Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Gradeweek in Maart/April 2020 as voorsorg afgestel
Outeur: Dr Ronel Retief: Registrar/ Dr Ronel Retief: Registrateur
Gepubliseer: 13/03/2020

​Die Universiteit Stellenbosch (US) het 'n maand gelede ’n Gebeurlikheidskomitee saamgestel om die instelling se gereedheid vir 'n moontlike plaaslike coronavirus-uitbreking (COVID-19) te koördineer. Op Woensdag 11 Maart 2020 het die Wêreldgesondheidsorganisasie (WHO) dié uitbreking as 'n wêreldwye pandemie verklaar.

Gegrond op hierdie verklaring, aanbevelings van die Gebeurlikheidskomitee en die beste beskikbare inligting van die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes (Nios) is daar besluit om die gradeplegtighede in die week van 31 Maart tot 3 April 2020 af te stel. Hierdie besluit, wat nie ligtelik geneem is nie, sal die risiko's verbonde aan groot byeenkomste en moontlike blootstelling aan individue wat internasionaal gereis het, uitskakel.

Ons besef hoe belangrik gradeplegtighede in die lewens van ons studente, ouers, familie en vriende is en dit is jammer dat ons nou in hierdie situasie geplaas word. Die Wêreldgesondheidsorganisasie het beklemtoon dat die pandemie 'n globale, maar ook 'n “individuele” verantwoordelikheid is, met verwysing na regerings, maatskappye, instellings, organisasies en alle landsburgers.

Alle graduandi sal hul kwalifikasies in absentia ontvang en sertifikate en akademiese rekords sal in April 2020 aan jou beskikbaar gestel word. Kommunikasie in dié verband sal binne die volgende week aan graduandi gestuur word. Hou asseblief ook die gradeplegtigheid-webblad vanaf 24 Maart 2020 dop vir inligting oor die relevante logistieke reëlings.

Dit was 'n baie moeilike besluit, maar die Universiteit beskou dit as die mees verantwoordelike plan van aksie. Ons waardeer jou ondersteuning en begrip vir hierdie besluit wat in jou beste belang geneem is.