Universiteit Stellenbosch
Welkom by Universiteit Stellenbosch
US dosent open Finse kongres
Outeur: Riaan Rudman & Ronél Beukes
Gepubliseer: 10/07/2019

​Prof Riaan Rudman, dosent in Ouditkunde by die Skool vir Rekeningkunde, het onlangs die Finse Nasionale Biblioteekkongres in Helsinki, Finland geopen.

Dié Junie-konferensie en handelskou, wat deur die Finse Biblioteekvereniging aangebied is, is een van die grootste professionele biblioteekbyeenkomste in Finland. Sowat 700 bibliotekarisse, besluitnemers en belanghebbendes het dit bygewoon.

Volgens prof Rudman beskou hy as 'n geoktrooieerde rekenmeester die versoek om by 'n biblioteekkonferensie op te tree, as 'n eer. “Ek was boonop een van net twee Engelssprekende aanbieders."

Nadat die Finse parlementslid Silvia Modig gepraat het, het prof Rudman sy lesing oor die veranderings in 'n wisselvallige, onseker, komplekse en dubbelsinnige wêreld gelewer. Hy het ook na die aanlyn- gebruikerservaring van biblioteke verwys.

Ander onderwerpe het die volgende ingesluit: kunsmatige intelligensie, groot data, asook gedagtes oor hoe die biblioteek van die toekoms in wisselwerking met “masjiene" sal lyk.

Terwyl hy in Helsinki was, het prof Rudman voorts 'n gaslesing oor sosiale media-risiko's by die Universiteit van Helsinki aangebied. Die gehoor het bestaan uit akademiese navorsers.

  • Prof Rudman is die programleier van die meestersprogram in rekenaarouditering by die Skool vir Rekeningkunde. Vir verdere inligting oor die program, kliek hier.

  • Foto: By prof Riaan Rudman (ver regs) is (v.l.n.r.) prof Kimmo Tuominen van die Helsinki Universiteitsbiblioteek; me Loida Garcia-Febo van die Amerikaanse Biblioteekvereniging; en me Pälvi Kaiponen van die Finse Navorsingsbiblioteekvereniging en die Helsinki Universiteitsbiblioteek.