Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Nuwe reëlings: Uitreiking van gradeplegtigheid-dokumente
Outeur: Dr Ronel Retief: Registrar/ Dr Ronel Retief: Registrateur
Gepubliseer: 20/03/2020

20 Maart 2020

Beste Graduandus

Nuwe reëlings vir die uitreiking van gradeplegtigheid-dokumente

Met verwysing na ons vorige kommunikasie, onderskeidelik gedateer 13 Maart 2020 en 16 Maart 2020, wil ons graag graduandi op hoogte bring van die jongste reëlings rondom die uitreiking van gradeplegtigheid-dokumente.

Alle kwalifiserende Maart/April 2020-graduandi sal hul kwalifikasies in absentia ontvang, maar indien toestande rakende COVID-19 dit toelaat, sal hulle die opsie hê om die Desember 2020-gradeplegtighede by te woon vir die seremoniële stap oor die verhoog. Daar is ook verder besluit om alle gradeplegtigheid-dokumente per geregistreerde pos te stuur as ’n bykomende voorsorgmaatreël en om die risiko van die verspreiding van die virus verder te verminder.

Let asb dus daarop dat die afhaal van sertifikate en uitslae nie meer by die lokaal en op die tye wat voorheen gekommunikeer is, sal plaasvind nie.

Graduandi word vriendelik herinner om hul posadres te voltooi en op te dateer (indien jy dit nog nie gedoen het nie) deur die absentia-vorm to voltooi. Die skakel sal tot Dinsdag, 24 Maart 2020 om 12:00 aktief bly.

COVID-19 het ’n ontsettende uitwerking op die wêreld, die land en ons Universiteit. Dit is elkeen se plig om ’n bydrae te lewer om te verseker dat die verspreiding van die virus beperk word. Namate hierdie ongekende situasie sy loop neem, bly die veiligheid van personeel en studente ons grootste belang. Ons vra opreg om verskoning vir enige ongerief wat hierdie besluit mag veroorsaak en maak staat op jul begrip en ondersteuning in hierdie moeilike tyd vir ons almal.
 
Vriendelike groete
 
Dr Ronel Retief
Registrateur