaar wees. Lees al die jongste skrywes hieroor by die volgende skakels.

 

Internasionale studente

Ons verleen deur middel van die US Internasionaal-kantoor bystand aan internasionale studente op kampus en studente wat tans deel is van buitelandse studieprogramme. Die kantoor verleen reeds van voor die aanvang van die nasionale tydperk van algehele inperking bystand aan internasionale studente en het logistieke ondersteuning ingesluit om studente te help om na hul onderskeie lande terug te keer.

Ons is aanraking met studente wat oorsee is en het aanlyn-aanmeldsessies as 'n ondersteuningsmeganisme ingestel. Ons is ook in aanraking met gasheer-instellings en verskaf aan studente toepaslike inligting oor reisbeperkings en hulp om na Suid-Afrika terug te keer. Sedert die begin van die algehele inperking werk ons nou saam met die International Education Association of South Africa (IEASA) en regeringsverteenwoordigers om die studente by te staan.

Die US se eerste virtuele toekenning van kwalifikasies  

Die Registrateur se afdeling en die Afdeling Korporatiewe Kommunikasie het kragte saamgesnoer om die Universiteit se heel eerste virtuele toekenning van kwalifikasies in absentia deur die US se nuwe Kanselier, regter Edwin Cameron, vir ons Maart/April 2020-graduandi op Vrydag, 3 April aan te bied. Klik hier om na die kort video te kyk.

Fondsinsameling om US-studente te help: #Move4Food

Ons gaan ons ondersteuning vir ons #Move4Food-veldtog wat deur ons studente gelei word, uitbrei om hongersnood onder studente te bekamp. Baie Suid-Afrikaners, insluitende van ons US-studente, leef met die werklikheid saam dat hulle nie weet waar die volgende ete vandaan gaan kom nie. Die bleek werklikheid is dat daar oor die algemeen 'n gebrek aan toegang tot bekostigbare en voedende voedsel op Suid-Afrikaanse kampusse is en die US is geen uitsondering nie. Alumni, vriende, skenkers en borge se ondersteuning van die #Move4Food-veldtog raak nie net ons studente se alledaagse lewe nie; dit is ook 'n kragtige en voorbeeldige bewys van hul toegewydheid aan die transformering van jongmense se lewens. Klik hier om by te dra.