Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Maart/April 2020-gradeplegtighede en verdere reëlings​
Outeur: Dr Ronel Retief: Registrar/ Dr Ronel Retief: Registrateur
Gepubliseer: 16/03/2020

 16 Maart 2020

Maart/April 2020-gradeplegtighede en verdere reëlings

Beste Graduandus

Soos op 13 Maart 2020 aangekondig is, moes die Universiteit Stellenbosch ongelukkig sy Maart/April 2020-gradeplegtighede afstel as 'n voorkomende maatreël teen 'n moontlike plaaslike uitbreking van die coronavirus (COVID-19). Klik asb hier vir die aanvanklike aankondiging.

 
In die lig van die bogenoemde kommunikasie wil ons nou graag sekere sake uitklaar en verdere inligting oor die Maart/April-gradeplegtigheid en die pad vorentoe verskaf.
 
Gradeplegtigheid-dokumentasie (sertifikate en uitslae)
Alle kwalifiserende Maart/April 2020-graduandi sal hul kwalifikasies in absentia ontvang. Hierdie besluit is geneem om die US in staat te stel om jou gradeplegtigheid-dokumentasie aan jou beskikbaar te stel, aangesien ons besef dat jy dit vir beroepsgeleenthede of verdere studie mag benodig.
 
Geregistreerde pos
Ons moedig alle graduandi aan om te kies om jou gradeplegtigheid-dokumentasie per geregistreerde pos te ontvang, maar jy het ook die opsie om jou dokumente persoonlik op kampus te kom afhaal.
 
Ongeag die opsie wat jy kies, versoek ons jou vriendelik om ons in kennis te stel oor hoe jy jou gradeplegtigheid-dokumente wil ontvang deur die abesentia-vorm wat vanaf Dinsdag 17 Maart aanlyn beskikbaar sal wees, te voltooi. Let asb daarop dat daar van jou verwag sal word om jou posadres te bevestig.
 
Graduandi word vriendelik versoek om hierdie vorm teen Vrydag, 20 Maart 2020 te voltooi. Indien ons teen bogenoemde datum nog geen antwoord van jou ontvang het nie, sal jou dokumente gehou word om dit persoonlike te kom afhaal.
 
Afhaal van gradeplegtigheid-dokumentasie
Studente sal gedurende die week van 30 Maart tot 2 April 2020 hul sertifikate en akademiese rekords kan kom afhaal. Neem asb kennis dit is net op Maart/April 2020-graduandi van toepassing. Sien asb hieronder die inligting rakende verspreiding gedurende hierdie tydperk. 
 
Datum: Maandag, 30 Maart tot Donderdag, 2 April 2020
Tyd: 08:30–16:00
Plek: Die Danssaal, Sportwetenskappe-gebou, Coetzenburg
 
Graduandi wat eers na afloop van hierdie tydperk hul gradeplegtigheid-dokumente kan kom haal, sal dit by die Eksamenkantoor in die Admin A-gebou kan afhaal.

Gradeplegtigheidfoto's 
Graduandi sal die geleentheid kry om gradeplegtigheidfoto's te laat neem. Graduandi kan die Universiteit se amptelike fotograwe – tans Stellenbosch Centre for Photographic Services (SCPS) – skakel vir 'n afspraak om gradefoto's te laat neem.
 
Kontakbesonderhede
Sel: 083 492 7616
Tel: 021 808 3073 / 9260
E-pos: pacj@sun.ac.za OR orders@scpsphoto.com
Webwerf: www.scpsphoto.co.za
Besprekings: (08:00–16:30)
Universiteit Stellenbosch, Admin A, kamer 1013, Ryneveldstraat
 
Seremoniële toekenning van grade in Desember
Die Rektoraat het besluit om aan Maart/April-graduandi die keuse te bied om die Desember 2020-gradeplegtighede by te woon vir die seremoniële stap oor die verhoog. Dit sal moontlik wees indien die aantal gradeplegtighede van twee tot drie per dag vermeerder word en daar weggedoen word met die voorlesing van doktorale opsommings en ander toesprake by dié geleenthede. Ons sal mettertyd met graduandi hieroor kommunikeer.
 
Let asb daarop dat bogenoemde reëlings sal afhang van die heersende situasie en dit sal ook onderhewig wees aan die goedkeuring deur die toepaslike owerhede. Soos ons reeds gesien het, kan omstandighede baie vinnig verander, wat aanpasbaarheid en vinnige reaksie noodsaak. Ons hou die situasie fyn dop en sal inligting bekendmaak soos dit beskikbaar word. Besoek asb. die gradeplegtigheid-webblad gereeld vir bygewerkte inligting.
 
Ek wil dit weer eens beklemtoon dat die besluit om die Maart/April-gradeplegtighede af te stel, nie ligtelik geneem is nie. Ons is maar al te bewus van die beduidende impak wat hierdie besluite op julle as graduandi en jul families sou kon hê. Die Universiteit beskou dit egter as die mees verantwoordelike roete onder die huidige omstandighede, aangesien dit 'n aansienlike risiko inhou wanneer 20 000 tot 24 000 mense wat vanuit alle uithoeke na Stellenbosch reis vir die gradeplegtighede.
 
Baie maatskappye (lugrederye, hotelle, ens) het die afgelope paar weke hul kansellasiebeleid aangepas in reaksie op die veranderende aard van die COVID-19-uitbreking en die feit dat dit deur die Wêreldgesondheidsorganisasie as 'n wêreldwye pandemie verklaar is. Graduandi word aangeraai om diensverskaffers so gou as moontlik direk te skakel en om hierdie skrywe as bewys van kansellasie van reisreëlings weens die uitbreking van die coronavirus aan hulle te verskaf.
 
Jul begrip en samewerking in hierdie moeilike tyd word opreg waardeer.
  
Vriendelike groete
 Dr Ronel Retief
Registrateur ​