Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Studente-administrasie en -dienste in die konteks van COVID-19
Outeur: Dr Ronel Retief: Registrateur/Registrar ​
Gepubliseer: 07/04/2020

​Beste student

Ten einde te verseker dat ons ʼn professionele en kliëntgesentreerde diens aan studente en ander belanghebbendes tydens die nasionale inperking lewer, is al ons professionele en steunpersoneel wat direk met studente werk, ingerig om van die huis af te werk.

Ons het ʼn gedetailleerde lys opgestel van al die kontakbesonderhede van personeellede wat hulp met sake rakende studente-administrasie kan verleen. Die lys is beskikbaar op die Universiteit Stellenbosch se toegewyde COVID-19-webblad, waar die jongste nuus vir studente en personeel gereeld geplaas word. Klik hier vir toegang tot meer inligting oor die kommunikasie- en dienskanale wat in hierdie tydperk beskikbaar is vir studente.

Gegewe die unieke omstandighede waarin die Universiteit en studentegemeenskap hulself tydens die COVID-19-pandemie bevind, is die volgende reëlings ook getref:

Registrasie

Die sluitingsdatum vir registrasie is verleng tot 30 April 2020 vir alle studente, mits studente wat nog steeds nie geregistreer het nie, akademies aktief was sedert die begin van die akademiese jaar en skriftelike toestemming van die betrokke akademiese departement (in die geval van voorgraadse studente) of studieleier (in die geval van nagraadse studente) het om hul studies in 2020 voort te sit.

Versoeke om registrasie wat ná 30 April ontvang word, sal per geval hanteer word, met inagneming van die omstandighede wat verband hou met die COVID-19-pandemie en op grond van ondersteunende dokumentasie.

Staking van studies

Die sluitingsdatum vir alle studente wat aansoek doen om hul studies sonder finansiële boete te staak, is tot 30 April 2020 verleng. Die reëls rakende die staking van studies is in die US Algemene Jaarboek (Deel 1), bl. 113 en die US Studentegelde-jaarboek (Deel 3), bl. 50 gepubliseer. Benewens die oorwegings wat reeds in die US Algemene Jaarboek (Deel 1) vervat is, sal omstandighede wat direk verband hou met die COVID-19-pandemie en waarvoor daar voldoende bewys is, ook in ag geneem word as redes vir goedkeuring van staking van studies sonder finansiële boete.

Versoeke om staking van studies moet by die betrokke fakulteitsadministrateur ingedien word. Láát versoeke om staking sal per geval hanteer word in oorleg met die betrokke fakulteit.

Internasionale elektiewe studente en sg. 'free-movers' (internasionale studente wat inskryf vir 1 tot 2 semesters vir niegraaddoeleindes) moet direk met Universiteit Stellenbosch Internasionaal (vir studente op die Stellenbosch-kampus) en die Tygerberg Internasionale Kantoor (vir studente van die Fakulteit Geneeskunde en Gesondheidswetenskappe op die Tygerberg-kampus) skakel rakende staking van studies. Besluite om boetes kwyt te skeld sal in oorleg met Studentegelde geneem word.

Onderbreking van nagraadse (magister- en doktorale) studies

Die sluitingsdatum vir aansoeke om onderbreking van nagraadse studies is steeds 30 April 2020. Reëls rakende die onderbreking van studies is in die US Algemene Jaarboek (Deel 1), bl. 176–177 gepubliseer. Benewens die oorwegings wat reeds in die US Algemene Jaarboek (Deel 1) vervat is, sal omstandighede wat direk veband hou met die COVID-19-pandemie en waarvoor daar voldoende bewys is, ook in ag geneem word as redes vir goedkeuring van die onderbreking van studies sonder finansiële boete.

Aansoeke om onderbreking van studies wat ná 30 April 2020 ontvang is en verband hou met oorwegings rakende COVID-19, kan deur fakulteite oorweeg word en moet deur die toepaslike beheerstrukture van die Universiteit goedgekeur word.

Studente moet ʼn versoek om onderbreking van studies en die nodige ondersteunende dokumentasie by die betrokke fakulteitsadministrateur/akademiese departement/studieleier indien, wat die versoek ingevolge die bestaande fakulteitspesifieke en institusionele werkswyses sal hanteer.

Studente met beurse of borgskappe word daaraan herinner om die implikasies van onderbreking van studies, met betrekking tot die voortsetting van befondsing met hervatting van hul studies, met hul studieleier/befondser/borg te bespreek.

Impak van COVID-19 op die uitreiking van akademiese dokumente

Weens die feit dat ons personeel van die huis af werk, kan ons tans nie enige elektroniese of “harde kopie"- akademiese dokumente verskaf nie, wat die volgende insluit:
· Graadsertifikate
· Akademiese rekords
· Bewys van registrasie
· Sertifikaat van Goeie Gedrag.

Indien ʼn verklaring dat jy jou kwalifikasie verwerf het, voldoende sal wees vir jou doeleindes, kan jy jou versoek per e-pos na jou fakulteitsadministrateur of -beampte ​stuur.

Indien jy ʼn duplikaatdokument(e) – akademiese rekord en/of sertifikaat – bykomend tot die oorspronklike dokument(e) bestel het, kan jy ʼn terugbetaling versoek.

Terugbetalingsversoeke kan na studentaccounts@sun.ac.za gestuur word, tesame met bewys van betaling van die toepaslike bedrag en die voltooide bankbesonderhedevorm. Alternatiewelik sal die bestelde duplikaatdokument(e) uitgereik word wanneer die Universiteit weer heropen.

Stuur gerus ʼn e-pos na info@sun.ac.za vir hulp met jou navrae.

Alle institusionele kommunikasie rakende die Universiteit se reaksie op die COVID-19-pandemie kan hier gevind word.

Alhoewel ons onsself in uiters moeilike omstandighede bevind, voel ons bemoedig deur jou begrip en positiewe ingesteldheid. Die situasie is vloeibaar, en ons sal jou met tydige en gereelde kommunikasie ingelig hou oor enige nuwe ontwikkelinge.

Vriendelike groete

Dr Ronel Retief
Registrateur