Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
Dekaan Ingrid Woolard ontmoet alumni in Luxemburg
Outeur: Ronél Beukes
Gepubliseer: 16/07/2019

Prof Ingrid Woolard, dekaan van die US Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe, het onlangs 'n praatjie gehou by 'n Matie-netwerkgeleentheid in Luxemburg.

Die 2 Julie-funksie is deur die Alumni-kantoor georganiseer en deur sowat 25 oud-Maties bygewoon. Die meeste van hulle was graduandi van die Fakulteit Ekonomiese en Bestuurswetenskappe wat in die finansiële dienstesektor in Luxemburgstad werk.

Die lesing oor Die belastingstelsel en die herverdeling van inkomste en welvaart in Suid-Afrika is baie goed ontvang. Dit is gevolg deur 'n robuuste bespreking oor die geleenthede en uitdagings wat Suid-Afrika in die gesig staar terwyl die land na ˈn sterker en meer inklusiewe ekonomiese groei streef, wat terselfdertyd die grondslag moet vorm vir 'n nuwe ontwikkelingsrigting.

Een van die deelnemers, mnr Hendri Bruwer (HonsBRek, 2014) se kommentaar was: “Prof Woolard se besoek is só 'n voorreg – elkeen met wie ek gesels het, het die boeiende lesing terdeë geniet."

Volgens prof Woolard was dit ˈn wonderlike aand. “Ek het nie besef dat soveel van ons graduandi na die klein prinsdom van Luxemburg migreer het nie, en die opkoms was uitstekend. Die deelnemers het baie belanggestel in nuus van hul alma mater, en is duidelik steeds daartoe verbind om tot ˈn florerende US by te dra."

Na afloop van die formaliteite was daar ˈn netwerkgeleentheid en alumni het dit benut om met ou vriende te herenig en nuwe bande met mede-alumni te smee. Suid-Afrikaanse wyn het beslis tot die sukses van die geleentheid bygedra en mense het tot ná 23:00 gesels.IngridWoolard&LuxemburgAlumnus_small.jpg

  • Opregte dank aan Alison April, die US Direkteur vir Ontwikkeling en Alumni-verhoudings in die Benelux-lande, wat die funksie georganiseer het, en aan Johan Schreuder (op die foto regs) en Hendri Bruwer van Investec Batebestuur se Luxemburgkantoor, wat die funksie aangebied het.
  • Hooffoto: Prof Ingrid Woolard (in die middel met 'n bloes met swart-en-wit-strepe) is hier saam met oud-Maties wat die netwerkgeleentheid in Luxemburg bygewoon het.