Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe webwerf vir US Regsdienste
Outeur: Corporate Communication/Korporatiewe Kommunikasie [Rozanne Engel]
Gepubliseer: 09/04/2020

Die Universiteit Stellenbosch se Regsdienste spog met ’n splinternuwe webblad.  

Volgens Gerhard Lipp, Senior Direkteur: Regsdienste, was die vorige webblad “verouderd” en was dit tyd om dit te verfris om die beduidende veranderinge en ontwikkelinge wat die afgelope paar jaar plaasgevind het, maar nie op die ou webblad sigbaar was nie, uit te dra.

“Rolle en verantwoordelikhede is binne die span bygevoeg en uitgebrei. Dit was tyd om ’n vars perspektief op Regsdienste te bied en om weer die Universiteitsgemeenskap se aandag te vestig op die dienste wat ons bied,” sê Lipp.

Regsdienste maak deel uit van die Registrateursafdeling en bied regsadvies en ondersteuning aan studente (in beperkte omstandighede), personeel en die bestuur van die Universiteit Stellenbosch, met die uitsondering van die Afdelings Menslike Hulpbronne, Innovus en Navorsingsontwikkeling, wat hul eie regspanne het.

Die nuwe webblad is daarop gemik om duidelikheid oor die rolle en verantwoordelikhede van die Regsdienstespan, kontakbesonderhede en basiese inligting en dokumentasie te verskaf.

Lipp sê die webblad en vestiging van die webblad gaan met die verloop van tyd verder ontwikkel word en hulle hoop om die webblad voortdurend by te werk om dokumente en inligting vir die relevante belanghebbers toeganklik te maak. 

Van die belangrike bygewerkte en nuwe inligting en dokumente op die webblad sluit handige dokumente wat deur belanghebbers vir hul gerief gebruik kan word, dissiplinêre kodes vir studente en ’n video, ’n skedule van die dissiplinêre uitkomste vir studente en prosesvereistes vir die nagaan en ondertekening van handelskontrakte.

Die nuwe webblad is toeganklik vir enige student of personeellid van die Universiteit Stellenbosch. Sekere dokumente is beveilig en indien studente of personeel toegang tot dit benodig, kan hulle toegang versoek deur eenvoudig net die stappe wat op die skerm verskyn, te volg.

Besoek die nuwe webblad hier: http://www.sun.ac.za/afrikaans/legal/Pages/default.aspx